Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Al 52 munisipale distrikte nou brandpunte – Mkhize

Al 52 munisipale distrikte in die land is nou brandpunte vir die koronavirus-pandemie.

So het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Maandagmiddag op ’n mediakonferensie in die Uniegebou in Pretoria gesê.

“Enigiemand wat getwyfel het oor die aggressie van die virus, moet nou wakker word en besef wat aangaan.

“Baie van ons het nou reeds vriende en familielede wat geraak word deur die pandemie.

“Dit is ’n nuwe, pynlike werklikheid dat die pandemie slegs gekeer kan word indien Suid-Afrikaners elkeen verantwoordelikheid neem en hul gedrag verander,” het die minister gesê.

Enigiemand wat getwyfel het oor die aggressie van die virus, moet nou wakker word en besef wat aangaan.

Wat Gauteng – tans die grootste koronavirus-brandpunt in die land – betref, het Mkhize gesê die koers waarteen mense in dié provinsie besmet word, het drasties verander.

“Aan die begin van Junie is sowat 230 mense per dag positief getoets vir die koronavirus. Tans is dit tussen 3 000 en 4 000 mense per dag.

“Daar sal meer hospitaalbeddens in Gauteng verkry moet word.”

Om dié rede word veldhospitale tans opgeknap.

Dié hospitale word toegerus met suurstoftoerusting wat ’n kritieke rol speel in die behandeling van Covid-19-pasiënte.

’n Nasionale taakspan is intussen saamgestel om seker te maak dat veldhospitale landwyd beter bestuur word.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Maandagmiddag op ’n mediakonferensie in die Uniegebou in Pretoria. Foto: GCSI

Nuwe riglyne word onder meer deur dié span opgestel oor hoe daar besluit word watter pasiënte in die veldhospitale na waakeenhede in hospitale verwys moet word.

Die minister sê daar is steeds landwyd kapasiteit vir beddens in waakeenhede.

Mkhize sê wetenskaplikes se voorspellings sal nie noodwendig presies so uitspeel nie.

“Die kruin kan dalk baie hoër wees. Daar is ’n optimistiese vlak en daar is ’n pessimistiese vlak. Dié vlakke sal beïnvloed word deur mense se gedrag.

“Indien die situasie nie behoorlik bestuur word nie, sal baie meer mense besmet word as wat voorsien is.

“Dit is waarom die besluit geneem is om weer ’n aandklokreël in te stel.”

Indien die situasie nie behoorlik bestuur word nie, sal baie meer mense besmet word as wat voorsien is. Dit is waarom die besluit geneem is om weer ’n aandklokreël in te stel.

Hy het ontken die regering het toegegee aan druk van die taxibedryf om sekere toegewings aan hom te maak.

Mkhize sê daar word nou gefokus op senior burgers met simptome.

Die oorspronklike plan om werkers uit te stuur om sifting in gemeenskappe te doen, werk nie, want nie almal wat deur ’n sifting uitgewys word, kan getoets word nie.

Hy sê daar was ’n redelik “robuuste gesprek” in die ministeriële adviesraad oor die besluit om alkohol opnuut te verbied.

Nie almal was ten gunste daarvan nie. Daar was wye konsultasie en die statistieke van traumagevalle wat verband hou met alkohol, was een van die kwessies wat oorweeg is.

Mkhize sê onder vlak 4 van die inperking, toe die verkoop van alkohol ook verbode was, was daar 40% tot 50% minder traumagevalle in hospitale.

“In die Wes-Kaap was daar voor die vorige drankverbod daagliks tussen 140 en 260 traumagevalle in vyf hospitale – George, Groote Schuur, Heideveld, Mitchell’s Plain en Tygerberg. Tydens die drankverbod was daar slegs gemiddeld 89 traumagevalle per dag by dié vyf hospitale gesamentlik.”

Die minister sê hoewel die pandemie tans die fokus is, is daar steeds mense met ander siektetoestande soos tuberkulose, MIV en kanker wat steeds behandeling moet ontvang.

“Daar is agt miljoen mense in Suid-Afrika wat MIV-positief is en vier miljoen mense met diabetes. Pasiënte met dié toestande moet steeds in hospitale behandel word, maar wat belangrik is, is dat mense wat ander siektes onder lede het, nie tussen dié met Covid-19 geplaas word nie.”

Toenemend meer mense van sowat 50 jaar en 60 jaar sterf aan Covid-19.

Mense met onderliggende toestande soos hoë bloeddruk en longsiektes moet versigtig wees.

“Toenemend meer mense van sowat 50 jaar en 60 jaar sterf aan Covid-19. Daar is nie inenting nie en daar is nog nie ’n kuur nie. Mense moet dít besef.”

‘Ons is ook in ’n storm van honger en armoede’

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het op dieselfde mediakonferensie gesê Suid-Afrika bevind hom tans nie net midde-in die oog van die koronaviruspandemie nie.

Hy is ook midde-in ’n storm van “honger en armoede wat al hoe groter word. Ons bevind ons nou in ’n storm waarin ons nooit gedink het ons sou beland nie.”

Die minister het gesê 7,5 miljoen aansoeke om toelaes is al deur haar departement ontvang.

Van die 7,5 miljoen aansoekers het 2,1 miljoen reeds ander hulptoelae ontvang. Altesame 4,4 miljoen was nuwe aansoekers.

Zulu sê 3,32 miljoen mense is teen 12 Julie betaal – dit is mense wat in Mei om toelaes aansoek gedoen het.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, Maandagmiddag op die mediakonferensie in die Uniegebou in Pretoria. Foto: GCSI

Sy sê daar is genoeg kos vir almal in Suid-Afrika. Die verspreiding van kos na dié mense wat dit nodig het, moet egter verbeter word.

“Daar sal voortaan gefokus word op die verspreiding van kos en hoe nouer saamgewerk kan word met nieregeringsorganisasies om hiermee te help.”

Volgens haar sal die toelae van R350 ook aan buitelanders betaal word wat op 15 Maart in die land geregistreer was.

Die buitelanders wat om hulp aansoek gedoen het, se verblyfpermitte word tans saam met die departement van binnelandse sake nagegaan om seker te maak daar is nie bedrog nie.

Die regering oorweeg dit om vol te hou met die R350-hulptoelae ná Oktober en dit nie volgens die oorspronklike plan net tot Oktober te betaal nie. Die gebrek aan geld beteken daar sal gekyk moet word na allerlei moontlike oplossings om werklose mense te help.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19  |  Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.