Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Artse ‘red lewens met veemedisyne’

* Die mediese inligting in hierdie berig is die mening van die betrokke dokters en nié die van Netwerk24 nie. Enige vrae oor u persoonlike gesondheid behoort na 'n dokter verwys te word.

Twee Vrystaatse dokters, albei in die platteland, sê hulle gebruik die veemiddel Ivermectin om mense te red en sal nie daarmee ophou nie.

“Ek sal nie toelaat dat mense doodgaan as ek hulle kan help nie,” sê die een.

Die twee geneeshere, wat hul lisensies om as dokters te praktiseer kan verloor, het op voorwaarde van anonimiteit met Netwerk24 gepraat.

Die een sê hy het al honderde mense, meestal van sy dorp se township, behandel en het dit self al vier keer voorkomend gebruik.

Hy is egter nou so oortuig dat die medisyne uitstekend teen Covid-19 werk dat hy dit nie meer voorkomend gebruik nie. Hy sal dit gebruik sodra hy die eerste simptome van Covid-19 ervaar.

Die veemedisyne Ivermectin verkoop glo soos soetkoek en mense sê dit werk teen Covid-19.Foto: Verskaf

Die ander dokter sê hy gebruik dit wanneer hy in kontak was met mense wat Covid-19 onder lede het en wanneer hy grieperig voel.

’n Middeljarige man, wat so siek was dat hy hospitaal toe wou gaan, het volgens dié dokter ’n “kans gevat” en Ivermectin gebruik. Drie uur later het hy soveel beter gevoel dat hy nie meer hospitaal toe wou gaan nie.

“Dit is die bekostigbaarste produk wat ek kan gebruik om arm mense te help,” sê hy.

Koos Odendaal, ’n boer in die Suid-Vrystaat, sê Ivermectin en ander produkte met dieselfde aktiewe bestanddeel verkoop soos soetkoek by landboukoöperasies en al meer mense gebruik dit voorkomend en vir behandeling.

Lees meer hier

Odendaal sê hy en sy gesin van sewe het dit gebruik voordat hulle in Jeffreysbaai gaan vakansie hou het.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse mediese vereniging (Sama), sê dié organisasie het die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) gevra om weer na die nuutste inligting oor Ivermectin te kyk om te bepaal of daar nie wel bewyse is dat dit doeltreffend teen Covid-19 gebruik kan word nie.

Coetzee sê heelwat gesprekke word in mediese kringe oor Ivermectin gevoer, maar dat dokters hulle blootstel aan vervolging indien hulle dit vir Covid-19 sou voorskryf.

“Dit is nie geregistreer as behandeling vir Covid-19 nie en mag dus nie daarvoor gebruik word nie. Dokters wat pasiënte daarmee behandel, doen dit op eie risiko.

“Daar is nie ’n towerstaffie teen Covid-19 nie, maar mense kan baat vind by vitamiene-aanvullings, soos C en D, asook sink. Veral bejaardes moet elke dag met kaal arms en bene in die son kom.”

Dit is die bekostigbaarste produk wat ek kan gebruik om arm mense te help.

Prof. Guy Richards, ’n emeritusprofessor van Wits, sê hy is skepties en meen Ivermectin kry te veel aandag.

“Die oplossing is ’n entstof. Dit is al hoe ons die pandemie gaan beëindig en dit is waarvoor ons ons nou moet beywer.

Die Ivermectin-studies is volgens Richards van swak gehalte en voldoen nie aan die vereistes wat gestel word vir mediese navorsing nie.

“Daar is nie bewyse dat Ivermectin teen Covid-19 werk nie.

“Vitamiene is goedkoop en skadeloos en kan help om mense gesond te hou. Mense moet egter in ag neem onderliggende siektes en vetsug is ’n groot faktor wat betref Covid-19 sterftes,” sê hy.

Daar is nie ’n towerstaffie teen Covid-19 nie.

Sahpra het Woensdag volgehou dat daar nie bewyse is dat Ivermectin werk nie, maar as mense navorsingsresultate beskikbaar het wat aan die nodige vereistes voldoen, kan hulle dit voorlê.

Sahpra sê hy sal dokters vervolg wat die middel gebruik.

Meer oor:  Vrystaat  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19  |  Dokter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.