Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Boer oorleef plaasaanval, sterf aan Covid

’n Boer van Dewetsdorp wat in 2019 twee dae voor Kersfees ’n plaasaanval op hul plaas, Franskraal, waarin hy en sy vrou erg aangerand is, wonderbaarlik oorleef het, het Saterdag aan Covid-19 gesterf.

Gert Pienaar (82) en sy vrou, Joey (76).

Gert Pienaar (82) se dogter, Wilmien van Tonder, sê haar pa se dood laat ’n enorme gat op aarde.

“My pa was ’n legende in die Dewetsdorp-omgewing en werklik ’n bitter goeie mens. Ek weet nie van een mens met wie hy nie vriendelik was nie. Hy was altyd bereid om te vergewe en te help.”

Van Tonder sê haar ouers is in hul plaashuis oorval, maar haar pa het hul aanvallers vergewe.

“Hy het die ses plaasaanvallers wat hom en my ma, Joey, op 23 Desember 2019 in hul slaapkamer oorval, met ’n glasbottel en geweer oor die kop geslaan en met ’n mes gesteek en vasgebind het, vergewe en agterna vir hulle gebid.”

Van Tonder sê die plaasaanvallers se aandag is destyds deur iets afgetrek en hulle het met hul buit, twee handwapens, ’n kleinkalibergeweer en selfoon, gevlug.

In dié tyd het haar ma haarself losgewikkel gekry en ’n kilometer ver in die nag bebloed en met kneusplekke na die buurplaas vir hulp gestrompel.

Haar pa kon hom intussen ook loswikkel.

Die Pienaar-egpaar nadat hulle op 23 Desember 2019 in 'n plaasaanval erg aangerand en met ’n glasbottel en geweer oor die kop geslaan en met ’n mes gesteek is.

Sy sê haar pa en ma het toe die plaas verkoop en na die dorp verhuis.

“Hulle het eenvoudig gelewe en met die minimum klaargekom sodat hulle vir ander kon gee. My pa was ’n ongelooflike mens en sy vingerafdruk sit op alles,” sê sy.

“Hy het die natuur so liefgehad dat hy vir die springhasies mielies gevoer en vir die tarentale water aangedra het. Hy het troppe wildevarke en meerkatte gevoer. Hy het vir God en sy Skepping goddelike respek gehad. Hy het altyd so opgetree dat hy ander kon inspireer.”

Sy sê haar pa was ook ’n getroue Volksblad-leser.

“My pa is Saterdag om 13:00 in die waakeenheid van die Netcare Universitas Hospitaal in Bloemfontein dood.”

Dit kom nadat hy op 27 Desember siek geword en hy op 29 Desember positief vir Covid-19 getoets is.

My pa was ’n legende in die Dewetsdorp-omgewing en werklik ’n bitter goeie mens.

Hy is op 5 Januarie in die hospitaal opgeneem.

Van Tonder sê wat sleg is, is dat daar Saterdag ook nog by haar ouerhuis in Dewetsdorp ingebreek is terwyl die familie by haar pa in Bloemfontein was.

Dit was vermoedelik dieselfde inbrekers wat ook die naweek by ander inwoners wat Covid-19 het en nie tuis is nie, gaan inbreek het, waar die polisie hulle betrap het.

Sy sê haar pa sal Woensdag veras word. Die roudiens is eerskomende Saterdag in die NG kerk Dewetsdorp waar ds. Horace van Coller die diens om 11:00 sal lei.

Dit is beperk tot 50 mense en diegene wat dit wil bywoon, moet vooraf laat weet.

Pienaar word oorleef deur sy vrou, Joey, twee kinders, Wilmien van Tonder en Gert Pienaar, en vier kleinkinders; Izelle en Willem-Meyer van Tonder, en Daniël en Lourika Pienaar.

Daar is ook Hannes Pienaar en Santa Marx, wat deel van die kinderkring is.

Meer oor:  Vrystaat  |  Dewetsdorp  |  Covid-19  |  Plaasaanval  |  Koronavirus  |  Tweede Vlaag  |  Pandemie  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.