Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Baas kan jou afdank as jy inenting weier

Suid-Afrikaanse werkgewers het net tien dae oor om ’n risiko-ontleding te doen en te besluit of hulle hul personeel gaan verplig om teen Covid-19 ingeënt te word.

Indien wel, kan werkers wat weier, hul werk verloor.

So ’n ontslag sal egter net wettig wees as die werkgewer alles probeer het om die werknemer wat geldige besware het, tegemoet te kom en al die voorgeskrewe prosesse in die Wet op Arbeidsverhoudinge gevolg het, sê Willem le Roux, kenner van beroepsveiligheidswetgewing by ENSafrica.

Die vakbond Solidariteit het reeds Vrydag gewaarsku hy sal werkgewers wat personeel onbillik oor inentings ontslaan, hof toe neem.

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, het die nuwe voorskrifte op 11 Junie in ’n aangepaste aanwysing gepubliseer. Dit geld bykans elke werkplek in die land, behalwe myne, bote, hyskrane en ’n paar ander waarvoor daar ander reëlings is, sê die regsfirma Webber Wentzel.

Selfs huishoudings met een huis- of tuinwerker moet sonder versuim ’n risiko-ontleding doen en besluit of hulle werknemers gaan verplig om hulle te laat inent, meen kenners.

Dit geld bykans elke werkplek in die land.

Hoewel die spertyd vir ondernemings met minder as tien werknemers nie in die aanwysing uitgespel word nie, meen adv. Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris vir strategie en volhoubaarheid by die vakbond Solidariteit, hulle sal baie goeie redes moet aanvoer om van die 21 dae wat groter ondernemings gegun word, af te wyk.

Dít verstryk op 1 Julie.

Die riglyne plaas ’n verpligting op werkgewers om teen die spertyd dié werknemers te identifiseer wat verplig moet word om hulle te laat inent weens die risiko dat hulle die virus in die werkplek kan oordra, of weens hul kwesbaarheid weens ouderdom of onderliggende siektetoestande.

Die risiko-ontleding moet die werkplek, die aard van die werk en die situasie van elke personeellid behoorlik in ag neem, sê Mardon. Werkgewers wat almal voor die voet wil verplig om hulle te laat inent, sal hul rieme styfloop, waarsku hy. Dit sal op arbitrêre optrede neerkom.

Le Roux sê werkgewers moet die gevaar identifiseer, kyk hoe waarskynlik dit is dat dit gaan realiseer en dan maatreëls instel om dit te vermy, te beheer of die impak daarvan te verminder.

Waar werkgewers wel inenting vereis, moet hulle die betrokke werknemers inlig dat hulle dit moet doen sodra die entstof vir hulle beskikbaar is asook van hul reg om op grond van grondwetlike of mediese redes inenting te weier, en hulle kans gee om hul vakbond of veiligheidsverteenwoordiger te raadpleeg, sê Webber Wentzel.

Personeel sal inenting net met goeie rede kan weier, naamlik weens mediese of geloofsredes en hul reg op liggaamlike integriteit, sê Mardon. Hy meen baie mense is sku vir inenting weens wantroue teenoor die regering of die entstowwe. Dít sal egter nie aanvaar word as geldige redes om te weier nie.

Hy sê daar is baie min mense wat werklik geldige mediese redes sal kan aanvoer. Selfs al het iemand ’n allergie, sal die risiko steeds opgeweeg moet word teen die Covid-19-risiko in die werkplek. Die werknemer sal dit met mediese getuienis moet staaf.

As die werknemer werklik ’n geldige rede het, moet die werkgewer hom steeds probeer tegemoetkom deur hom byvoorbeeld van die huis te laat werk of die risiko te beperk deur byvoorbeeld beskermende klere.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersvereniging Neasa, sê as die werkgewer nie sulke stappe kan doen sonder om homself uitermate te benadeel nie, kan dit die werknemer in sy beroep benadeel of selfs tot ontslag lei.

Dan kan die werknemer se diens beëindig word weens mediese ongeskiktheid, bedryfsredes of tugstappe omdat hy versuim om ’n redelike opdrag te gehoorsaam, sê Le Roux.

Neasa raai werkgewers af om ’n verpligte inentingsbeleid in te stel omdat dit kan lei tot eise teen die werkgewer weens onbillike ontslag waar daar nog vrae is oor die potensiële langtermyngevolge van die gebruik van die entstof en die risiko vir mense.

Mardon sê die oplossing vir werkgewers lê daarin om mense te motiveer en te oortuig dat inenting die beste stap is om Covid-19 die hoof te bied.

Gedwonge inentings is ongekarteerde terrein in die arbeidsreg en daar sal eers sekerheid wees oor presies hoe die howe die grondwetlike regte van individue opweeg teenoor openbare belang en die belang van die werkgewer as sulke sake voor die howe kom, sê Mardon.

Volgens Webber Wentzel moet die werkgewer die werkers behoorlik inlig oor die voordele en risiko’s en hulle waar nodig help om vir inenting te registreer.

mag nie geld aftrek vir die tydperk wat hulle afwesig is om die inenting te kry nie.

Die gewone reëls oor isolasie vir werknemers wat simptome van Covid-19 toon, geld nie binne drie dae ná inenting nie en as die werker in dié tydperk te siek is om te werk, moet hy gewone siekverlof neem. Die inentingsertifikaat dien as siekbrief.

Meer oor:  Thulas Nxesi  |  Covid-19  |  Inentings  |  Afdanking  |  Arbeidsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.