Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Begrafnisse: ‘Ons kan nie voorbly’

Begrafnisondernemers sukkel om by te hou met al die Covid-19-sterfgevalle en Avbob, een van die land se grootste ondernemers, sê begrafnisse in sommige distrikte in die Oos-Kaap het met tot 300% toegeneem.

’n Kliniese besluitnemingseenheid (CDU), wat tot 80 pasiënte kan akkommoddeer is Vrydag 8 Januarie by die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane geopen. Die eenheid sal bykomende kapasiteit verskaf aan noodpasiënte terwyl gesondheidsdienshulpbronne in Limpopo onder druk is weens ‘n skerp styging in Covid-19-hospitaalopnames. Die eenheid sal die druk op die hospitaal se nooddepartement verlig en sal verseker dat pasiënte voor hospitalisasie gestabiliseer kan word. ‘n Bykomende 60 personeellede is by die hospitaal ontplooi om te help. Foto: Verskaf

Dié donker prentjie kom in dieselfde week dat mediese dienste berig hospitale word oorweldig – hospitaalopnames is nou 66% meer as tydens die kruin van die eerste vlaag in Augustus verlede jaar.

Pieter van der Westhuizen, Avbob se hoofbestuurder van begrafnisdienste, sê die toename in begrafnisse wissel tussen 66% (in KwaZulu-Natal) en 18% in die Vrystaat en Noord-Kaap. In die Johannesburg-streek – wat dele van Noordwes en Mpumalanga insluit – het Avbob ’n 26%-styging in begrafnisse ervaar. In Pretoria en omgewing is dit 32%, in die Wes-Kaap 44% en in Limpopo 46%.

By verskeie takke is koelkamers vir die berg van lyke oorvol en ondernemers moet van verkoelde vraghouers gebruik maak om lyke te berg.

“Ons het 19 vraghouers in koelkamers omgeskep en strategies ontplooi. Dié vraghouer-koelkamers – hulle kan elk 30 lyke hanteer – is ook nou vol in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, veral in Durban,” sê Van der Westhuizen.

‘Ek het miskien nie vir jou ’n bed nie.’

Talle begrafnisondernemers, veral kleiner besighede wat nie hul eie fabrieke het nie, kla oor ’n tekort aan doodskiste.

“Ek het oproepe gekry van Kaapstad, Knysna en Durban van mense wat kiste dringend nodig het,” het Johan Rousseau van die vereniging vir hervorming in die begrafnisbedryf (Fira) die afgelope week gesê.

Die syfers van begrafnisondernemers word gesteun deur data van die Mediese Navorsingsraad oor “surplus sterftes” – ’n syfer wat die getal sterftes vir ’n spesifieke week vergelyk met die langtermyngemiddelde. Daarvolgens is 6 840 meer mense in die tweede laaste week van 2020 dood as wat 'n mens sou verwag. Dis ’n styging van 70,5%. Die syfer toon boonop ’n besliste opwaartse kurwe.

Op 15 Julie verlede jaar, die vorige hoogtepunt, is 65% meer mense dood as wat 'n mens volgens die historiese data sou verwag.

Aan die hospitaalkant lyk die syfers ewe onrusbarend.

Uit data van die siekefondsadministrateur Discovery Health blyk dit dat die daaglikse hospitaaltoelatings nou dramaties hoër is as tydens die eerste vlaag.

In KwaZulu-Natal is daaglikse nuwe opnames 84% hoër, in Gauteng 19% en in die Wes-Kaap ’n yslike 200% in vergelyking met die kruin van die eerste vlaag.

Dit beteken nie dat Covid-19-pasiënte nou sieker is as in die eerste vlaag nie. Die getal Covid-19-positiewe pasiënte wat gehospitaliseer moet word bly feitlik onveranderd op sowat 18%, toon Discovery se syfers.

Die staatsdiens se mediese fonds, GEMS, se syfers wys dié koers is effens hoër vir sy lede. Sedert die begin van die pandemie wissel die syfer tussen 21% en 32,3%. Op die oomblik beland een uit elke vier (24,5%) Covid-19-positiewe pasiënte wat aan dié fonds behoort in die hospitaal.

Dr. Jacques Koning, ’n internis wat in die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria werk, sê tydens die eerste golf verlede jaar het dokters probeer om al hul pasiënte te red.

“Nou is dít nie meer die gesprek nie. Ons kyk nou na watter groepe die beste kans het om te oorleef met minimale ingryping en daar word op hulle gefokus. Die ekstremes val nou uit. Die kans word gegee vir die ou wat ’n kans het, die ou wat drie of vier dae se suurstof nodig het en hy is reg.

