Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Afrikaanse mense meer skepties oor inentings

Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners is baie minder gretig om ingeënt te word teen Covid-19 as mense met ander huistale.

29% van alle Suid-Afrikaners is huiwerig om ingeënt te word of het nog nie besluit nie, maar onder Afrikaanssprekendes skiet dié syfer op tot 42%.

k

Dit beteken steeds die meerderheid, 58%, van Afrikaanssprekendes wil ingeënt word, maar dis aansienlik minder as die 71% gemiddelde vir alle Suid-Afrikaners.

Respondente in die Wes-Kaap (42%) en Noord-Kaap (41%) was die huiwerigste om ingeënt te word. Dis ook provinsies waar die grootste huistaal Afrikaans is. In Gauteng en die Vrystaat is 28% van mense huiwerig.

71% van Suid-Afrikaners is seker of betreklik seker hulle wil ingeënt word. Foto ter illustrasie

Die syfer kom uit die vierde reeks studies vir die National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (Nids-Cram), wat Woensdag uitgereik is. Dis gegrond op landwye peilings onder meer as 7 000 Suid-Afrikaners. (Lees meer oor Nids-Cram hieronder.)

Mense is die volgende stelling gegee: “As ’n entstof vir Covid-19 beskikbaar is, sal ek dit kry.” Daarop kon hulle reageer met een van vyf opsies: Stem sterk saam; Stem effens saam; Weet nie; Verskil effens; Verskil sterk. 

55% van Suid-Afrikaners het sterk saamgestem dat hulle ingeënt sal word, en nog 16% het effens saamgestem (die totaal van 71% van mense wat bes moontlik inenting sal aanvaar). Net 16% het sterk verskil.

As die mense met sterk menings (55% vir, 16% teen) afgetrek word, beteken dit nagenoeg 29% het ’n mindere of meerdere mate van onsekerheid.

Volgens die navorsers is die aanvaarding van entstowwe hoër in Suid-Afrika as in die VSA en Frankryk, maar laer as in China, Brasilië en Brittanje.

Mense met onderliggende siektes, insluitend MIV/vigs, TB, long- en hartsiektes en diabetes, is meer geneig om gretig te wees vir ’n inenting.

Die navorsers sê wel dis kommerwekkend dat mense wat ernstig oorgewig is of hoë bloeddruk het, die uitsondering is onder ongesonde mense – hulle is minder gretig vir inentings.

Mense wat sosiale media as hul primêre bron van inligting aandui, was ook meer geneig om skepties te wees oor entstowwe.

Volgens ras, geslag

  • Swart Suid-Afrikaners (74%) was grootliks ten gunste van inentings, vergeleke met wit mense (65%) en bruin mense (58%).
  • 73% van mans wil ingeënt word, teenoor 69% van vroue.
  • 75% van mense met ’n tersiêre opvoeding steun inentings, teenoor 70% van mense wat net op laerskool was en 69% van mense wat op hoërskool was of skool voltooi het.

Waarom mense huiwerig is

Mense wat huiwerig was oor entstowwe is gevra waarom. Hulle kon meer as een antwoord gee, maar die meerderheid mense (84%) het slegs een antwoord gegee. Dié drie antwoorde het 70% van die antwoorde verteenwoordig:

  • 31% is bekommerd oor newe-effekte;
  • 21% glo nie dis doeltreffend nie; en
  • 18% vertrou nie entstowwe in die algemeen nie.

Net 8% van mense is bang dat hulle Covid-19 sal opdoen weens die entstof.

Hoe vergelyk dit met ander navorsing?

Die studie se 71% dui op die hoogste aanvaarding van inentings nóg onder Suid-Afrikaners.

Die Universiteit van Johannesburg en Menslike en Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het bevind 67% van Suid-Afrikaners wil ingeënt word en Ipsos en die Wêreld- Ekonomiese Forum 64%. Al drie die peilings is baie na aan mekaar gedoen, tussen Desember 2020 en Februarie 2021.

Meer oor Nids-Cram

Die Nids-Cram-navorsing is gedoen deur 38 akademici aan vyf plaaslike en twee internasionale universiteite, asook van staatsdepartemente en staatsinstellings soos die Mediese Navorsingsraad.

Die vierde golf navorsing bestaan uit 11 studies wat data uit ’n peiling onder meer as 7 000 Suid-Afrikaners ontleed.

Die eerste Nids-Cram-peiling het gehandel oor die tyd van Februarie tot April 2020, die tweede peiling is van Mei tot Junie 2020 gedoen, die derde van Julie tot September 2020. Die vierde peiling is in tussen Oktober 2020 en Januarie 2021 gedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.