Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Babavang raak te duur vir dokters
“Om ’n pasgebore baba vas te hou is ’n ongelooflike ervaring,” sê een van Worcester se ginekoloë wat nie meer kan bekostig om babas te vang nie. Foto: Argief, ter illustrasie

Die koste van verloskundiges se vrywaringsversekering het die afgelope drie jaar so verhoog dat talle ginekoloë nie meer kan bekostig om babas te vang nie.

Vier private verloskundiges van Worcester het verlede week in ’n roerende brief aan die gemeenskap verduidelik waarom die kraamsaal by Mediclinic op Worcester vanaf 31 Maart 2017 sal leegstaan.

Dr. Emile Manefeldt, een van die ginekoloë, sê vrywaringsversekeringkoste het die afgelope drie jaar feitlik verdriedubbel terwyl siekefondse se betalings met net sowat 5% verhoog is. Siekefondse betaal omtrent R4 600 per bevalling, terwyl vrywaringsversekering ongeveer R4 000 per pasiënt kos.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Verloskunde en Ginekologie (SASOG) het bereken dat die totale koste van een bevalling gemiddeld R12 000 vir die ginekoloog is. Die pasiënt maak ’n bybetaling, maar dit dek steeds nie al die koste nie.

“Dis nie meer vir ons die moeite werd om dié werk te doen nie,” verduidelik Manefeldt. “Op hierdie stadium breek ons nie gelyk nie en moet ons inbetaal op gevalle.”

Worcester se privaat hospitaal hanteer maandeliks sowat 75 geboortes wat die staatshospitaal en buurdorpe vanaf volgende jaar moet oorneem. Dit geld ook alle voorgeboortesonars en keisersnitte. Twee van die vier verloskundiges in die Paarl het ook reeds die beroep verlaat. “Dis ’n krisis vir die gemeenskap,” sê Manefeldt.

Dr. Johannes van Waart, voorsitter van SASOG, sê tussen 50 en 80 ginekoloë het in 2016 reeds opgehou werk en dis erger in landelike gebiede. Op Middelburg in Mpumalanga is net een verloskundige oor om elke maand tot 60 babas te vang.

Van Waart sê vrywaringsversekeringkoste het sedert 2013 van ongeveer R180 000 tot R650 000 per jaar toegeneem en die verwagting is dat dit in 2017 sowat R800 000 per jaar sal beloop.

Daar word jag gemaak op verloskundiges. Prokureurs nader pasiënte en bied aan om hul sake gratis te verdedig indien hulle verloor.
Dr. Johannes van Waart

Die verhoogde premies is deur die hoeveelheid jaarlikse mediese nalatigheidsake teen ginekoloë beïnvloed.

“Daar word jag gemaak op verloskundiges,” sê Van Waart. “Prokureurs nader pasiënte en bied aan om hul sake gratis te verdedig indien hulle verloor. As hulle die saak wen, sal hulle tipies ’n derde van die uitbetalings kry.”

Daar is gemiddeld 20 groot eise jaarliks en uitbetalings kan tot R80 miljoen beloop. Volgens Van Waart word meeste sake geskik.

SASOG het die ‘BetterObs’-program gestig om nalatigheid tydens kraamgevalle te verminder. “Ons hou maandeliks mortaliteitsvergaderings om te bespreek waar dinge verkeerd geloop het en daar is protokol om ginekoloë met komplikasiegevalle te lei.”

Die vereniging wil ook ’n mediasiekomitee vir pasiënte en ginekoloë op die been bring sonder om regslui te betrek.

Van Waart het ook dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gevra om in te gryp. Hulle wil toesien dat uitbetalings vir nalatigheidseise beperk word tot ’n maksimum van R30 tot R40 miljoen en dat die regering die mediasiekomitee steun.

Siekefondse is ook ontevrede oor die aantal keisersnitte wat gedoen word, maar die meerderheid nalatigheidsake is juis weens komplikasies tydens natuurlike geboorte.

Hulle versoek ook dat siekefondse uitbetalings verhoog. Volgens Van Waart is siekefondse ook ontevrede oor die aantal keisersnitte wat gedoen word, maar die meerderheid nalatigheidsake is juis weens komplikasies tydens natuurlike geboorte. “Dis ’n bose kringloop.”

Worcester se ginekoloë sê om die verloskunde te verlaat was ’n emosionele besluit en “die moeilikste besluit van ons professionele lewe”.

“Ek is mal oor kinders, dis hoekom ek gaan doen het wat ek doen,” sê Manefeldt. “Dis ’n ongelooflike gevoel om ’n pasgebore babatjie vas te hou en deel van daardie eerste asemteug te wees.”

Hy praktiseer vir meer as 20 jaar op die dorp en vang al die tweede generasie se babas.

*Verskeie regslui wat sake van mediese nalatigheid hanteer, is vir reaksie genader en kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.