Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Afval-terrein in Uitenhage ‘word ’n hool’

’n Stortingsterrein in Uitenhage het blykbaar te onveilig geword vir verbruikers om alleen te besoek.

Inwoners wat die Hillwacht-stortingsterrein in dié Oos-Kaapse dorp besoek, sê dit het ’n hool vir misdadigers geword, wat ’n ernstige veiligheidsrisiko inhou.

 Hillwacht-stortingsterrein
Rommel en tuinvullis lê byna oor die hele oppervlakte waar motors veronderstel is om te ry wanneer vullis in stortbakke by die Hillwacht-stortingsterrein afgelaai word. Foto: Verskaf
Mense is selfs te bang om met hul honde in die omgewing rond te loop, want dit is te onveilig.

Boonop is die stortingsterrein se stortbakke ook in Maart laas skoongemaak, voor die inperking begin het. Weens die oorvol stortbakke lê hope rommel, swartsakke en algemene tuinvullis tot bykans voor die ingangshek, wat geen omdraaiplek vir motors laat nie. Vullis word nou selfs voor die ingangshek neergegooi.

Volgens ’n inwoner, wat anoniem wil bly, het ’n groep van 15 mense, waarvan party messe en pangas in hul besit gehad het, op ’n onlangse besoek aan die stortingsterrein op sy bakkie toegesak om die swartsakke van die bak te verwyder. Hierna het die groep sy bakkie omsingel en op ’n fooitjie aangedring vir hul hulp.

Pat Unsworth van die Uitenhage-Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê inwoners wat naby die stortingsterrein langs Verwoerdrylaan woon, het onlangs aan haar gesê hulle leef in vrees.

“Mense is selfs te bang om met hul honde in die omgewing rond te loop, want dit is te onveilig. Die situasie is pateties.”

Mense het mekaar selfs op aanlyn buurtwag-groepe begin waarsku om nie die stortingsterrein alleen te besoek nie.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê die polisie is onlangs ’n paar keer na die stortingsterrein uitgeroep deur inwoners wat bedreig voel, maar geen sake is tot dusver aanhangig gemaak nie.

Die polisie hou wel bykomende patrollies in die gebied, sê Swart.

Weens die oorvol Hillwacht-stortingsterrein word swartsakke nou sommer voor die ingangshek van die stortingsterrein afgelaai. Foto: Verskaf

Pieter Terblanche, plaaslike wyksraadslid, het ook sy kommer oor die stand van sake by die stortingsterrein uitgespreek.

“Die toestand van die stortingsterrein en omliggende gebied is onaanvaarbaar en ’n gesondheidsrisiko,” meen hy.

Nog ’n bron van kommer is mense wat glo saans in die stortingsterrein woon en vuur maak om metaaldrade skoon te brand.

Volgens Terblanche is die brandweer reeds twee keer die afgelope twee weke na die stortingsterrein uitgeroep.

Hy het Woensdag die stortingsterrein saam met amptenare van die Nelson Mandelabaai-metro se afdeling vir afvalbestuur besoek, wat voorgeneem het om die gebied te begin opruim.

Die metro het ontvangs van navrae oor veiligheid en afvalbestuur vir dié stortingsterrein bevestig, maar nie Donderdag geantwoord nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.