Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
AfriForum-hoë se suster sterf aan Covid-19

Willie Spies, bekende Pretoriase prokureur, se suster is vroeg Saterdagoggend aan Covid-19 dood.

Spies het Mariechen Ebersöhn (56) op sy Facebook-blad beskryf as “ ’n opregte kind van die Here, kunstenaar, spysenier, onderwyser en versorger van formaat”.

Spies sê hy sal sy suster ook onthou as iemand met ’n “sagte gees en liefdevolle hart”.

Hy hoop deur oor sy suster se dood te praat, sal mense besef hoe gevaarlik Covid-19 is. “Al sterf net ’n betreklik klein persentasie mense daaraan, is dit steeds ’n werklikheid.”

Mariechen Ebersöhn, haar man, Attie, en hul twee kleindogters, Elizna (regs) en Mariechen jr., kort voordat die grendeltyd einde Maart begin het.

Spies is bekend om die regswerk wat hy vir AfriForum doen en as voorsitter van die radiostasie Pretoria FM. Ebersöhn is een van sy ses susters. Hul ouers (Willie sr. en Marie) is reeds oorlede.

“Mariechen se man, Attie, en twee volwasse seuns, Hannes en Willem, is diep bedroef,” het Spies Saterdag gesê.

Die Ebersöhns se oudste seun, Hannes, en sy vrou, Ina, se tweede dogtertjie is gebore net ná die staat van inperking begin het. Sy is na Mariechen vernoem.

Volgens Spies het Ebersöhn sowat twee weke gelede begin siek voel. Sy is einde Junie na haar huisdokter, wat haar aanvanklik vir griep behandel het. Toe haar toestand nie verbeter nie, is sy vir Covid-19 getoets. Die uitslag was positief.

Ebersöhn is dadelik in die Mediclinic-harthospitaal in Pretoria opgeneem.

“Sy het al die simptome gehad: ’n droë, pynlike hoes, seer keel en aanhoudende koorsaanvalle,” sê Spies. “Later het sy ook haar smaak- en reuksintuig verloor.”

Willie Spies by sy susters Mariechen Ebersöhn (links) en Reinette Greyling. Foto: Willie Spies/Facebook

Ebersöhn is aanvanklik in ’n gewone saal met suurstof en medikasie behandel. Haar toestand het egter teen verlede naweek in so ’n mate verswak dat sy in die waakeenheid opgeneem is.

“Teen Maandagnag moes sy verdoof en aan ’n ventilator gekoppel word,” vertel Spies.

Ebersöhn is vroeg Saterdagoggend dood nadat haar bloeddruk gedaal en haar hart gaan staan het.

Spies sê die familie was “om verstaanbare redes” nooit toegelaat om haar te besoek nie, maar het gereeld telefoniese kontak met haar gehad terwyl sy nog in ’n gewone saal was.

“Vandat sy in die waakeenheid opgeneem is, was die kontak baie beperk. Dit was vir ons almal baie erg. Een van ons susters (Marita Austin) is ’n nagmatrone in die harthospitaal en kon ons darem op die hoogte hou. ’n Verpleër in die waaksaal het ook ’n selfoon by Mariechen se oor gehou sodat Attie haar kon bel en moed inpraat.”

Mariechen Ebersöhn Foto: Willie Spies/Facebook

Ebersöhn was ’n onderwyser by die Pretoriaskool vir Serebraal Gestremdes. Spies sê sy was betreklik gesond vir haar ouderdom.

Geen begrafnisreëlings was nog teen Saterdagoggend getref nie.

Meer oor:  Willie Spies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.