Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Almal wag vir Cyril om te sê oor nuwe regulasies

Suid-Afrikaners hou asem op om te hoor wat die nuwe inperkingsregulasies is wat pres. Cyril Ramaphosa na verwagting vandeesweek nog gaan aankondig.

Volgens bronne is beperkings op die ure vir die verkoop van drank, die hoeveelheid mense wat mag byeenkom en ’n vroeër aandklokreël alles vandeesweek op vergaderings op topvlak bespreek.

Die verwagting is dat beperkings op gelokaliseerde vlak ingestel sal word te midde van oplewings van die koronavirus in dele van die Wes- en Oos-Kaap.

Patricia de Lille, minister van openbare werke, het Woensdag op ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê die kabinet sou Woensdag vergader om die kwessie van brandpunte van die koronavirus te bespreek.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Skermgreep

Dit volg op ’n vergadering Dinsdag van die nasionale koronavirus-bevelsraad, wat aanbevelings aan die kabinet moet doen oor wysigings aan inperkingsregulasies.

Baie beduidend is die presidensiële koördineringsraad (PRK), wat onder andere uit die land se nege premiers bestaan, wat Woensdag met Ramaphosa vergader het.

Sedert die inperking ingetree het, het Ramaphosa nog elke keer die land se mense oor die inperking toegespreek in dieselfde week as wat die PRK byeengekom het.

Wendy Alberts, voorsitter van die restaurante-vereniging van Suid-Afrika (Rasa), sê ’n vervroegde aandklokreël en beperkings op alkoholverkope by eetplekke sal die bedryf die nekslag toedien.

“Ons is in die inperking afgeskeep, mishandel en deur die regering gelos sonder enige hulp vir die bedryf. Ons het pas begin herstel, en kan nie weer aan die kortste ent trek nie.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-group, sê die land kan in geen omstandighede nog verdere skade aan die ekonomie bekostig nie.

“Soos ek verstaan, sal die regering mense boonop nie veel langer deur die Werkloosheidsversekeringsfonds kan bystaan nie. Daardie pot goud is amper leeg,” sê Roodt.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA), sê geteikende ingrypings in brandpuntgebiede kan ’n positiewe uitwerking hê.

“Die gedagte is om die oplewing te blus voordat dit na ander dele van die land versprei. Daar is ’n groot risiko dat vakansiegangers in die feestyd ’n volslae tweede vlaag van infeksies kan aanwakker,” sê Coetzee.

Sy sê die heel belangrikste is dat owerhede die mense in brandpuntgebiede oortuig om bestaande regulasies en gesondheidsmaatreëls toe te pas.

Volgens haar sal strenger beperkings soos ’n vroeër aandklokreël wel help om in brandpuntgebiede infeksies te beheer. Die doel daarmee is om mense van die strate af te kry.

Dean McPherson, DA-woordvoerder oor handel, nywerhede en mededinging, het in ’n verklaring teen moontlike strenger beperkings uitgevaar.

Dit is volgens hom nie ’n volhoubare oplossing om elke keer sake tot stilstand te ruk wanneer daar ’n “vlaag” van Covid-19 is nie.

“Wat ons nodig het, is om te verseker dat die wet toegepas word en dat alkoholverwante gedrag verander.”

Intussen het opposisiepartye in die Wes-Kaapse wetgewer Woensdag aan Warda Meyer gesê die DA se voortdurende teenkanting teen die nasionale regering se inperkingsregulasies het bygedra tot die skerp styging in infeksies in die provinsie.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Dinsdagaand laat in ’n verklaring gesê hy sou op die vergadering van die PRK sê ’n inperking moet nie in die Wes-Kaap ingestel word nie, maar eerder geteikende, gelokaliseerde ingrypings wat gegrond is op wetenskaplike bevindings.

Winde sal Donderdag om 09:00 op ’n aanlyn mediakonferensie na verwagting praat oor die provinsie se eie ingrypings om die infeksiekurwe in die feestyd af te plat.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het Dinsdag by navraag gesê private en staatshospitale langs die Tuinroete is so te sê vol en die piek van infeksies moet nog bereik word.

Hoewel Cloete vakansiegangers gewaarsku het om “as hulle dit kan verhelp” nie die Tuinroete te besoek nie, het Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Woensdag in ’n verklaring gesê Wes-Kaapse munisipaliteite kan nie wag om besoekers vir die feestyd te ontvang nie.

Die Tuinroete het reeds besluit om alle beoogde geleenthede tot verdere kennisgewing uit te stel.

“Munisipaliteite doen hul bes om te verseker dat vakansiegangers, besoekers en plaaslike inwoners ’n veilige en gelukkige feestyd kan geniet,” sê Bredell.

Prof. Peet van der Merwe, senior dosent in toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die feestydperk is baie belangrik vir die ekonomie van plekke soos die Tuinroete en ander gebiede in die Wes-Kaap wanneer duisende toeriste soontoe reis.

“Hoe meer beperkings geld, hoe minder geld sal toeriste bestee, wat die plaaslike ekonomie in die gebiede sal seermaak,” sê hy.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.