Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Regte sorg skakel genadedood uit’
Ondraaglike lyding kan só vermy word
Johann Beukes

Ondraaglike pyn word dikwels as rede vir genadedood aangevoer, maar kenners sê met voldoende palliatiewe sorg kan mense gemaklik en waardig natuurlik sterf.

Mediese en regskenners het Vrydag in Johannesburg aan ’n debat oor genadedood op die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) se jaarlikse konferensie deelgeneem.

Die openbare debat oor genadedood het in April opgevlam toe Robin Stransham-Ford, ’n advokaat van Kaapstad, ’n hofgeding gewen het dat ’n dokter hom kon help sterf.

Beeld het verlede week berig oor Johann Beukes, ’n argitek en sakeman van Bloemfontein wat sy lewe in ’n kliniek in Zürich, Switserland, met die hulp van die organisasie Dignitas beëindig het.

Stransham-Ford het terminale kanker gehad en Beukes het aan ’n seldsame, pynlike siektetoestand gely wat die kraakbeen tussen sy gewrigte aangetas het.

Dr. Liz Gwyther, ’n senior lektor aan die Universiteit van Kaapstad en wêreldkenner van palliatiewe sorg, het gesê ’n mens hoef nie iemand se lewe te beëindig om hul lyding te beëindig nie. Met behoorlike palliatiewe sorg kan pasiënte aan die einde van hul lewe fisiek gemaklik, met waardigheid en volgens hul voorkeure sterf.

Die vrees vir ondraaglike pyn hoef nie mense na genadedood te dryf nie. Ongeveer 90% van kankerpyn kan doeltreffend beheer word, het sy gesê.

“Die keuse is nié ondraaglike pyn of genadedood nie.”

Die algemeenste redes hoekom mense genadedood versoek, is volgens haar hopeloosheid en depressie, nie erge pyn of die verlies aan waardigheid nie.

In die Amerikaanse deelstaat Oregon is 1 327 sterftes met die hulp van ’n dokter aangeteken sedert 1997, toe genadedood vir mense met terminale siektes gewettig is. Pyn is in net ’n kwart van hierdie gevalle gemeld as die rede hoekom genadedood versoek is. Die hoofrede was meestal die verlies van outonomie en waardigheid.

“Daarom word daar dikwels in die reg aangevoer dat doeltreffende palliatiewe sorg nie werklik dié kwessies gaan oplos nie,” het prof. Melodie Slabbert, ’n mediese regskenner en adjunk- uitvoerende dekaan van Unisa se regskollege, gesê.

Palliatiewe sorg is nie net bedoel om pyn te verlig nie, dit sluit ook die verligting van emosionele en geestelike lyding in, het prof. Ames Dhai, direkteur van die Steve Biko-sentrum vir bio-etiek van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se mediese fakulteit, gesê.

In Suid-Afrika is dit tans onwettig om ’n persoon doelbewus te help sterf en kan dit tot aanklagte van moord of strafbare manslag lei, volgens Slabbert.

“Indien ons genadedood sou wettig, sal ons ’n grens oorsteek en instem dit is aanvaarbaar om ’n ander mens dood te maak,” het Gwyther gesê. “Daar is ’n ware risiko dat genadedood behoorlike sorg in Suid-Afrika kan vervang.”

Plaaslike en internasionale mediese verenigings, soos die Raad op Gesondheidsberoepe en die Wêreld- mediese vereniging, beskou genadedood as oneties.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het gesê: “Ons ag lewe steeds as heilig en moet daarom alles moontlik doen om te verseker ons sorg vir ons pasiënte.”

Hy het ook die belang van palliatiewe sorg beklemtoon. “Ek wil ook nie enigiemand sien ly weens ondraaglike pyn nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.