Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bly waaksaam onder vlak 1, vra Winde

Die verslapping van inperkings tot vlak 1 vereis dat almal verantwoordelik moet optree om hulself en hul geliefdes te beskerm, sê Alan Winde, Wes-Kaapse premier.

Winde het Maandag gesê persoonlike verantwoordelikheid is nou van die grootste belang om hospitalisasies en Covid-19-sterftes te verhoed.

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het dat inperkings landwyd tot vlak 1 verslap.

Winde sê die veranderings aan die inperkingsmaatreëls vereis dat almal “met selfs groter verantwoordelikheid optree. Covid-19 is steeds met ons en die moontlikheid van ’n derde vlaag kan nie uitgeskakel word nie.”

Hy het benadruk dat dit almal in die provinsie se verantwoordelikheid is om toe te sien dat lewens gered word en veilige ekonomiese aktiwiteit plaasvind om lewensmiddele te red.

Intussen sal inentings teen die virussiekte voortgaan, met gesondheidswerkers wat as deel van ’n studie die entstof van Johnson & Johnson ontvang.

Byeenkomste met beperkte getalle, veral in die buitelug, is ’n inkomstebron vir die provinsie en speel ’n belangrike rol vir gemeenskapsbou in ’n tyd wat mense nie saam tyd kon deurbring nie.

Volgens Winde sal die provinsiale regering ook voortgaan om toestande te monitor en infrastruktuur in plek te hou om ’n moontlike derde vlaag te bestuur.

Gedurende beraadslaging met die president Sondag het Winde aangevoer dat geleenthede soos sportwedstryde toegelaat moet word, “met duidelike beperkings en streng protokolle teen Covid-19 in plek”.

“Byeenkomste met beperkte getalle, veral in die buitelug, is ’n inkomstebron vir die provinsie en speel ’n belangrike rol vir gemeenskapsbou in ’n tyd wat mense nie saam tyd kon deurbring nie.”

Winde het Maandagmiddag in ’n verklaring gesê sommige byeenkomste word tans toegelaat en mense moet seker maak dat dit nie in superverspreidergeleenthede ontaard nie deur die regulasies en voorsorgmaatreëls te volg.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het Sondag die skuif na vlak 1 verwelkom en sê die verslapping van die aandklokreël sal ’n goeie hupstoot vir die gasvryheidsbedryf gee om te herstel.

“Namate inperkings verslap word, doen ons ’n beroep op inwoners om op hul hoede te bly. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om aan te hou om aan die regulasies te voldoen om nuwe besmetting sover moontlik te beperk.”

Plato het daarop gewys dat dit byna ’n jaar is sedert die eerste geval van Covid-19 in Suid-Afrika aangemeld is.

“Dit was ’n lang en moeilike jaar, maar daar is hoop namate inentings toegedien word en die nasionale regering meer entstowwe verkry.”

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good en lid van die Wes-Kaapse wetgewer, het Sondag ook die verslapping van die beperkings verwelkom.

“Ekonomiese en sosiale beperkings behoort nie enigsins langer in plek te wees as wat nodig is om die verspreiding van die virus te beperk of om seker te maak die gesondheidstelsel het kapasiteit nie,” het hy in ’n verklaring gesê.

“Ons moet leer uit ons ervaring van verlede jaar, toe ons na vlak 1 geskuif het en sommige mense onverantwoordelik opgetree het.”

Dit was ’n lang en moeilike jaar, maar daar is hoop namate inentings toegedien word en die nasionale regering meer entstowwe verkry.

Volgens Herron moet mense in die gasvryheidsbedryf veral versigtig wees sodat superverspreidergeleenthede, soos einde verlede jaar gesien is, nie weer voorkom nie.

“Dit is belangrik dat ons ondernemings kan beplan en ’n herstelplan uitvoer sonder die bedreiging van verdere state van inperking wat oor hulle hang.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Covid-19  |  Alan Winde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.