Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bloem: Arts ‘wil huil’ oor mense nie kom vir inentings

Die hoof van die Covid-19-taakspan van die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein “wil huil” oor so min mense ouer as 60 jaar hier vir inentings opdaag – terwyl gemiddeld ses tot agt pasiënte per week in dié hospitaal aan Covid-19 sterf.

Enice Dlamini ent Hester Stadler (67) van die plaas Brandvlei by Middelburg in die Oos-Kaap Maandag by Huis Idahlia langs die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein in. Foto: Marietjie Gericke

Dr. Nicholas Pearce is raadop. “Sondag het net 96 mense ouer as 60 jaar opgedaag vir inentings en Saterdag was dit 117, terwyl ons uitnodigings aan 2 000 mense gestuur het.

“Maandag het mense ook drupsgewys hier by die inenting-sentrum opgedaag.”

Onderwysers kan eers van Woensdag af ingeënt word. Die boodskap op dié stoel by Huis Idahlia langs die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein verklaar die inentingsentrum hier is nog nie vir onderwysers oop nie. Foto: Argief

Sodra ’n pakkie oopgemaak is, moet al die ampules in daardie pakkie gebruik word. Ten einde nie dosisse van die inenting te vermors nie, gaan soek hulle nou aan die einde van die dag mense in die hospitaal om in te ent, sê hy.

Hy sê hy voel hy kan in sy hande begin huil. “Ons het ’n mediese dokter wat besig is om te sterf. Hy het net ivermektien en soutsuur saam gedrink en ook nie aan die inentings geglo nie.

“Ons besef die inentings is nie die alfa en omega nie, maar dit gee daardie ekstra beskermende laag teen die siekte. Kyk wat het in Israel gebeur en hoe wonderlik inentings daar gehelp het waar die gevalle van 7 tot 20 Junie net 296 was.”

Hy sê aanvanklik het 1 000 en meer mense van ouer as 60 jaar elke dag opgedaag by Huis Idahlia, waar die hospitaal se inentingsentrum is. Dit het nou so afgeplat dat hulle nie kan verstaan wat aan die gang is nie.

“In Amerika is 6 miljoen mense met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt en net ses het bloedklonte gekry, van wie net een dood is.”

Maar mense glo die allerverskriklikste stories wat op Facebook en ander sosialemedia-platforms versprei word, sê hy.

Dr. Nicholas Pearce (middel) doen vroeër vanjaar ’n voorlegging aan dr. Zweli Mkhize, toe minister van gesondheid, en dr. Samantha Potgieter, infeksiesiekte-spesialis van Bloemfontein. Foto: Charles Smith

Volgens Pearce is daar 16 pasiënte in die waak- en hoësorgeenheid van Universitas en nog 22 in die Covid-19-saal.

“Ons syfers is laer as verlede week. Ons is op 50%-bedbesetting, maar hier is steeds baie mense wat kritiek siek is.”

Dr. Franco Erasmus, kliniese bestuurder van die Mediclinic Bloemfontein, en dr. Michelle Myburgh, hoof van die noodsentrum by Mediclinic Bloemfontein. Foto: Argief
Ons besef die inentings is nie die alfa en omega nie, maar dit gee daardie ekstra beskermende laag teen die siekte.

Dr. Franco Erasmus, kliniese bestuurder van die Mediclinic Bloemfontein, sê dit is darem nog nie nodig dat pasiënte met Covid-19 buite in hul voertuie suurstof kry nie. Dié hospitaal is sowat 95% vol.

“Ná die Paasnaweek het ons Covid-19-gevalle meer geword. Ons kry egter goeie samewerking van die ander Bloemfonteinse hospitale, soos Busamed, Emoya-Med, Hillandale, Sterling en Life Rosepark. Ons vat hande en help mekaar wanneer daar ’n bed benodig word”

Mediclinic Bloemfontein het 62 pasiënte in die Covid-19-sale, en 20 in die waak- en hoësorg-eenheid. Daar is ook pasiënte wat al so mooi herstel het dat hulle in ’n gewone saal kan lê omdat hulle nie meer aansteeklik is nie, maar waar daar steeds ’n rede is dat hulle in die hospitaal moet bly.

Erasmus sê pasiënte in Mediclinic Bloemfontein kom van die Oos-Kaap, die Noord-Kaap, Lesotho en ander dele van die Vrystaat. “Ons opvangsgebied hier is groot.”

Hy sê hul ervaring is dat die derde vlaag besig is om af te plat en dat die derde vlaag baie soos die tweede vlaag was, maar nie so erg soos die eerste Covid-19-vlaag hier nie.

Dr. Freek Bester, Bloemfonteinse internis. Foto: Argief

Dr. Freek Bester, Bloemfonteinse internis wat hoofsaaklik na Covid-19-pasiënte in die Life Rosepark-hospitaal omsien, sê die piek in die Rosestad en die Vrystaat is nog nie verby nie. “Hospitale bars uit hul nate. Ons sien ook al hoe meer mense van die platteland af kom. Ons doen ’n baie ernstige beroep op mense om samekomste te vermy.

“Ons verwag dat dit teen einde Junie en die eerste week van Julie weer ’n bietjie rustiger sal gaan.”

Hy sê daar is 50 pasiënte in die Life Rosepark-hospitaal. “Al ons beddens is vol en daar lê pasiënte in die noodgevalle-afdelings op beddens en wag. Ons doen verwysings as hier nie plek is nie.

“Daar gaan ’n stadium kom dat hier geen beddens meer te kry is nie.”

Hy sê mense sterf nou wat nie sou gesterf het as daar groter vordering met die inentingsprogram was nie.

Meer oor:  Dr. Nicholas Pearce  |  Bloemfontein  |  Covid-19  |  Vrystaat  |  3De Vlaag  |  Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.