Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘­Afrika se stille pandemie'

Toe die nuwe koronavirus Tanzanië middel April getref het, het pres. John Magufuli drie dae van nasionale gebed afgekondig om God se beskerming teen die plaag te vra.

Skaars ’n maand later het hy ’n oorwinning oor die siekte aangekondig en toeriste genooi om terug te keer.

In daardie tyd was die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) al bekommerd oor ’n feitlik algehele gebrek aan inligting oor die verspreiding van die virus in Tanzanië, wat 55 miljoen mense en een van swakste gesondheidstelsels in Oos-Afrika het.

Die gebrek aan betroubare data is ’n groot probleem in baie Afrikalande. Sommige regerings is traag om epidemies te erken of om hul verbrokkelende gesondheidstelsel aan die buitewêreld te toon. Ander lande kan eenvoudig nie belangrike toetse uitvoer nie omdat hulle aan armoede en konflik uitgelewer is.

Die deel van dié inligting is deurslaggewend om die pandemie in Afrika te bestry – enersyds om ’n reaksie te beplan en andersyds om skenkergeld te kry – het deskundiges in openbare gesondheidsorg gesê.

Soos sake nou staan, is dit onmoontlik om enigsins te bepaal hoe erg die oordrag van Covid-19 op die vasteland is.

Volgens die jongste beskikbare data het Afrika, met ’n bevolking van 1,3 miljard mense, meer as 493 000 bevestigde Covid-19-gevalle en 11 600 sterftes. Hierteenoor het Latyns-Amerika, met rofweg die helfte van die bevolking, 2,9 miljoen gevalle en 129 900 sterftes.

Die amptelike syfers laat dit lyk asof die siekte groot dele van Afrika nie raak nie, maar die werklike prentjie is beslis erger.

Geen data uitgereik

Samba Sow, die WGO se spesiale gesant vir Afrika, het al op 25 Mei gemaan oor ’n moontlike “stille pandemie” as toetsing nie voorkeur kry nie.

Teen 7 Julie is 4 200 toetse per miljoen inwoners gedoen, volgens ontledings van syfers van die Afrika-sentrums vir siektebeheer en voorkoming, ’n liggaam wat die Afrika-Unie in 2017 gestig het.

Die gemiddeldes was 7 650 in Asië en 74 255 in Europa.

Ons kan nie ’n land teen sy wil help nie.

Onderhoude wat met tientalle gesondheidswerkers, diplomate en plaaslike amptenare gedoen is, het op ’n gebrek aan betroubare toetsing in die meeste lande gedui. Boonop weerhou regerings syfers oor die pandemie, selfs al beteken dit hulle kan op dié manier nie toegang tot skenkings kry nie.

“Ons kan nie ’n land teen sy wil help nie,” het Michel Yao, hoof van noodoperasies van die WGO in Afrika, gesê.

Tanzanië het sy eerste Covid-19-geval op 16 Maart aangemeld.

Die volgende dag het die regering ’n taakspan saamgestel om die reaksie met internasionale vennote, ook die WGO, buitelandse ambassades, skenkers en steun-agentskappe te koördineer.

Die taakspan het daarna nooit weer met buitestanders vergader nie, het twee buitelandse amptenare met kennis van die situasie gesê. “Dit is baie duidelik dat die regering geen inligting oor die staat van Covid-19 in die land wil bekend maak nie,” het een van die amptenare wat uit vrees vir politieke leiers se teenkanting nie geïdentifiseer wou word nie, gesê.

Ummy Mwalimu, Tanzanië se minister van gesondheid, en Hassan Abbasi, die regeringswoordvoerder, het nie op enige navrae oor hul hantering van die krisis gereageer nie.

Abbasi het voorheen ontken dat inligting oor die pandemie in die land weerhou word.

‘Foutiewe toetse’

Tanzanië het sedert 8 Mei geen nasionale Covid-19-syfers gepubliseer nie. Die land het in daardie stadium 509 gevalle en 21 sterftes gehad.

’n Paar dae vroeër het Magufuli gesê die ingevoerde toetstoestelle is “foutief”. Op nasionale televisie het hy gesê hulle het ook “positiewe resultate van monsters vir ’n bok en ’n papaja” gekry.

Volgens drie e-pos-boodskappe wat van 8 tot 13 Mei gestuur is, het die WGO geglo daar is ’n ooreenkoms met die regering gesluit om hom te betrek by gesamentlike toesig-missies in die land. Die WGO-woordvoerder sê op die dag dat dit sou begin, is dit is alles sonder enige rede gekanselleer.

Skenkers het volgens twee diplomatieke bronne nagenoeg $40 miljoen beskikbaar gestel om Tanzanië te help om die Covid-19-virus te beveg.

Die land se gebrek aan betrokkenheid en weerhouding van inligting veroorsaak egter dat “miljoene dollars” nie toegeken word nie.

Teen middel Mei het die regering besluit om inperkings te verlig, ondanks dokters en diplomate se waarskuwings dat die uitbreking glad nie onder beheer is nie.

Die Amerikaanse ambassade het sy burgers op 13 Mei gewaarsku dat hospitale in die hoofstad, Dar es Salaam, “oorweldig” is, maar die Tanzaniese regering het dit toe ontken.

