Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Angus Buchan ook by kerk waar 5 met Covid-19 was

Die evangelis Angus Buchan was ook vroeër in Maart in Bloemfontein op die ontbytsessies van die Devine Restoration Ministry-sentrum in Raymond Mhlabastraat waar vyf buitelanders was wat intussen positief vir die koronavirus getoets het.

Foto’s van Buchan is geplaas op die Facebookblad van die Jerusalem Prayer Breakfast. Hy is op die foto’s onder meer saam met lede van die Bloemfonteinse Kinderkoor wat ook daar opgetree het, asook die Bloemfonteinse sangeres Ella Kotzé.

Dr. Huibrie Verster, dirigent van die Bloemfonteinse Kinderkoor, het bevestig sy en haar koor het daar opgetree, maar sê hulle was in ’n wagkamer tot voor hul optrede en is net daarna huis toe.

Angus Buchan op die Jerusalem Prayer Breakfast vroeër vandeesmaand in Bloemfontein. Volgens sy Facebookblad was dit op 11 Maart vanjaar. Foto: Facebook

Sy sê daar was 600 mense op die ontbytsessie, maar haar koorlede het nie met die gaste gemeng nie.

Kotzé sê sy was ook nooit regstreeks in kontak met die mense nie en het saam met koorlede in ’n sysaal gesit en wag.

Buchan se Shalom Ministry is intussen gebel om te hoor of hy getoets gaan word vir Covid-19 en of hy bekommerd is, maar die Ministry het nog nie sy telefone beantwoord nie.

Die Bloemfonteinse Kinderkoor saam met die Bloemfonteinse sangeres Ella Kotzé. Foto: Facebook

Intussen is alles gereed in Bloemfontein waar Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, twee splinternuwe mobiele toetsingseenhede, gestuur het na onderskeidelik die kerk en die Hotel Anta Boga sodat almal getoets kan word wat met die vyf buitelanders in aanraking was. Twee van hulle is van Texas in die VSA, een van Frankryk en twee ander van Israel.

Dit is waarom kerkgangers Saterdag in Bloemfontein by die kerk-sentrum getoets moet word, sê Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement.

“Ons probeer kontak maak met mense wat ’n erediens of eredienste saam met die vyf buitelanders bygewoon het.”

Hy sê die hotelpersoneel van die Hotel Royal Fischer in Woodland Hills, Bloemfontein, waar die mense gebly het, is ook almal getoets en is sedertdien in kwarantyn geplaas.

“Ons het 15 personeellede van die Hotel Royal Fischer in kwarantyn geplaas, maar hulle toon tot dusver geen simptome nie.”

Mvambi sê Tsiu het Saterdagoggend by die twee mobiele bussies by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein ’n draai gemaak, waarna sy saam met die bussies na ander plekke is waar mense getoets sou word.

Vrydag sou 800 mense by die Laerskool Brandwag in Bloemfontein getoets word, maar daar het 1 079 ouers, onderwysers en leerlinge opgedaag vir toetse.

Hy sê vyf mense wat tekens van verkoue getoon het, en getoets is, het intussen negatief vir die siekte getoets.

Die toetse van twee kinders van ’n ma van die Laerskool Brandwag wat positief getoets is vir die virus, was negatief.

Hy kon nie ’n aanduiding gee van hoeveel mense Saterdag getoets sou word nie.

Hy het ook in ’n verklaring gesê die Vrystaatse gesondheidsdepartement wil dit duidelik stel dat die CRC-kerk nie geassosieer moet word met die vyf gevalle van buitelanders in Bloemfontein wat positief vir die virussiekte toets nie.

“Die departement vra mense om kalm te bly en om hulle te weerhou van die verspreiding van valse inligting,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.