Loopringe kan ’n groot gevaar vir babas inhou, luidens statistieke by Netcare se noodeenhede.
“Hoewel dit ’n onskadelike hulpmiddel kan wees, het loopringe die afgelope paar jaar tot ernstige beserings by babas gelei,” waarsku Rene Grobler, Netcare se nasionale gehalte-en-stelselbestuurder vir trauma en noodgevalle.
Volgens Grobler is 47 babas van gemiddeld agt maande oud sedert 2012 in Netcare se noodeenhede vir beserings weens ongelukke met loopringe behandel.

Foto ter illustrasie Foto: Getty Images
“Van die babas is 4% kritiek beseer en 72% het ernstige tot matige beserings opgedoen, terwyl die oorblywende 24% ligte tot matige beserings opgedoen het,” sê Grobler.
“Selfs al word daar goed toesig gehou, maak die vinnige en onbeheerde beweging van ’n loopring dit feitlik onmoontlik om beserings te voorkom omdat dit so vinnig gebeur,” verduidelik sy.
“Die meeste van die beserings met loopringe was aan die baba se kop of gesig, en hierdie soort beserings kan veral op so ’n jong ouderdom ernstig gevolge inhou.”
Volgens Grobler is voorheen geglo dat die gebruik van ’n loopring babas help om gouer te leer loop.
“Die oormatige gebruik van loopringe kan loop egter vertraag. Daar is ook voorgestel dat ’n loopring miskien nie ideaal is nie, want om te struikel, te val en dan weer op te staan is deel van ’n baba se normale ontwikkeling. Babas leer ook baie deur bloot hul omgewing met hul hande te verken voordat hulle kan loop,” sê sy.
“In ’n poging om voorkombare ongelukke te verminder, maak Netcare se nasionale trauma-voorkomingsprogram ouers bewus van lewensgevaarlike ongelukke wat loopringe kan veroorsaak.
“Die program is spesifiek daarop gemik om die risiko’s te verminder deur middel van opvoedkundige inisiatiewe en deur praktiese advies vir veiliger gedrag,” sê Grobler.