Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Arts ‘vermink’ pasiënte

Dit gaan ’n Paralimpiese atleet nie sy been teruggee of “Frankenstein se vrou” weer soos ’n normale mens laat lyk nie.

Myrna Bothma van Pretoria sê dr. Luke Gordon het haar lyf erg vermink in ’n operasie.

Maar tog is albei oorstelp van vreugde dat die “slagtersnydokter van Benoni” sy skalpel ná ’n regstryd van byna tien jaar permanent moet wegpak.

Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGB) het ­Luke Gordon verlede week skuldig bevind op nege aanklagte van nalatigheid tydens kosmetiese chirurgie en het hom van sy register van praktiserende dokters verwyder.

Heugene Murray (45), ’n professionele liggaamsbouer en ’n Paralimpiese atleet van Pretoria, het sy linkerbeen verloor nadat Gordon op 29 Desember 2007 ’n kuitinplantingsoperasie op hom uitgevoer het.

“Hy het my vooraf belowe dat hy ’n 100%-sukseskoers het.”

‘Dit het my selfbeeld vergruis.’

Murray sê komplikasies het drie dae ná die operasie ingetree, maar Gordon wou hom nie help nie omdat sy praktyk toe reeds vir die Desembervakansie gesluit was.

“My skoonpa het met my na sy kliniek toe gery en ons het hom aangetref waar hy die tuin natmaak. Hy het my dadelik lokale verdowing gegee en die silikoon uit my been verwyder. Ek het flou geword van die pyn. Ek is toe by ’n private hospitaal opgeneem, maar my mediese fonds het geweier om daarvoor te betaal omdat ek die beserings self opgedoen het. Ek moes toe dadelik R90 000 uit my sak betaal.”

Murray sê Gordon was daarna nêrens te vinde nie en ’n ander dokter het sy linkerbeen in ’n noodoperasie geamputeer.

Heugene Murray se linkerbeen moes in ’n noodoperasie geamputeer word nadat dr. Luke Gordon silikoon in sy kuite ingeplant het.Foto: Elizabeth Sejake

“Gordon het daarna by die hospitaal opgedaag en gesê hy is jammer hy het my lewe opgeneuk. Sy laaste woorde aan my was: ‘Ek het jou lewe opgeneuk en nou is my lewe ook opgeneuk. Ek voel asof ek selfmoord wil pleeg.’ Ek het hom weggejaag en dit was die laaste keer dat ek ooit van hom gehoor het.”

Gordon het hom uiteindelik “krummels betaal” toe hy hom gedagvaar het vir sy mediese onkoste, sê Murray. “My lewe het uitmekaar geval. My kinders was bang om vir my ’n drukkie te gee toe ek uit die hospitaal ontslaan is. My huwelik het daarna verbrokkel en ek moes my ondernemings verkoop om vir my mediese onkoste te betaal.” Hy moes onder meer R1 miljoen opdok om vir sy kunsbeen te betaal.

Myrna Bothma (45), ’n voormalige sangeres en verhoogkunstenaar, sê haar lewe is in 2011 verwoes nadat Gordon haar borste gelig en ’n maagstyftrek-operasie op haar uitgevoer het. “Ek het hom R60 000 betaal van my man se erfgeld om my mooi te laat lyk, maar hy het my lyf in die van Frankenstein se vrou verander. My borste was veronderstel om fermer te wees, maar my tepels wys grond toe. My naeltjie is skeef en lyk soos ’n visgraat en my maag is só gevorm dat dit lyk asof ek boude aan my voorkant het. Ek haat my lyf en dit het my selfbeeld vergruis. Ek is nie daartoe in staat om voor ’n klomp mense op te tree nie en ek moes my loopbaan as ’n sangeres en ’n verhoogkunstenaar laat vaar.”

Dr. Luke Gordon

Die klaers was destyds ontevrede omdat die RGB met die saak gesloer het en het uiteindelik die hooggeregshof in Pretoria genader om die raad te dwing om teen Gordon op te tree. “Dit het die RGB sewe jaar geneem om 14 klaers en ses kundiges se getuienis aan te hoor voordat hulle hom aan nalatigheid skuldig bevind het. Hoe pateties is dit? Die RGB het duisende rande bestee. Klaers, kundiges en lede van die RGB se bestuursraad is oor die tydperk van sewe jaar na verskeie lokale gevlieg om die verhore by te woon, wat keer op keer uitgestel is. My getuienis is ses keer uitgestel.” Sy sê die uitgerekte en emosioneel uitmergelende verhoor het haar geknak.

“Foto’s van my ontblote lyf en my geskende borste is keer op keer op groot skerms vir ’n klomp mans vertoon, waar dit in detail bespreek is. Dit het gevoel of ek elke keer van vooraf geskend is.”

Gordon het homself in 2015 laat sekwestreer nadat hy glo reeds R4,5 miljoen aan van sy voormalige pasiënte uitbetaal het.

Gordon het aan Rapport gesê hy wil nie kommentaar lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.