Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bekende boer van Worcester dood aan Covid-19

Die gemeenskap van Worcester en Hexvallei is in rou nadat Alexander (Boetie) Kriel (63), ’n bekende boer, entrepreneur en mentor, Maandag aan Covid-19 dood is.

Sy vrou, Christa, wat ook positief getoets is, is verpletter deur die nuus. Haar toestand het baie verbeter.

Hul dogter, Corné, en haar man, Jan, is in Amerika en kan nie ’n gedenkdiens bywoon nie.

Christa, wat boonop Vrydag in self-isolasie 61 jaar oud word, is ook ontsteld dat haar ma, wat in ’n ouetehuis in Laingsburg woon, haar ook nie kan kom bystaan nie. “Ons sal maar later, miskien oor ses maande of ’n jaar, na ons plaas by Touwsrivier gaan om sy as te strooi. Hopelik sal almal dan saam afskeid kan neem,” sê sy.

“Miskien kan ons seun, Pieter, ’n klip daar êrens kry en dan kan ons 'n gedenksteen vir hom bou,” sê sy met oë vol trane.

Boetie Kriel staan in een van sy wingerde.

Kriel was ’n boorling van die Hexvallei en hy was tot sy dood nou betrokke by die gemeenskap. Hy het aan die stuur gestaan van talle uiters suksesvolle bemagtigingsprojekte in die omgewing en was ’n steunpilaar vir baie. Hy het saam met sy seun met tafeldruiwe en skape geboer.

Volgens sy vrou van 41 jaar was Kriel, ’n diabeet wat vier insulieninspuitings per dag moes kry, “uiters beangs” dat hy die koronavirus sou kry.

Hy het egter twee weke gelede begin sleg voel en sy eetlus verloor. ’n Dokter het hom ondersoek, maar kon geen fout vind nie en het gesê hy moet terugkom as sy toestand versleg. Hy het vitamienaanvullings en hoesstroop vir sy “kuggie” gegee.

Hy het aangehou werk hoewel sy toestand nie verbeter het nie. Toe Christa hoofpyn, ’n droë mond en ander simptome kry, het ’n dokter bevind dat dit Covid-19 is.

Die egpaar is egter nie in ’n hospitaal opgeneem nie. Kriel is eers verlede Maandag in die hospitaal opgeneem nadat hy baie sleg begin gevoel het. Daardie Dinsdagnag is hy na die hoësorgeenheid oorgeplaas.

“Onder daardie omstandighede kan ’n mens nie eintlik iemand groet nie,” sê Christa. “Dit was vir my bitter sleg dat ek hom nie eers kon besoek nie, want ek is ook positief. Ek mag eers hierdie Maandag by die huis uitgaan.”

Boetie en Christa Kriel wat 41 jaar getroud was.

Christa beskryf Covid-19 as ’n “vieslike pes”.

“Dit is ’n dodelike pes wat lewens verwoes. Ek het so gebid dat God my man sal spaar en dat ons saam 70 kan word, want daar was nog so baie goed wat ons saam moes doen . . .”

Hy was tot op die ouderdom van 40 ’n groot sportman en hy was klubkaptein van die Hexvallei-rugbyklub. Hy was sowat 12 jaar betrokke by die bestuur van die Hoërskool Hexvallei, waar hy ook ’n oudleerling was.

Kriel het ook in die bestuur van die Hexvallei-tafeldruif-assosiasie gedien. “Hy het oral gedien,” sê Christa.

Sy sê sy het geen benul hoe sy 50 mense gaan kies om sy diens by te woon nie. “So baie mense het hom geken, hy het sulke diep spore in die gemeenskap getrap.”

Landbou was van kleintyd af sy passie, en hy was ’n werklike entrepreneur, sê sy. “Hy het met alles gesmous. Ek onthou een keer het ’n vragmotor met skape agterop naby ons onklaar geraak, en hy het my gevra vir R3 000 om die skape te koop.

“Ek was briesend vir hom,” sê sy en lag. “Maar minder as ’n week later was al die skape verkoop.”

Sy sê: “Ek dank God vir soveel wonderlike jare. God is in beheer en ek weet hy is nou op ’n beter plek, by Jesus se voete.”

Meer oor:  Worcester  |  Boer  |  Sterf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.