Tanzanië se buurlande is gefrustreerd omdat hy nie enige inligting bekend maak nie.

Hulle vrees dat alles wat hulle deur pynlike inperkingsmaatreëls bereik het, ongedaan gemaak kan word as Tanza­niërs oor die poreuse grens kom.

Die WGO het op 23 April ’n oproep met ministers van gesondheid in Afrika gereël om onder meer te praat oor die gebrek aan die deel van inligting, het Yao gesê. Hy wou nie sê wie teenwoordig was nie en Tanzanië het nie gereageer op ’n vraag of hy aan die gesprek deelgeneem het nie.

’n President sterf

Die VN-agentskap kan nie samewerking afdwing nie en moet versigtig wees in sy optrede in Afrika. Toe WGO-amptenare vroeg in April hul kommer uitgespreek het oor ’n gebrek aan maat­reëls om die virus in Burundi in toom te hou, is die WGO se hoofverteenwoordiger en drie ander kundiges op 12 Mei sonder ’n verduideliking uit die land geskop.

Burundi was een van die eerste Afrikalande wat sy grense in Maart gesluit het en dit het aanvanklik gelyk asof dit keer dat die virus so vinnig versprei.

Maar daar was ’n skerp toename in gevalle nadat byeenkomste in die aanloop tot die nasionale verkiesing op 20 Mei gehou is, het ’n gesondheidsorgverskaffer op voorwaarde van anonimiteit gesê.

Pres. Pierre Nkurunziza (55) van Burundi is vroeg in Junie dood. Hoewel die regering gesê het hy het weens ’n hartaanval gesterf, word bespiegel dat Covid-19 die rede was.

’n Lugambulansdiens het bevestig hulle het Nkurunziza se vrou, Denise Bucumi, op 21 Mei na Kenia gevlieg, maar wou nie berigte in Kenia se media bevestig dat sy behandeling vir die Covid-19-virus ondergaan het nie. ’n Familiewoordvoerder wou ook nie kommentaar lewer nie.

Evariste Ndayishimiye, Burundi se nuwe president, het maatreëls om die pandemie te beveg, belowe, insluitend massatoetsing in gebiede wat moontlike episentrums kan wees.

’n Ander Afrikaland wat nie op goeie voet met die WGO is nie, is Ekwatoriaal-Guinee. Die regering het die VN-agentskap in Mei daarvan beskuldig dat syfers van Covid-19-gevalle in die land oordryf word en het aangedring op die herroeping van sy verteenwoordiger.

Die WGO het gesê daar was ’n “misverstand oor data” en het ontken dat vals syfers verskaf is.

Mitoha Ondo’o Ayekaba, Ekwatoriaal-Guinee se adjunk-minister van gesondheid, het herhaaldelike versoeke om kommentaar op die dispuut geïgnoreer.

Die land het steeds periodieke opdaterings, wat aandui dat die getal bevestigde gevalle op 3 071 staan met 51 sterftes.

Ebola én Covid-19

Terwyl sommige lande nie hul inligting wil deel nie, sê ander hulle kan nie omdat hul gesondheidstelsels te gebrekkig is om enige grootskaalse toetsing, toesig of kontak-opsporing te doen.

“Selfs op die beste van tye is die insameling van data van hoë gehalte nie maklik nie,” het John Nkengasong, direkteur van die Afrika-liggaam vir data-insameling, gesê.

Selfs op die beste van tye is die insameling van data van hoë gehalte nie maklik nie.

Konflik, soos Islamitiese militante en etniese milisies wat in groot dele van Burkina Faso, Niger en Mali bedrywig is, maak dit vir regerings onmoontlik om ’n landwye prentjie te kry van die verspreiding van die siekte.

Soos in ander lande het ’n tekort aan toerusting daartoe gelei dat Burkina Faso Covid-19-toetse moes beperk tot diegene wat in kontak was met bevestigde gevalle en mense wat uit die buiteland in dié land aankom.

Dit beteken daar is baie min data oor plaaslike oordrag beskikbaar.

Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), ’n land met 85 miljoen mense wat reeds teen Ebola gestry het, het baie vinnig buitelandse vlugte gestaak en dele van die hoofstad, Kinshasa, gesluit toe die virus teen middel Maart toeslaan.

Dit het egter drie maande geduur voordat die regering daartoe in staat was om toetse buite Kinshasa te verwerk, het Steve Ahuka, ’n lid van die DRK se Covid-19-reaksiespan, gesê.

’n Gebrek aan laboratoriums, toerusting en personeel is as redes hiervoor aangevoer. In baie gebiede duur dit tot twee weke om uitslae te kry, het dokters gesê.

In die afwesigheid van uitgebreide toetsdata in ander wêrelddele, gebruik navorsers verskillende meetinstrumente om die voorkoms van die koronavirus te beoordeel. Dit sluit in ’n vergelyking van die getal sterftes oor ’n spesifieke tydperk vanjaar teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Selfs dit is egter in die grootste deel van Afrika nie moontlik nie omdat data van vorige jare nie bestaan nie.

Net agt lande – Algerië, Kaap Verde, Djiboeti, Egipte, Mauritius, Namibië, Seychelle en Suid-Afrika – hou volgens die VN voldoende inligting om so ’n vergelyking te kan doen.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.