Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Bly by jul huise, dié ding versprei soos ’n veldbrand’

Bly by jul huise, dié ding versprei soos ’n veldbrand.

So het die oud-Springbokrugbyspeler Danie Gerber (61) Woensdag gesê ’n dag nadat sy vrou, Elsabé (59), ook positief vir Covid-19 getoets is.

Hul dogter, Elanie (36), is reeds in Maart, twee dae ná Gerber, positief getoets.

Gerber, alombekend as die Doring van Despatch, het Woensdag gesê hy voel heel goed en hy maak gereed om homself weer Donderdag vir die virus te laat toets.

“My lyf is orraait, ek voel baie beter. In my hart glo ek die uitslag sal negatief wees. En sodra ek weet ek is gesond, gaan ek stap en elkeen donder wat sommer net rondloop op straat,” het Gerber geskerts.

Hy sê dit bekommer hom dat soveel mense gedurende die staat van inperking in die openbaar rondbeweeg.

Die Gerber-gesin voordat die Covid-19-virussiekte hulle getref het. Danie Gerber (links), sy vrou, Elsabé (regs voor), en hul dogter, Elanie. Foto: Verskaf

“As ek sien wat op die televisie aangaan en die resultate dophou, lyk dit asof die getalle afneem in lande waar mense gehoorsaam by die huis bly.

“Die siekte is nie sommer net ’n griep nie, dit is erger. Mense moet besef die ding versprei soos ’n veldbrand. Ek was by ’n gholfdag en daar het vyf, ses mense dit ook gekry.

“Onthou, as jy winkel toe gaan, vat jy aan ’n klomp goed, jy weet nie wie voor jou aan die goedere gevat het nie. Mense moet nou verantwoordelik optree en aan hul mede-Suid-Afrikaners, hul families, dink.”

Gerber sê al is sy uitslag Donderdag negatief, sal hy selfs ná die inperkingstydperk nog ’n week in isolasie bly. Hy sê sy hooffokus sal ook nou wees om na sy vrou en dogter om te sien.

Gerber en Elanie het tot Dinsdag toe nog alleen in sy huis in Port Elizabeth gewoon, terwyl Elsabé veiligheidshalwe in ’n vriendin se huis om die draai gebly het.

Volgens Gerber het Elanie goed vir hulle gesorg deur elke dag groente te kook en seker te maak hulle kry genoeg vloeistof in.

“Sy het baie mooi na my gekyk. Nou gaan ek na hulle omsien.”

Elanie sê juis omdat daar slegs rus deur die dokter voorgeskryf word, probeer hulle met groente en immuunversterkers hul immuniteit opbou.

Terwyl Gerber begin gesond voel, het Elanie Woensdag gesê sy het die afgelope twee dae veral swaargekry.

“Vir almal is die simptome anders. My pa het dadelik baie siek geword. Sy eerste week was erg, maar nou in sy tweede week begin hy beter voel. Ek het eers op dag agt die ergste simptome begin ervaar.”

Vir almal is die simptome anders. My pa het dadelik baie siek geword. Sy eerste week was erg, maar nou in sy tweede week begin hy beter voel. Ek het eers op dag agt die ergste simptome begin ervaar.

Sy sê die moegheid is so erg dat sy uitasem is wanneer sy badkamer toe stap, en boonop ervaar sy gereeld hoofpyne en naarheid.

Sy vermoed haar ma het dieselfde tyd as sy die virus gekry, maar dit het net vir haar langer gevat om simptome te wys. “Sy is asmaties en hoes baie. Sy sukkel met koors,” sê Elanie.

Ondanks die afgelope paar moeilike dae, sê Elanie sy probeer aanhou beweeg en ’n positiewe uitkyk hê.

“Met die virus moet jy dit net dag vir dag neem. Ons almal, die hele wêreld, het vrees en kan ’n bietjie in paniek verval oor wat aangaan, maar ons moenie in vrees leef nie. Mense moet positief bly en geloof hê.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Danie Gerber  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.