Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Babelse verwarring oor wie op strande mag wees

Daar is steeds groot verwarring oor wie op die strand mag stap en wie nie.

Dit nadat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, onlangs gesê het strande bly gesluit vir ontspanningsdoeleindes, terwyl Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Maandag gesê het mense mag op vlak 3 van die inperking vir ontspanningsdoeleindes visvang.

“Alle visvang, insluitende visvang vir ontspanningsdoeleindes, word toegelaat. Mense mag net nie ’n boot huur en gaan visvang nie,” lui die verklaring.

Hengelaars het Dinsdag hul lyne gaan natmaak in Valsbaai nadat aangekondig is dat mense mag visvang. Foto: Jaco Marais

Verder het Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, Saterdag die vlak 3-maatreëls vir professionele sportlui bekend gemaak en gesê diegene wat sport vir ontspanning beoefen, mag steeds nie hul stokperdjies hervat nie.

Die groot verwarring heers omdat mense op die strand mag staan en visvang, terwyl net professionele branderplankryers die see mag trotseer, maar nie diegene wat dit vir ontspanning doen nie.

’n Branderplankryer, wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisering, sê 90% van die branderplankryers is nie professionele ryers nie en niemand verstaan wat die nuwe maatreëls eintlik beteken nie.

Talle branderplankryers durf sedert Maandag die branders by Muizenberg aan en drie is op dieselfde dag in hegtenis geneem. Hulle is later vrygelaat en nie aangekla nie.

Die polisie patrolleer Muizenberg se strand vroeg Dinsdagoggend. Foto: Jaco Marais

Navrae is aan al die betrokke partye gerig. Dlamini-Zuma se woordvoerder, asook die plaaslike en provinsiale regerings is vir ’n verduideliking genader.

By navraag oor branderplankry en ander see-verwante sportsoorte het Masechaba Khumalo, Mthethwa se woordvoerder, gesê die minister se maatreëls is nog nie in die Staatskoerant gepubliseer nie.

Selfs die kantoor van Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, is nie seker wat die antwoord is nie. Dit nadat Plato ’n pleidooi gelewer het dat alle strande vir die publiek oopgestel moet word.

Hoewel dit ’n koue en mistige oggend in Muizenberg was, het branderplankryers steeds die waters trotseer. Die polisie was teenwoordig, maar niemand is gestop nie. Foto: Jaco Marais

“Die nasionale regering het nog nie die maatreëls aangepas nie. Ons het ook nog nie enige terugvoering van die nasionale minister gekry nie (oor Plato se versoek dat strande oopgestel moet word),” sê Greg Wagner, sy woordvoerder.

Navrae oor wat die polisie se instruksies is, is ook nie deur die provinsiale of nasionale polisiewoordvoerders beantwoord nie.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het wel gesê die polisie konsulteer sy regsafdeling oor wat die presiese maatreëls is en wat die polisie te doen staan in gevalle waar mense op die strande is.

Hannah Shameema Winkler, DA-LP, het Creecy se aankondiging verwelkom, maar haar aangemoedig om te verseker dat die nuwe maatreëls so vinnig as moontlik in die Staatskoerant gepubliseer word.

Sy het gesê dit sal die vissersgemeenskappe die kans gee om hul gesinne te voed.

Meer oor:  Dan Plato  |  Nathi Mthethwa  |  Muizenberg  |  Strande  |  Inperking  |  Covid-19  |  Branderplankryers  |  Vlak 3  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.