Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Meerlinge neem toe oor meer ouers dié hulp kry
Heinricha en Roddy Hodgson onlangs met hul tienjarige drieling, Ethan (links), Kerryn en Declan.
Hulle het gesukkel om te suig en langer as ’n uur aan 55 ml gedrink. Ek het 24 bottels per dag gemaak.
Heinricha Hodgson

Al hoe meer twee- en drielinge word gebore terwyl mense toenemend vir vrugbaarheidsbehandeling gaan omdat hulle weens leefstylfaktore sukkel om swanger te raak.

Volgens dr. Welma Lubbe, kundige in verloskunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is dié verskynsel duidelik sigbaar in die verloskunde-praktyk.

Lang werkure, hoë spanningsvlakke, rook, dwelms, alkohol en ’n swak dieet is van die leefstylfaktore wat paartjies noop om hulp te kry.

’n Lae spermtelling by mans en min geleentheid vir seksuele interaksie weens ’n druk program, benadeel vrugbaarheid ook, sê Lubbe.

Omgewingsfaktore soos besoedelde water, hormone, minerale in water en lood in verf, kan vrugbaarheid boonop verder belemmer. Gesondheidsprobleme, onder meer diabetes en ginekologiese probleme, speel ook ’n rol. Baie van dié faktore is aan leefstyl gekoppel.

Die gevolge van vrugbaarheidsbehandeling het Heinricha Hodgson, ’n Potchefstroomse prokureur, en Roddy, haar sakeman-eggenoot, tien jaar gelede getref.

Ná vrugbaarheidsbehandeling het hulle gehoor hulle verwag ’n drieling.

“Aanvanklik was dit ’n skok, maar ons was van die begin af positief,” vertel Hodgson.

Sy was fisiek toenemend ongemaklik soos die babas gegroei het.

“Snags moes ek regop slaap en het gesukkel om asem te kry. Ek moes op 20 weke ophou werk en gaan lê. Dit het my praktyk skade berokken.”

Die ondersteuning van vriende en familie was vir haar goud werd.

“Op my ooievaarstee het ons ’n bakkie vol babagoed gekry,” vertel Hodgson.

Ethan, Declan en Kerryn is op 33 weke met ’n keisersnee gebore. Kerryn was op 1,64 kg die kleinste, en Ethan die grootste op 2,08 kg.

Hulle kon ná drie weke huis toe gaan.

Die eerste twee jaar was die besigste, vertel Hodgson. Sonder die hulp van ’n nagverpleegster, twee huishulpe en oumas en oupas, sou hulle gesukkel het om die kleingoed groot te kry, sê Hodgson.

“Hulle het gesukkel om te suig en langer as ’n uur aan 55 ml gedrink. Ek het 24 bottels per dag gemaak.”

Vandag sou die Hodgsons egter niks anders wou gehad het nie.

“Ons geniet die kinders en hul humor verskriklik,” vertel ma Heinricha.

“Hulle het ’n baie sterk band. Soms baklei hulle, maar hulle is ook groot maats. Die nadeel is dat almal gelyk met huiswerk en toesprake gehelp moet word. Twee seuns saam is ook baie stouter as een alleen!”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.