Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ambulanse staan onder stof in Noordwes

Honderde staatsambulanse, waarvan sommige dalk nog gebruik sou kon word, staan al so lank as tien jaar en stof vergader by depots in Vryburg en Schweizer-Reneke in Noordwes.

Volgens dr. Tutu Faleni, DA-woordvoerder oor gesondheid in Noordwes, was dít die gesig wat hulle verlede week begroet het toe hulle die depots besoek het.

“Ons gaan dr. Magome Masike, LUR vir gesondheid, nou vra om dadelik van die mankolieke ambulanse ontslae te raak.”

Faleni sê sommige van die ambulanse sou dalk nog gebruik kon word, maar dit het weens “wanbestuur” nie gebeur nie.

“Van die ambulanse se onderdele sou dalk ook nog gebruik kon word. Dringende ingryping is nodig om die ou ambulanse te verkoop of na skrootwerwe te neem. Dié geld kan gebruik word om die gesondheidsdienste in die provinsie te help herstel. Noordwes se gesondheidsdepartement het in Maart vanjaar bekend gemaak staatsambulanse in die provinsie bereik net 20% van mense wat dringend mediese hulp nodig het, en in baie gevalle daag ambulanse nie op nie.”

Van die ou ambulanse by ’n depot in Noordwes wat glo net staan en stof vergader.Foto: DA-Noordwes

Noordwes se gesondheidsdepartement is onder administrasie nadat gesondheidsdienste vroeër vanjaar feitlik in duie gestort het te midde van voortslepende stakings, onder meer weens ontevredenheid oor beweerde korrupsie van miljoene rande in dié departement.

Masike sê op sy beurt die DA het ’n totale wanbegrip van hoe regeringsprosesse werk.

“Geld wat uit ou ambulanse gemaak word, gaan nie eens na die gesondheidsdepartement nie, maar na die tesourie. Dit het dus geen impak op die aankoop van nuwe ambulanse nie. Die ou ambulanse behoort ook nie aan ons departement nie, maar aan die departement van veiligheid en vervoerbestuur. Laasgenoemde departement behartig die veilings indien daar genoeg voertuie is.”

Volgens Masike het die departement onlangs 40 nuwe ambulanse gekoop, wat volgens hom die reaksietyd in noodgevalle sal verbeter. “Kommunikasiestelsels en moniteringsmeganismes wat die reaksietyd verder sal verbeter, gaan binnekort geïmplementeer word.”

Noordwes se gesondheidsdepartement het intussen ook bekend gemaak eise vir nalatigheid teen hulle het “skerp afgeneem”. “Van Januarie tot Junie 2017 is 46 sake geregistreer waarin R378 868 540 geëis is,” sê Tebogo Lekgethwane, die departementele woordvoerder.

“Van Januarie tot Junie 2018 was daar 37 eise waar bykans R147 673 733 geëis is.”

Volgens Lekgethwane is die afname weens spesifieke planne en strategieë om sake van mediese nalatigheid te verminder. Een van dié strategieë is om alle ma- en babasterftes te bekyk deur middel van die provinsie se forum vir ma-, kind- en vrouegesondheid.

Meer oor:  Schweizer-Reneke  |  Ambulanse  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.