Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Bewerings oor hospitaalbeddens en lykshuise is bog’

Dit is onwaar dat daar ’n tekort aan hospitaalbeddens en plek in lykshuise in KwaZulu-Natal is weens die tweede vlaag van die koronavirus, sê Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir gesondheid in dié provinsie.

Dit is valse bewerings wat op sosiale media gemaak word en dit maak mense paniekerig en verward,” het sy Woensdagoggend op ’n media-inligtingsessie van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid gesê.

“Ja, die openbare gesondheidstelsel is onder druk, asook ook die private sektor.

Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal.

“En ja, die situasie is nie normaal nie en ver van ideaal. Maar om te beweer daar is nie genoeg hospitaalbeddens of plek in die lykshuise nie, is agterbaks, misleidend en totaal onnodig,” sê Simelane-Zulu.

In die vorige 24 uur het 104 mense in KwaZulu-Natal aan Covid-19 gesterf, terwyl 2 835 positief vir die virus getoets is.

“Dit is al heelwat beter as ’n week gelede toe tussen 4 000 en 5 000 mense per dag positief getoets is.”

Van die 2 835 mense wat positief getoets is, is 1 662 in die Durban-omgewing.

In die provinsie is 4 278 mense dood sedert die virus in Maart sy opwagting in Suid-Afrika gemaak het.

“Genadiglik het 72% van die pasiënte herstel.”

Die brandpuntgebiede in die provinsie is die eThekwini-metro (Durban), die Umgungundlovu-distrik (Pietermaritzburg), die Ugu-distrik (Port Shepstone), die Harry Gwala-distrik, die King Cetshwayo-distrik en die Ilembe-distrik.

Teen Dinsdag was daar 3 477 beddens in die provinsie vir Covid-19-pasiënte beskikbaar. Hiervan was 2 289 beset. Dit beteken 66% van beddens het pasiënte, sê Simelane-Zulu.

Veldhospitale soos dié word in al die Covid-19-brandpuntgebiede in KwaZulu-Natal opgerig om die druk op hospitale te help verlig. Foto: Argief

Van die 119 beddens in hoësorgeenhede wat beskikbaar is, was 47 (39%) beset.

Die besettingsyfer verskil van distrik tot distrik. ’n Veldhospitaal met 254 beddens op die skougronde van Pietermaritzburg word binnekort geopen.

“Daar is hospitale in gebiede wat nie dig bevolk is nie waar baie beddens beskikbaar is.

“Ons sal van dié pasiënte daarheen kan oorplaas as ons moet, maar dit sal ons nie maklik doen nie omdat dit bykomende emosionele druk op die pasiënte sal plaas om ver weg van die huis te wees.”

Simelane-Zulu het in antwoord op ’n vraag oor wat die moontlike rede is dat die provinsie deur die tweede vlag so erg getref is, gesê dit is iets wat die wetenskaplikes later sal bepaal.

“Wat ons wel weet is dat die tweede vlaag wêreldwyd erger is as die eerste vlaag. Ons is dus nie uniek nie.”

Die LUR het ’n beroep op mense gedoen wat simptome van die virus toon, om so gou moontlik mediese hulp te kry.

“Op dié manier kan hulle behandeling ontvang wat sal keer dat hulle later in die hospitaal opgeneem moet word. Dit kan help om die druk op die hospitale te verlig.”

Sy sê ook daar is nog heelwat plek in lykshuise in die provinsie.

Simelane-Zulu sê die regulasies oor drank, die dra van maskers en die aandklokreël, sal ook help om die druk op hospitale te verlig.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Kwazulu-Natal  |  Koronavirus  |  Korona  |  Koronavirussiekte  |  Dood  |  Sterfte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.