Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ál meer mense sterf tuis weens oorvol Bfn-hospitale

Bloemfontein het ’n enorme Covid-19-krisis met al hoe meer huisartse wat laat weet dat hul pasiënte tuis sterf omdat die suurstofmasjiene te min suurstof verskaf. Dit gebeur terwyl die hospitale tot barstens toe vol is.

Spesialiste is boonop in ’n emosionele stryd gewikkel om te besluit wie by die hospitale aan suurstofmasjiene gekoppel moet word en wie nie. Dikwels geniet jonger mense voorkeur.

Dr. Freek Bester Foto: Argief

Volgens dr. Freek Bester, Bloemfonteinse internis, word die Covid-19-stryd in die Rosestad net al hoe feller.

“Daar is nie genoeg beddens in die hoësorg- en waakeenhede in hospitale nie. Ons het Maandagoggend ’n enkele bed vir ’n manlike pasiënt gehad, maar dit is onmiddellik weer gevul,” sê Bester.

Hy sê in Gauteng was die situasie so erg dat mense die naweek buite hospitale in hul motors gelê het en aan suurstofmasjiene gekoppel is omdat die noodeenhede van die hospitale vol was.

“Die Unitas-hospitaal in Midrand is ’n voorbeeld hiervan.”

Volgens hom kan die suurstofmasjiene wat mense tuis gebruik ’n maksimum van 28% suurstof verskaf. Pasiënte wat hoëvloeitoediening nodig het, moet dit in hospitale ontvang, wat nou oorvol is. Daarom sterf mense tuis.

Dr. Cloete Jansen van Vuuren, Vrystaatse spesialis in oordraagbare siektes, sê “dit gaan rof”.

Dr. Cloete Jansen van Vuuren Foto: Argief

“ ’n Mens voel dit aan jou eie lyf as jy al hoe meer mense wat jy ken voor jou oë sien doodgaan.”

Jansen van Vuuren was ook die dokter van die bekende oudrugbyspeler Dougie Heymans, wat Maandagmiddag in die Bloemfontein Mediclinic aan Covid-19 dood is.

Jansen van Vuuren sê daar was die naweek nie ’n enkele Ecmo (hart-long-masjien) in Bloemfontein, Johannesburg of Pretoria beskikbaar waarheen Covid-19-pasiënte oorgeplaas kon word om hul lewe te probeer red nie.

“Ons sien baie siek mense en al wat mense nou moet doen, is om te verseker dat hulle nie die siekte kry nie. Volg die protokol. Diegene wat vir inenting in aanmerking kom, moet die geleentheid aangryp omdat al hoe meer mense in die komende jare aan Covid-19 gaan sterf.”

Jansen van Vuuren sê al hoe meer jonger mense begin ook nou sterf.

Die hospitale in Bloemfontein is stampvol en die hoësorgbeddens en suurstofmasjiene is nie genoeg nie.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê egter daar is nog ruim plek in die Universitas- en Pelonomi-hospitaal.

Mondli Mvambi Foto: Argief

“Pasiënte met Covid-19 word hier ingedeel op grond van wie hoë sorg benodig en wie hoë suurstofvloei moet kry.”

Hy sê die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein se eenheid vir Covid-19-pasiënte raak soms vol, maar dan word pasiënte na Universitas of Pelonomi oorgeplaas.

Mvambi sê oor die Vrystaat heen is staatshospitale se kapasiteit aangepas om voorsiening te maak vir die bykomende druk wat Covid-19-pasiënte meebring en daar is vir suurstof voorsiening gemaak.

Hy sê Huis Idahlia reg langs Universitas was vroeër ’n eenheid vir hoësorgpasiënte, maar dit is intussen in ’n inentingsgerief omskep.

“As daar ’n groot aanvraag vir hoë sorg kom, kan Huis Idahlia weer in ’n hoësorggerief omskep word.”

Mvambi sê in dié stadium is 94 495 mense in die Vrystaat teen Covid-19 ingeënt en 112 133 het Maandag hiervoor geregistreer.

’n Groot probleem is steeds dat nie genoeg mense ouer as 60 jaar kom om ingeënt te word nie. Net 353 mense het Maandag by Huis Idahlia die entstof ontvang.

* Mvambi sê 379 nuwe gevalle is die afgelope 24 uur in die Vrystaat aangemeld, waarvan 177 in Mangaung, 62 in Fezile Dabi (Noord-Vrystaat), 51 in Thabo Mofutsanyana (Oos-Vrystaat), 70 in Lejweleputswa en 19 in Xhariep.

Daar is reeds 4 572 Covid-19-sterftes in die Vrystaat aangemeld.

Meer oor:  Dr. Freek Bester  |  Bloemfontein  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Strenger Inperkings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.