Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Almal in SA nou volgens ouderdom ingeënt

Die regering gaan afsien van inentings op grond van spesifieke sektore wat geprioritiseer word en inentings sal voortaan volgens ouderdomsgroepe gedoen word.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het dit Vrydag op ’n mediakonferensie van die departement van gesondheid aangekondig.

Tot dusver is werkers in die gesondheid- en onderwyssektor, die polisie en die weermag ingevolge die sektorale benadering ingeënt.

Volgens haar het die interministeriële komitee oor entstowwe, onder leiding van adj.pres. David Mabuza, wat tans vir mediese behandeling in Rusland is, saamgestem dat van die sektorale benadering afgesien word.

Die inentings van diegene bo die ouderdom van 35 verloop goed en ons moedig mense in hierdie ouderdomsgroep aan om hulself te laat inent.
Mmamoloko Kubayi-Ngubane

Die kabinet moet nog sy goedkeuring gee.

Kubayi-Ngubane het egter gesê net ouderdom sal voortaan in ag geneem word. “Dit is meer doeltreffend en help ons om ’n wyer spektrum Suid-Afrikaners te bereik.

“Die inentings van diegene bo die ouderdom van 35 verloop goed en ons moedig mense in hierdie ouderdomsgroep aan om hulself te laat inent.”

Hlengiwe Nhlabathi, die minister se woordvoerder, het by navraag bevestig dat die inentings van die bepaalde sektore wat reeds begin is, afgehandel sal word.

Nagenoeg 250 000 mense per dag ingeënt

Die waarnemende minister het ook bekend gemaak dat meer as 6 miljoen inentings reeds in Suid-Afrika toegedien is en dat nagenoeg 250 000 inentings per dag deesdae oor die land heen gedoen word.

Sy het gesê die mikpunt is om reeds in die volgende week 300 000 inentings per dag te doen. Dié mylpale kan toegeskryf word aan die goeie werkverhouding wat daar tussen die private en die openbare sektor is.

Danksy ’n samewerkingsooreenkoms met Business for South Africa (B4SA) is 1 500 vrywilligers, onder wie dokters en verpleërs, gekry om met die inentings oor naweke in al die provinsies te help.

Martin Kingston van B4SA het Vrydag gesê tans word sowat 121 000 dosisse per dag in die private sektor in apteke, hospitale en werkplekke toegedien.

Dit beteken dat 50% van diegene van ouer as 35 teen einde Augustus hul eerste dosis sou ontvang het.
Martin Kingston

Soos wat meer inentingslokale in die volgende paar weke in die openbare en private sektor geopen word, voorspel hy dat 420 000 inentings per dag teen September gedoen kan word.

“Dit beteken dat 50% van diegene van ouer as 35 teen einde Augustus hul eerste dosis sou ontvang het.”

Volgens Kubayi-Ngubane is sowat 47 500 dosisse entstof verlore weens die beskadiging van sowat 120 apteke in verlede week se onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng.

“Gelukkig is die oorgrote meerderheid van openbare entstof-persele nie beskadig nie, wat beteken dat hulle die inentings onmiddellik kon hervat.”

Almal moet hulle laat inent

Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, het op die mediakonferensie die versekering gegee dat die entstowwe van Johnson & Johnson (J&J) en Pfizer-BioNTech veilig en doeltreffend is, ook teen die Delta-variant van die koronavirus.

“Die enigste manier om die Covid-19-pandemie in bedwang te bring, is deur globale immunisering. Nie net 20% moet ingeënt word nie, maar almal.”

Sy het in ’n voorlegging grafieke gewys van Israel en Brittanje, waar die meerderheid van die bevolking reeds ingeënt is, en waarvolgens die hospitalisasies weens Covid-19 in vergelyking met vroeër laag bly.

Volgens haar voorlegging is die entstof van Pfizer-BioNTech sowat 94,8% doeltreffend teen ernstige Covid-19, en die entstof van J&J sowat 85,4%. Oorhoofs is die entstof van J&J sowat 66,9% doeltreffend en die entstof van Pfizer-BioNTech sowat 91,3%.

Gray het dit voorts benadruk dat daar nog bepaal moet word of die dood van 28 mense nadat hulle Covid-19-entstowwe ontvang het, deur die entstowwe veroorsaak is.

Oor die wêreld heen is miljarde dosisse entstof al toegedien en 24% van die wêreldbevolking het al minstens een dosis van ’n entstof ontvang.

Volgens haar gebeur dit gewoonlik met entstowwe dat newe-effekte binne ses weke ná die toedienings aangemeld word. Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat Covid-19-entstowwe langtermyn-newe-effekte sal hê, en oor die wêreld heen is dit nog nie aangemeld nie.

Meer oor:  Inenting  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.