Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Boer met Kongokoors ontslaan, mag nog nie soene kry

Charl Pretorius, wat naby Ventersdorp in Noordwes boer, is uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan nadat hy Kongokoors opgedoen het.

“Ons is baie dankbaar vir mense van oor die hele Suid-Afrika heen se gebede,” het Marianna Pretorius, Charl se vrou, Dinsdagoggend gesê.

Charl Pretorius toe hy in die Klerksdorp-hospitaal vir Kongokoors behandel is. Hy het versoek dat geen ander foto’s van hom gepubliseer word nie.Foto: Verskaf

“Die dokters, susters en selfs die skoonmakers in die Klerksdorp-hospitaal waar Charl verpleeg is, was tops. Hulle het ’n ongelooflike diens gelewer.”

Die 54-jarige Charl is op 4 Mei in die hospitaal se eenheid vir hoogs aansteeklike siektes opgeneem nadat Kongokoors by hom gediagnoseer is.

Die siekte is hoogs aansteeklik, lewensgevaarlik en aanmeldbaar. Dit word deur bosluise oorgedra en kan ook van mens tot mens aangesteek word.

Charl het die virus vermoedelik opgedoen nadat hy einde April ’n bosluis in sy hare gekry, dit tussen sy vingers doodgedruk en die bloed aan sy broek afgevee het. Die virus, wat deur liggaamsvloeistowwe oorgedra word, het vermoedelik deur die materiaal in Charl se broek gekom en is deur sy vel geabsorbeer. Die bosluis het hom nie gebyt nie.

Charl is sowat ’n week in isolasie by die eenheid in Klerksdorp behandel. Marianna en ander besoekers kon net deur ’n glasafskorting met Charl praat.

“Ons moes onsself ontsmet voordat ons in die besoekgebied ingegaan het en beskermende klere dra,” het Marianna vertel.

Charl, wat ’n gemengde boerdery bedryf, word nog gou moeg en mag vir eers nie besoekers ontvang nie, sê Marianna.

“Hy kan kort entjies loop, maar sy liggaam moet nou kans kry om te herstel. Dis vir hom baie lekker om terug by die huis te wees. Die kanse is skraal dat hy ons nog kan aansteek, maar dis teoreties moontlik. Ons maak seker ons kom nie in aanraking met sy liggaamsvloeistowwe nie. Hy mag drukkies kry, maar nog nie soentjies nie.”Marianna wil mense waarsku om nie soos Charl bosluise met hul vingers stukkend te druk nie.

“Ander boere, werkers en mense met troeteldiere moet bedag wees hierop.”

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, sê die Klerksdorp-hospitaal is ’n ten volle funksionele verwysingseenheid in Noordwes vir hoogs aansteeklike siektes soos Kongokoors en Ebola. Daar is onder andere ’n hoogs opgeleide en gespesialiseerde span verpleegsters, dokters en ’n beheerbeampte vir infeksievoorkoming.

Volgens Nico Masiu, woordvoerder van die Tshepong-Klerksdorp-hospitaal, word Kongokoors tipies deur bosluise oorgedra wat swart van kleur is en wit en rooibruin strepe aan hul pote het.

Simptome sluit koors, hoofpyn, moegheid, duiseligheid, diarree, gewrigs- en spierpyne, asook bloeding in die neus, tandvleis en urine in.

“Mense moenie bosluise self verwyder indien hulle gebyt is nie, maar eerder na ’n dokter gaan sodat hy dit kan doen,” sê Masiu. “Die gereelde behandeling van plaasdiere teen bosluise help ook om die siekte te voorkom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.