Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Arbeidskwessies oor Covid-19 kortwiek Bfn-hospitale

Arbeidsgeskille oor Covid-19-kwessies by die Pelonomi-streekhospitaal en die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein kry aandag, sê Mondli Mvambi, woordvoerder van die provinsie se departement van gesondheid.

Mondli Mvambi Foto: Argief

Die personeel neem volgens Mvambi aan onwettige stakings deel uit angs oor die virussiekte.

Volgens Mvambi was die verteenwoordigers van vakbonde Donderdag in ’n vergadering by die psigiatriese kompleks.

Personeel by die kompleks en DA-politici het vroeër die dag hul kommer teenoor Netwerk24 uitgespreek dat die kompleks op ’n tweede Life Esidimeni-skandaal en -tragedie in die land afstuur.

Geestelik versteurde pasiënte, van wie sommige ook erg liggaamlik gestremd is, word in die laaste tyd weens stakings glo tot ’n dag lank sonder kos aan hul eie lot by die kompleks oorgelaat, terwyl hulle in die sale waar hulle bly, toegesluit word.

Personeel van die kompleks het ook teenoor Netwerk24 beweer daar word nie by voorskrifte vir medikasie gehou nie, dat pasiënte wat doeke dra tot ’n dag lank met vuil doeke in beddens lê en dat daar ontlasting op die vloere is.

Personeel is ontevrede omdat hulle glo nie genoeg persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die Covid-19-tyd kry nie en omdat sale nie vir ontsmetting gesluit word as pasiënte of personeel daar positief vir Covid-19 getoets is nie.

Mariëtte Pittaway, DA-LPW en woordvoerder oor gesondheidsake, het ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien. Voorts het sy ’n DA-LP versoek om die situasie by die psigiatriese kompleks onder die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se aandag te bring.

Mvambi het Donderdag in ’n verklaring gesê hy was vroeër die dag by die Pelonomi-streekshospitaal waar sowat 20 kraamsaal-verpleegsters aan ’n onwettige staking deelgeneem het.

Die staking was om te eis dat die saal op “die regte manier” ontsmet moet word.

Verpleegsters het ook beweer hulle het nie PPE nie en daar is tye wanneer hulle gedwing word om dieselfde toerusting vir die hele week te gebruik.

“Ons het gevind dat verpleegkundiges die normale werksvloei by Pelonomi ontwrig het, tot so ’n mate dat pasiënte van die voorgeboortekliniek, waar verwagtende ma’s met ’n hoë risiko lê, nie die nodige hulp van dokters en susters kry nie wat reeds te min is vir die gevalleladings wat hulle daar moet hanteer.”

Mvambi sê hy het die rekords nageslaan en gesien dat PPE van ’n sentrale punt bestel word en op Maandae en Vrydae na die verskillende sale versend word.

Media by Pelonomi het self die bewyse gesien van personeel wat met die verlangde beskermende klere werk, sê Mvambi.

“Personeel wat met pasiënte werk waar operasies uitgevoer word en waar asemhaling- en ander masjiene gebruik word en waar lugvloei is, kry volle beskermende kleredrag. Ander kry PPE wat ooreenstem met die riglyne en bedryfstandaarde wat in ooreenstemming is met die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).”

Volgens ons eenheid vir arbeidsgesondheid en -veiligheid is personeel wat positief vir Covid-19 getoets het, huis toe gestuur.

Hy sê hulle het gesien hoe skoonmakers diep skoonmaak vir infeksiebeheer, ook ingevolge die riglyne.

“Ons het ook in die sogenaamde besmette sale gaan stap waar dit volgens die verpleegkundiges nou te gevaarlik is om te werk.”

Daar is vasgestel dat personeel wat buite betoog, nie siek of met Covid-19 besmet is nie.

“Volgens ons eenheid vir arbeidsgesondheid en -veiligheid is personeel wat positief vir Covid-19 getoets het, huis toe gestuur. Die departement dwing niemand om te werk terwyl hy siek is nie.”

Die personeel van dié eenheid moniteer daagliks die verpleegkundiges wat geraak is en sien om na hul kollegas en gee ondersteuning.

Mvambi sê diegene wat negatief getoets het, moet by die werk wees.

Die uitvoerende hoof van die Pelonomi-hospitaal was laat gistermiddag steeds in ’n vergadering met die stakende personeellede.

Mvambi sê die departement is teleurgesteld in die gedrag van personeellede wat lyk asof hulle eerder belangstel in die ontwrigting van diens as om na pasiënte om te sien.

Mvambi het ook onderneem om later terugvoering te gee oor hoe probleme by die psigiatriese kompleks gehanteer en opgelos sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.