“Ons jok nie hieroor nie. Ons wil julle nie bang maak nie. Ons sê hierdie dinge omdat ons omgee. Ons worry, daarom waarsku ons. Want as jy vanaand hier aankom, het ek dalk nie vir jou ’n bed nie en ek wil nie daardie besluit maak nie.”(Lees die volledige onderhoud met Jacques Koning hier.)

Wat gesondheidsbeplanners verder verontrus is dat die tweede vlaag nog nie sy hoogtepunt bereik het nie.

Die hoogtepunt (wat hospitaalopnames betref) van die eerste vlaag was op 1 Augustus, toe 8 319 mense in die hospitaal was (waarvan 1 520 in ’n hoësorgeenheid). Vrydag was daar 66% (of 13 843) meer pasiënte landwyd in die hospitaal, met 1 884 (24% meer) in hoësorg.

Dr. Lungi Nyathi, besturende direkteur van kliniese risiko by die siekefonds Medscheme, sê in KwaZulu-Natal, Gauteng en Limpopo is daar ’n gemiddelde daaglikse styging van 8% in hospitaalopnames. Dit lyk wel of die kruin van die tweede vlaag in die Oos- en die Wes-Kaap moontlik reeds verby is.

Dis veral Covid-19-gevalle en hospitaliserings in Gauteng wat na verwagting in die volgende paar weke sterk gaan styg namate Gautengers terugkeer van vakansies – baie van hulle van hoërisikogebiede soos KwaZulu-Natal, die Oos- en die Wes-Kaap.

Aktuariële modelle voorspel infeksievlakke en Covid-19-hospitaalopnames kan in April en Mei in alle provinsies begin afneem.

Teen einde Mei kan 65% van die Oos-Kaapse bevolking reeds die virus opgedoen het, gevolg deur 50% in die Vrystaat en 45% in Gauteng en KwaZulu-Natal. ’n Geraamde 40% van die Wes-Kaapse bevolking sal na verwagting reeds met die koronavirus besmet wees.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van die Netcare-groep, sê hulle gaan soveel moontlik veldhospitale, oftewel “kliniese besluitnemingseenhede”, in dié hospitale se parkeerareas inrig waar daar ’n beduidende toename in opnames is.

Netcare het die afgelope week so ’n veldhospitaal in ’n rekordtyd by die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane opgerig. Dit is Vrydagoggend geopen. Die Pholoso-hospitaal was Woensdag meer as 100% vol. Friedland sê al hoe meer siek mense van landelike gebiede stroom na die Pholoso-hospitaal.

Twee veldhospitale word volgende week in Pretoria geopen en drie in Johannesburg. Veldhospitale word vir onder meer Montana in Pretoria en Ferncrest by Rustenburg in die vooruitsig gestel.

KwaZulu-Natal het die afgelope week ’n betreurenswaardige rekord verbeter toe die provinsie meer as 67 000 aktiewe gevalle aangeteken het. Dis meer as wat enige ander provinsie op een slag gehad het.

Friedland sê rye ambulanse het by sy hospitale in dié provinsie gewag om in te kom. Mense moes in veldhospitale behandel word totdat daar vir hulle beddens is die hospitale gevind is, sê hy.

“Ons wys niemand weg nie.”

Intussen kla begrafnisondernemers ook dat die departement van binnelandse sake nie kan byhou met die uitreik van doodsertifikate nie.

"Om ’n dood te registreer moet jy by sommige binnelandse sakekantore ’n lid van die oorledene se familie saamvat,” sê Deon Koekemoer, hoofbestuurder van Martin’s Begrafnisdienste.

“Jy vat dus mense wat iemand weens ’n hoogs aansteeklike siekte verloor het en laat hulle saam met ander mense in rye staan sonder werklike fisieke afstand.”

Hy sê ondernemers is gefrustreerd dat die departement niks doen om die bottelnek te verlig nie.

Terwyl begrafnisondernemers oortyd werk met die reël van begrafnisse maak die department se kantoor steeds om 16:00 toe.

Koekemoer sê sonder ’n doodsertifikaat kan hulle nie die las op hul koelgeriewe verlig deur mense te begrawe nie.

Hy sê een lid van elke tak, meestal ’n senior, gaan gewoonlik een keer per dag na binnelandse sake om doodsertifikate te af te handel.

“Deesdae moet die persoon amper permanent in rye by binnelandse sake lewe.”

Meer oor:  Deon Koekemoer  |  Jacques Koning  |  Pieter Van Der Westhuizen  |  Kapasiteit  |  Avbob  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Hospitale  |  Beddens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.