Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Bolandse onnie: ‘Dit kan met enigiemand gebeur’

’n Jong onderwyseres van Ceres in die Boland het Dinsdag gesê sy was genoodsaak om haar koronastatus bekend te maak nadat sy gesien het hoe mense bespiegel oor ’n tweede onderwyser in die Breedevallei wat positief vir die virus getoets is.

Netwerk24 het Shandré Minnaar (26), ’n onderwyser by Hexvallei Sekondêr in De Doorns in die Boland, Dinsdag gekontak nadat dit bekend geword het dat sy die onderwyser is waaroor Worcester Standard verlede week berig het.

Sy het Dinsdag gesê sy hoop dat sy met haar bekendmaking mense sover sal kry om meer ondersteunend teenoor diegene te wees wat die virus onder lede het en ook te besef dat dit nie ’n skande is nie, nie ’n doodsvonnis is nie en dat daar nie ’n stigma aan moet kleef nie.

“Dit kan met enige mens gebeur; dit het met my gebeur.”

Minnaar is verlede Maandag dokter toe nadat sy olik begin voel het. Sy het gesê dat sy te laat was om getoets te word en is die volgende dag terug waar sy toe getoets is. Haar uitslae het Vrydag gekom en het gewys dat sy positief is.

Shandré Minnaar Foto: Facebook

Sy het haar laat toets nadat sy griepsimptome begin ervaar het. “My lyf was seer, keel krapperig, kop was seer, maar ek het glad nie gehoes nie, my neus was ook glad nie geblok nie en ek het nie eens ’n koors gehad nie.”

Sy het gesê sy het egter bekommerd geraak toe sy besef dat sy niks kan proe of ruik nie.

“Toe my uitslae kom het my dokter vir my gesê ek moet onmiddellik in selfisolasie gaan. Ek het gesê dat dit bietjie moeilik is omdat ek, my baba en ma by my oupa- en ouma woon.”

Sy is toe Vrydag na die Dennebos-vakansieoord buite Ceres wat as kwarantyn-huisvesting vir die Witzenberg-area gemerk is.

Haar dogtertjie van 23 maande en haar ma is ook getoets en het Maandag by haar aangesluit toe ook hulle positief getoets is.

Haar grootouers is ook sedertdien getoets en wag nou op hul uitslae.

Minnaar het ook op Facebook gesê dat sy die onderwyser is waaroor daar geskryf is.

“Ek het onmiddellik die skool laat weet en ook die onderwysers met wie ek die vorige week in kontak was.”

Sy het gesê sy is dankbaar dat die skoolhoof saam met wie sy die vorige week in ’n voertuig gery het en kollegas met wie sy in aanraking was tot dusver negatief getoets is.

Sy het gesê haar kollegas is baie ondersteunend, maar daar is ander mense wat onsensitief staan en haar verkwalik dat sy hulle of ander kon aangesteek het.

“Ek weet nie waar of by wie ek aangesteek het nie. Ek was uiters versigtig en het soos aangeraai, gereeld my hande gewas en sosiale afstand behou. Ek was die mens wat met handskoene ’n winkel binnegegaan het. Enige mens kan die virus opdoen en jy sal nooit regtigwaar weet waar of wie die draer is nie.”

Minnaar het Sondag op Facebook geskryf: “Ek hoef seker nie dit te doen nie, but I might as well . . . Want die bespiegelinge maak dinge lelik so as mense ingelig is, dalk sal hulle meer sensitief optree.”

Minnaar, haar dogtertjie en haar ma sterk goed aan. Sy het gesê dat die huisie waar hulle drie in die oord bly netjies toegerus is en dat hulle elke dag kos kry.

“Ons moes net ons eie beddegoed bring. My dogtertjie lyk baie gesond, my ma sukkel nog met haar keel en rug, maar ons drink vitamienaanvullings soos bruistablette elke dag en dan ook die gewone griepmedisyne.

Maar ons staan sterk en gaan gesond word.”

Meer oor:  Boland  |  Ceres  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Onderwyseres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.