Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bejaardes, dié met siektes dalk gouer ingeënt

As wetenskaplikes hul sin kry, sal polisiebeamptes en onderwysers moet terugstaan vir bejaardes en mense met onderliggende siektes wanneer fase 2 van die regering se inentingsprogram begin.

Dit kom nadat die ministeriële advieskomitee vir entstowwe ’n aanbeveling aan die regering gemaak het, waarvolgens bejaardes en diegene met onderliggende siektes voorkeur moet kry wat inentings betref.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdagaand in ’n verklaring gesê die regering het sy driefase-inentingsprogram aangepas. Dit is egter onduidelik in presies watter mate die advieskomitee se aanbeveling daarin neerslag vind.

Volgens ’n onlangse voorlegging van die gesondheidsdepartement is die gewysigde plan wel voorlopig om met die inenting van mense van 60 jaar en ouer te begin.

Mkhize het gesê die nuwe plan, wat ’n groter invloed op gesondheid en die ekonomie sal hê, vereis omvangryke en dringende konsultasie voordat dit gefinaliseer word.

Suid-Afrika se huidige program is in drie fases verdeel: Gesondheidswerkers is in die eerste fase ingeënt, waarna noodsaaklike werkers, gevangenes, bejaardes en mense met onderliggende siektes in die tweede fase ingeënt moet word. Die res van die land moet in die derde fase aan die beurt kom.

Dr. Angelique Coetzee, lid van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe, het Woensdag bevestig dat hulle aanbeveel het dat mense van 60 jaar en ouer, sowel as diegene met onderliggende siektetoestande, eerste ingeënt word in fase 2, wat na verwagting in Mei begin.

“Dié groepe mense is die kwesbaarste om met Covid-19 in die hospitaal opgeneem te word en te sterf. Daarom maak dit sin dat hulle eerste ingeënt word.”

Volgens Coetzee sal noodsaaklike werkers en gevangenes steeds in die tweede fase ingeënt word, hoewel dit eers ná die bogenoemde groepe se inentings sal geskied.

Dr. Stavros Nicolaou, woordvoerder van Business for South Africa, het gesê hulle vra al lank dat mense van 60 jaar en ouer in die tweede fase prioriteit geniet weens die beperkte getal dosisse entstowwe wat in Suid-Afrika beskikbaar is.

“Deur soveel as moontlik van die kwesbaarste mense voor ’n derde vlaag van die koronavirusinfeksies in te ent, kan hospitalisasie en sterftes verminder word.”

Volgens Nicolaou sal dié benadering boonop die ekonomie bevoordeel omdat strenger inperkings dikwels ingestel word wanneer die gesondheidstelsel op die randjie daarvan is om weens hospitalisasies oorweldig te word.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê hulle aanvaar die aanbeveling van die wetenskaplikes dat meer kwesbare mense bo noodsaaklike werkers geprioritiseer moet word.

“Dit sou in dié opsig selfsugtig van onderwysers wees om op voorkeurbehandeling aan te dring. Ons glo egter steeds dat onderwysers ’n hoërisikogroep is wat vir inentings geprioritiseer moet word,” het hy gesê.

Sizwe Pamla, woordvoerder van die vakverbond Cosatu, het egter gesê hulle steun steeds die strategie dat noodsaaklike werkers in die tweede fase geprioritiseer word.

“Ons verwag byvoorbeeld van polisiebeamptes om hulle deur hul werk aan infeksie bloot te stel en daarom verdien hulle om beskerm te word.”

Pamla het uitgevaar oor die stadige pas waarteen die inentings gedoen word en daarop gewys dat die regering nog nie die inenting van die land se sowat 1,2 miljoen gesondheidswerkers in die eerste fase afgehandel het nie.

“Dit is belangrik dat gesondheidswerkers so vinnig as moontlik ingeënt word om ons gesondheidstelsel teen ’n derde vlaag te beskerm,” het hy gesê.

Sowat 272 423 gesondheidswerkers was teen Dinsdagaand met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt.

Meer oor:  Dr. Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.