Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ander entstowwe: Wanneer kom dit? Hoeveel kos dit?

Ten spyte van beloftes en gerusstellings heers daar steeds groot onsekerheid oor die regering se entstofplanne.

Dit is ook nie ’n uitgemaakte saak dat die inentingsveldtog teen die koronavirus volgende week in Suid-Afrika sal begin nie. Boonop waarsku die regering se eie adviseurs sy soektog na aanvullende entstowwe kan op ’n herhaling van die AstraZeneca-fiasko uitloop.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag gesê gesondheidswerkers sal reeds volgende week die Johnson & Johnson- (J&J) entstof kan ontvang, maar amptenare in sy departement het hom later weerspreek. Dr. Lwazi Manzi, Mkhize se woordvoerder, het gesê die plan is slegs voorlopig, want dit is nog onseker wanneer die eerste besending van dié entstowwe in Suid-Afrika sal aanland nie.

Dr. Angelique Coetzee Foto: Verskaf

Sy het wel gesê dié besending sal nie noodwendig aan tegniese toetse van tien tot 14 dae onderwerp word nie omdat dit as deel van navorsing toegedien sal word.

As deel van die eerste fase van die regering se entstofplan wou die regering aanvanklik vandeesweek die AstraZeneca-entstof aan gesondheidswerkers begin gee, maar navorsing het gewys dié entstof, waarvan miljoen dosisse op 1 Februarie aan Suid-Afrika gelewer is, is ondoeltreffend om ligte tot matige Covid-19 weens die Suid-Afrikaanse va­riant van die koronavirus te voorkom.

In teenstelling hiermee het navorsing getoon die J&J-entstof werk wel teen die Suid-Afrikaanse variant om ernstige Covid-19 te voorkom en dit bied boonop goeie beskerming teen hospitalisering en sterfte, sê Mkhize.

“Ons het reeds sowat nege miljoen dosisse van J&J bekom en ons onderhandel vir nog. Alles sal deel vorm van die ooreenkoms, wat gou beklink sal word,” het Mkhize gesê.

Mkhize het gesê ’n besending van sowat 117 000 dosisse van die Pfizer-BioNTech-entstof word binnekort verwag en die regering onderhandel ook oor die Russiese Sputnik-V-entstof en die Sinopharm-entstof van China.

“China het reeds ’n aanbod vir entstowwe gemaak en dit word oorweeg. Die nodige prosesse by Sahpra (die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad) is aan die gang,” het Mkhize gesê.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) en lid van die ministeriële komitee oor Covid-19, sê egter sy sien gevaarligte flikker oor die onderhandelings om die Sinopharm-entstof.

“Ons kan dieselfde paadjie stap as met die AstraZeneca-entstof. Daar is nog geen data bekend nie en dit is ook nie op die Suid-Afrikaanse variant getoets nie,” sê Coetzee

Dr. Vicky Baillie, ’n senior navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand se navorsingseenheid vir entstowwe en infeksiesiektes, sê ook Suid-Afrika “vat ’n groot kans” met die Sinopharm-entstof. “Die bietjie data wat ons al gesien het, wys dit is effektief, maar dit is ook nog nie op die Suid-Afrikaanse variant getoets nie,” sê Baillie

Prof. Marta Nunes, ’n kenner oor inentings aan Wits, sê die Sputnik-V-entstof stem baie ooreen met dié van AstraZeneca en J&J.

“Daar is onlangs uitslae bekend gemaak wat wys dit is doeltreffend teen die oorspronklike variant, maar ons weet nie of dit doeltreffend sal wees teen die Suid-Afrikaanse variant nie.”

Kenners meen voorts mense gaan gereeld nuwe inentings teen die koronavirus moet kry omdat dit aanhoudend muteer. Daar is egter nie eenstemmigheid oor vervaardigers se vermoë om hul entstowwe vinnig genoeg by nuwe variante aan te pas nie.

Meer oor:  Angelique Coetzee  |  Zweli Mkhize  |  Virus  |  Entstof  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.