Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bek-en-klouseer in 4 gebiede in Limpopo

Vier landelike nedersettings in Limpopo se Vhembe-distrik is geïdentifiseer as plekke waar bek-en-klouseer voorkom nadat die siekte onlangs in dié provinsie uitgebreek het.

Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, het Maandag op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê ’n navorsingspan van die Onderstepoort-dierehospitaal het verskeie toetse gedoen, wat die siekte in dié gebiede bevestig het.

Volgens Zokwana het dié departement die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) oor die vier gebiede ingelig.

“Die besmette diere is beeste wat in landelike nedersettings aangehou word met gemeenskaplike diptenks en weiding. Die dorpe wat geraak word is naby aan mekaar binne ’n radius van 20 km,” sê Zokwana.

Daar is sowat 15 000 beeste binne die radius van 20 km rondom die dorpe, waarvan 4 500 beeste in ’n gebied is wat vry is van bek-en-klouseer.

Zokwana sê ’n gesamentlike taakspan van die departement van vervoer, rampbestuur, die polisie en staatsveeartse vergader daagliks.

“Die taakspan het 15 padversperrings opgestel wat die beweging van die diere beperk.”

Die besmette diere is beeste wat in landelike dorpe aangehou word met gemeenskaplike diptenks en weiding.

’n Taakspan, wat slegs uit veeartse bestaan, is verantwoordelik vir inspeksies, inenting en bewegingsbeheer.

Die inenting van vee het op 14 Januarie begin.

“Daar is begin by die vee in die dorpe wat geraak word, asook die vee binne die 20 km-radius rondom dié dorpe. Tot dusver is meer as 10 000 beeste ingeënt,” sê Zokwana.

Geen diere met gesplete hoewe mag dié gebied binnegaan, binne die gebied rondbeweeg of uit die gebied gaan nie.

“Diere met gesplete hoewe mag nie rondbeweeg nie. Permitte om dié diere te skuif is teruggetrek. Produkte van diere met gesplete hoewe mag binne die gebied vervoer word, maar ’n permit moet deur ’n staatsveearts uitgereik word om produkte uit die gebied te vervoer.”

Zokwana sê die uitbreking het ’n rampspoedige uitwerking op die handel van diere met gesplete hoewe en hul produkte in Suid-Afrika gehad.

Hy sê nadat die departement handelsvennote ingelig het oor die jongste verwikkelinge rondom die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo, het sommige vennote hul handelsbeperkinge effens verslap.

“Ons het handelsvennote versoek om dit te oorweeg om die handel van veilige produkte voort te sit. ’n Waarborg is uitgereik vir sekere veilige produkte wat nie die risiko inhou om die siekte te versprei nie,” sê Zokwana.

Sommige van die sogenaamde veilige produkte is vleis wat behandel is met hitte, suiwelprodukte, ontbeende en verouderde beesvleis, gewaste wol en embrio's van lewende hawe.

Sowat 4% van plaaslike beesvleis en 0,7% van skaapvleis word na die buiteland uitgevoer. Dit is dié uitvoer wat gestaak is.

Volgens Zokwana is die handel van dié veilige produkte deur verskeie buurlande aanvaar. ’n Lys van lande wat die handelsverbod verslap het kon egter nie verskaf word nie.

Zokwana sê onderhandelinge is onderweg vir nuwe gesondheidsertifikate.

“Daar is ook goeie vordering met onderhandelinge om die markte te heropen vir ontbeende, verouderde beesvleis, verwerkte suiwelprodukte en diervelle aan ander Afrika-lande, die Midde-Ooste en die Verre Ooste.”

Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), sê hoewel uitvoer van rooivleis gestaak is, het dit nie ’n groot impak op boere nie.

“Sowat 4% van plaaslike beesvleis en 0,7% van skaapvleis word na die buiteland uitgevoer. Dit is dié uitvoer wat gestaak is,” sê Schutte.

Volgens Schutte is daar reeds ’n klein persentasie beesvleis wat weer uitgevoer word ná onderhandelinge met handelsvennote.

Schutte sê beesboere sal nie bankrot speel weens bek-en-klouseer nie, hoewel hulle ’n beter prys vir hul vleis sou kry indien uitvoer nie gestaak was nie.

“Dit is egter nie ’n groot verskil nie.”

Zokwana sê weens die droogte wat in groot dele van die land voorkom, is dit moeilik om diere tot een gebied te beperk.

“Mense laat die diere rondloop omdat dit droog is en kos skaars is. Ons moet maniere kry om dié probleem op te los.”

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê die prys van graan het weens die droogte gestyg. Dít is nie goeie nuus vir boere wat vee moet voer nie.

* Bek-en-klouseer is ’n siekte wat slegs diere met gesplete hoewe kan affekteer. Die virus kan nie in mense se selle lewe nie, en dus kan mense nie siek raak wanneer hulle vleis van ’n besmette dier eet nie.

Meer oor:  Senzeni Zokwana  |  Limpopo  |  Pretoria  |  Bek-En-Klouseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.