Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bek-en-klouseer: meer geld is nodig

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) sê die regering moet die huidige uitbreek van bek-en-klouseer tot ’n ramp verklaar sodat meer geld beskikbaar gestel kan word om die siekte te bekamp.

Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, sê die organisasie steun die regering se besluit om in ’n drastiese stap veeveilings en -skoue te verbied.

Van der Ryst sê die impak van die ophef van veilings het ’n invloed op 1,2 miljoen Suid-Afrikaanse huishoudings wat vee besit.

Hy sê die verbod het ook ’n invloed op die plattelandse ekonomie, maar moet gesien word as beheermaatreëls, nie strafmaatreëls nie.

Van der Ryst sê die rooivleisbedryf sal die regering moet bystaan om die siekte te beheer.

Die regering moet so gou moontlik vasstel wat die omvang van die uitbreking is en die betrokke gebiede moet geïsoleer word sodat daar teruggekeer kan word na normale handelspraktyke.

Die VF Plus sê in ’n mediaverklaring hy gaan Morakane Mosupyoe, Gautengse LUR vir landbou, vra om strenger grensbeheer tussen provinsies toe te pas om so die uitbreek van bek-en-klouseer in die provinsie te keer.

Kobus Hoffman, ’n lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng, sê die nasionale verbod op veilings het ernstige gevolge vir die verbruiker wat hom kan voorberei op verhoogde vleispryse. Die verbod sluit ook die verkoop van varke in.

Veeboere wat reeds onder geweldige druk is weens die knellende droogte, moet nou self inspring om voorkomende veiligheidsmaatreëls toe te pas omdat die staat nie genoeg veeartse of geld het nie, sê Hoffman.

Die party het reeds die nasionale departement van landbou, bosbou en vissery gevra om so gou as moontlik gesonde gebiede in provinsies te verklaar waar veilings kan plaasvind sodat boere steeds hul vee kan verkoop. Vir baie boere wat nie meer voer vir hul diere het nie, is dit die enigste oplossing.

Die party sê die verbod op veilings plaas ook druk op die arbeidsmark omdat eienaars van vendusiekrale noodgedwonge hul werkers sal moet aflê omdat daar nie meer werk is nie.

Noko Masipa, ’n DA-parlementslid, sê die party doen ’n beroep op die regering om so gou moontlik die verbod op veilings te hef in provinsies wat nie geraak word nie.

Masipa sê die regering moet meer geld beskikbaar stel sodat die polisie die besmette gebied kan patrolleer en dat diere ingeënt kan word.

Meer oor:  Bek-En-Klouseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.