Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Baie beloftes, maar min feite oor entstof vir SA

Terwyl verskeie lede van die nasionale departement van gesondheid Vrydag oor groot besendings entstof gepraat het wat in die derde kwartaal in Suid-Afrika verwag word, is alles baie vaag en weet niemand wanneer of presies hoeveel gaan kom nie.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid. Foto: GCIS/Argief

Van die beloftes wat Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, oor entstof gemaak het, is:

• 31 miljoen dosisse Johnson & Johnson-entstof in totaal waarmee 31 miljoen mense ingeënt kan word;

• 30 miljoen dosisse Pfizer-dosisse waarmee 15 miljoen mense ingeënt kan word (dit vereis ’n dubbeldosis); en

• 12 miljoen dosisse Pfizer-entstof deur die Covax-ooreenkoms waarmee 6 miljoen mense ingeënt kan word.

Dit sluit die entstof in wat reeds ontvang is, maar Kubayi-Ngubane het nooit gesê presies wanneer dié totaal bereik sal word nie.

As die regering wel die beloofde entstof ontvang, beteken dit dat 52 miljoen mense, of 86,6% van die bevolking van ’n bietjie meer as 60 miljoen, ingeënt sal kan word.

Ons gaan twee keer soveel entstof hê as nou en drie keer soveel mense kan inent.
Dr. Sandile Buthelezi

Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van gesondheid, sê Suid-Afrika sal teen die derde kwartaal ’n groot hoeveelheid entstof ontvang.

“Ons gaan twee keer soveel entstof hê as nou en drie keer soveel mense kan inent,” sê Buthelezi.

’n Totaal van 300 000 dosisse van die Johnson & Johnson entstof het Donderdagaand in die land aangekom en gaan gebruik word om onderwysers mee in te ent.

Ander entstof wat volgens Buthelezi op pad is, is:

• ’n Bietjie meer as 600 000 dosisse Pfizer-entstof wat oor die naweek verwag word;

• Nog 1,2 miljoen dosisse J&J wat binne die volgende tien dae aankom; en

• Volgens die regering se ooreenkoms met Pfizer sal hy teen 28 Junie meer as 4,4 miljoen dosisse ontvang wat in weeklikse besendings gestuur word.

inentings

Hy sê nog inligting sal bekend gemaak word sodra dit op swart en wit beskikbaar is, maar tussen 1,2 miljoen en 1,3 miljoen dosisse van die Pfizer-entstof sal teen einde vandeesmaand ingevolge die Covax-ooreenkoms afgelewer word.

Hy het ook nie verder oor die getalle in die derde kwartaal uitgewei nie.

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, sê ook nog entstof sal ná Julie, in die derde kwartaal kom, terwyl dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, sê die departement sal steeds naby sy teiken kom om 67% van die land teen Januarie 2022 ingeënt te hê, berig Meghan Lawrence.

Prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, dink egter die regering is baie geheimsinnig oor sy planne.

“Daar is geen deursigtigheid nie. Ons weet nie hoeveel entstof per week in die land inkom en of daar gereelde besendings in die toekoms gaan wees nie.”

Die regering is nie vreeslik gretig om inligting te deel nie. Al wat ons hoor, is beloftes.
Prof. Guy Richards

Hy sê dit is ook onseker of Suid-Afrika van die beloofde entstof van die G7-lande sal ontvang.

Prof. Guy Richards, emeritus professor in kritieke sorg aan die Universiteit van die Witwatersrand, stem met Mphahlele saam.

“Die regering is nie vreeslik gretig om inligting te deel nie. Al wat ons hoor, is beloftes,” sê Richards.

Hy benadruk dat dit belangrik is om te onthou dat die land nie kudde-immuniteit kan bereik nie, selfs al word 67% van die land ingeënt.

“Die entstowwe is almal net sowat 50% weerstandig vir ligte siektes. Dit beteken jy kan steeds die virus kry en dit oordra. Die entstof beskerm slegs teen ernstige siekte en hospitalisering,” sê Richards.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee vir Covid-19-entstowwe, sê die entstofprogram word intern hanteer “en ek weet ook net dit wat hulle vanoggend gesê het”.

Lwazi Manzi, woordvoerder vir die minister, het nie op Netwerk24 se navrae gereageer oor wanneer die entstowwe in Suid-Afrika sal aankom of hoe die departement se teikens lyk nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.