Aktiewe koronavirusgevalle in KwaZulu-Natal het binne ’n dag met meer as 25 000 afgeneem.
Dinsdag het die aktiewe gevalle op 62 192 gestaan teenoor die vorige dag se 88 808 gevalle. Sondag was daar 87 302 gevalle en Saterdag 82 432.
Nomagugu Simelane-Zulu, LUR van gesondheid in KwaZulu-Natal, het Woensdag in ’n webinaar gesê ’n groot groep mense is op dieselfde tyd positief getoets, en die afname kan toegeskryf word aan daardie groep mense wat hul isolasietyd voltooi het.
Simelane-Zulu sê sy weet nie of die provinsie verby sy piek is nie, want dit is net inligting wat kenners kan gee.
Sy het ook gepraat oor die mites en fopnuus oor Covid-19 en entstowwe.
“Omdat daar so min oor Covid-19 bekend was, het mense kwesbaar geraak vir verwarrende nuus wat misleidend en dus uiters gevaarlik is.”
Sy het gesê die webinaar waarin sy praat is daarom regstreeks op Facebook uitgesaai sodat die publiek ingelig kan word en waaksaam kan wees vir fopnuus oor entstowwe en die virus.
“Ons verwerp die nuus dat 5 G-netwerke die virus deur bestraling veroorsaak. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het dit duidelik gemaak virusse kan nie op radiogolwe of mobiele netwerke beweeg nie. Die virus versprei deur respiratoriese druppels wanneer ’n besmette persoon hoes, nies of praat.
“Ons verwerp die mite oor die Beast-666-merk waarvolgens daar beweer die entstof het die merk van die dier daarin. Dit is nie waar nie. Entstowwe word gemaak om lewens te red. Daar is geen verband met ’n godsdienstige organisasie nie en kan nie met geeste ingespuit word nie,” het Simelane-Zulu gesê.
Dr Nokukhanya Msomi, kenner oor entstowwe, sê ’n entstof betree nie die mark onmiddellik nie.
“Dit gaan deur streng stappe en ontwikkeling om te verseker dat dit veilig is en behoorlik werk.”
Msomi sê vroeë toetsfases van die entstowwe toon dis veilig. “Daar is geen mikroskyfies nie en die entstof sal nie mense opspoor of inligting in ’n databasis plaas nie.”