Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Belowende tekens’ van afname, maar nog ’n piek kan wink

Daar is “belowende tekens” dat Suid-Afrika sy piek in koronavirusgevalle bereik het, maar dit is nog te vroeg om te sê of dit ’n deurlopende afname is.

Salim Abdool Karim
Prof. Salim Abdool Karim Foto: Danielle Karallis

Intussen waarsku prof. Salim Abdool Karim dat die land waaksaam moet bly om ’n tweede golf te voorkom wat selfs erger as die eerste golf kan wees, soos die ervaring in ander lande was.

Karim het Maandag in ’n voorlegging verduidelik die meeste lande het ’n snel toename in gevalle gehad en nadat ’n piek bereik is, ’n stadige daling in getalle gesien. Sommige lande het egter ’n skielike styging tydens die afname ervaar, wat as ’n tweede golf beskryf word.

Om te bepaal of ’n tweede styging ophande is, word gekyk na ’n sewe dae- bewegende gemiddelde van nuwe gevalle, opnames in die hospitaal en die persentasie positiewe toetsuitslae (van toetse wat gedoen word).

SA, toetsyfers, covid-19

Die gemiddelde van nuwe gevalle oor die land heen het skerp gestyg nadat die inperking begin Junie verslap is en het middel Julie ietwat van ’n piek bereik, met ’n afname later in die maand.

Volgens Karim is dit nog nie duidelik of die gevalle werklik begin afneem het en of dit net ’n korttermynverskynsel is nie.

Die getal mense wat met Covid-19 in die hospitaal opgeneem word, toon ook “belowende neigings” van ’n afname en dit word gestaaf deur die waarnemings van dokters in die Wes-Kaap en Gauteng.

“Omdat dit nog net vir ’n week of twee gebeur het, is dit nie lank genoeg om te weet of dit op ’n voortdurende afname dui nie.”

Wat die persentasie positiewe toetsuitslae betref, het dit in Junie gestyg van een uit 12 toetse tot een uit vier toetse tydens die piek in Julie.

Dit staan tans op een uit elke vyf toetse (20%) en Karim sê dit moet nog afneem tot tussen 10% en 15% om “veilig te bly”.

“Ek sou huiwerig wees om te sê ons is verby die piek. Dit is nog te vroeg om te sê.”

Ander lande het in vergelyking ’n vroeë styging en piek beleef, waar Suid-Afrika sy piek bereik het nadat inperkings verslap is.

In Duitsland het die getal gevalle tot ’n lae vlak gedaal en dit is daar gehou.

Weens wat in Amerika en ander lande gebeur het, is daar kommer oor ’n tweede golf met selfs ’n hoër piek.

SA, tweede golf, covid-19

“Spanje het ook ’n piek gehad met ’n daaropvolgende daling in gevalle. Die afgelope twee of drie weke was daar egter ’n tweede styging en verskeie uitbrekings. Ons moet diep bekommerd wees oor ’n tweede styging wat kort ná die piek of veel later kan voorkom.”

Karim het benadruk dat Suid-Afrikaners toegewyd moet bly en nie selfvoldaan moet wees nie. Mense moet steeds hul maskers dra en ’n veilige afstand van mekaar af handhaaf.

Teen Dinsdag het Suid-Afrika steeds die vyfde meeste bevestigde gevalle van die koronavirus wêreldwyd gehad op 563 598, volgens die Johns Hopkins-Universiteit  se syfers.

Die middag was daar 20,1 miljoen gevalle wêreldwyd, met die meeste in Amerika (5 miljoen), Brasilië (3 miljoen), Indië (2 miljoen) en Rusland (890 799).

wêreldwye covid-19

Mexiko is sesde met 485 836 gevalle, gevolg deur Peru (483 133), Colombia (397 623), Chili (375 044) en Iran (328 844).

Suid-Afrika het ook op 12 na die meeste sterftes met 10 621 tot dusver.

Van die 736 254 sterftes ter wêreld is 163 465 in Amerika en 101 752 in Brasilië.

Mexiko het die derde meeste sterftes op 53 003, gevolg deur Brittanje (46 611), Indië (45 257), Italië (35 209), Frankryk (30 327), Spanje (28 576), Peru (21 276) en Iran (18 616).

Teen Maandag het Gauteng (34,3%), die Wes-Kaap (17,8%) en KwaZulu-Natal (17,6%) die meeste van Suid-Afrika se bevestigde koronavirusgevalle gehad.

Dit word gevolg deur die Oos-Kaap (14,7%), Vrystaat (5,1%), Noordwes (3,9%), Mpumalanga (3,5%), Limpopo (1,9%) en die Noord-Kaap (1,2%).

Luidens die syfers wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, daagliks uitreik, is 3 267 494 toetse teen Maandag gedoen, waarvan 16 911 in die voorafgaande 24 uur.

Maandag is 213 nuwe Covid-19-sterftes aangemeld, onder meer 64 in die Vrystaat, 57 in die Oos-Kaap, 39 in Gauteng, 30 in die Wes-Kaap, 11 in KwaZulu-Natal, tien in Mpumalanga en twee in die Noord-Kaap.

Altesame 417 200 mense het al van die koronavirus herstel, wat op ’n nasionale herstelkoers van 74% neerkom.

Die Wes-Kaap het steeds die meeste sterftes op 3 429, gevolg deur Gauteng op 2 618, die Oos-Kaap op 2 266 en KwaZulu-Natal op 1 420.

In die Vrystaat is daar tot nou toe 414 sterftes, met 149 in Mpumalanga, 130 in Noordwes, 127 in Limpopo en 68 in die Noord-Kaap.

Meer oor:  Salim Abdool Karim  |  Piek  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.