Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Breekbaar in die townships in dié virustyd

Voordat ons nie weet wat in die townships aangaan nie, kan ons nie selfvoldaan raak (oor die land se vordering om die verspreiding van die korona-virus te bekamp) nie, het dr. Zweli Mkhize, nasionale minister van gesondheid gister gewaarsku.

Chris Ngonyama (links) en Steven Thamaga is bekommerd oor sanitasiegeriewe in Alexandra.

En uit Rapport se gesprekke met inwoners van townships is dit duidelik dat talle dit baie moeilik vind om aan die inperkingsmaatreëls gehoor te gee – om sosiale én finansiële redes.

“Mense gaan eers gehoor gee as hulle siekes rondom hulle sien sterf,” verwoord ’n moedelose gemeenskapsleier in Alexandra in die noorde van Johannesburg Donderdag sy frustrasie.

David Mahlangu het oorkant die huis waar ’n begrafnisdiens in Alexandra gehou is, gestaan om nie die regulasies oor begrafnisse (’n maksimum van 50 mense) te oortree nie.

“Ons kultuur hier is dat ons vir onsself moet sien. Eers as familielede begin sterf, sal jy die mense nie op die straat gewaar nie.”

In Khayelitsha in die Wes-Kaap, ’n reuse-gebied met minstens 1 miljoen inwoners, het twee inwoners reeds positief vir die siekte getoets.

Minder klante – ‘polisie vat vas!’

Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, het Donderdag beloof dat die hoeveelheid toetse in die buurte waar dié twee mense gewoon het, drasties verhoog gaan word.

“Min mense besoek mediese geriewe gedurende die 21 dae van die inperking. Daarom gaan die gesondheidsowerhede na die mense.”

Ry jy deur Khayelitsha, is dit opmerklik dat die gegoede buurte en gebiede met subekonomiese behuising baie stiller is as die armer dele, waar daar ’n geroesemoes van mense is met talle wat om vleisbraaivure saamdrom. Hier is ook baie meer polisie-patrolliemotors.

’n Klipgooi van die Khaye­litsha-hospitaal pak die 29-jarige kleinsakeman Samkelo Qoko (29) vroegaand hoenders op ’n vleisbraaivuur. Spineweg, waar hy sake doen, is stil vir dié tyd van die dag. Langs hom staan ’n ry verlate braaidromme van ander verkopers.

Samkelo Qoko (29) sê sy braai-onderneming in Spineweg, Khayelitsha, doen minder sake tydens die inperking. Foto: Edrea du Toit

“In Suid-Afrika hou ons daarvan om op straat te koop. Hier kry jy meer hoender as by KFC,” sê hy met ’n groot glimlag oor sy hoenders wat hy teen R90 stuk verkoop.

Qoko doen minder sake sedert die inperking begin het. Hy reken inwoners gee gehoor aan die inperking se streng reëls, “want die polisie vat vas!”

In die noorde lyk die prentjie soortgelyk. Teen Donderdag was daar een sterfgeval in die Setswetla-gebied in Alexandra. Die provinsiale owerhede vrees die virus kan nou vinnig versprei in die Gauteng-provinsie met die meeste mense wat positief getoets het.

Die grootste kommer onder inwoners is nie te min kos nie, maar eerder dat hulle nie geld gaan hê om dit te koop nie. Ook sanitasie is ’n onverwagte probleem. Omdat meer mense tuis is, is die druk op die beperkte getal buite-toilette groter.

Steven Thamaga, een van die inwoners, sê hoewel die 26 buitetoilette (wat sowat 1 000 mense bedien) drie keer per week gediens word, is dit onvoldoende.

“Dan is daar die haweloses wat nie werk nie en nie geld het om kos te koop nie. Ons kollekteer maar by mense en gee aan hulle wat niks het nie.”

Chris Ngonyama vrees mense sal oproerig begin raak as hulle honger raak en daar is nie geld nie.

In Londonweg in Alexandra kla drie jeugdiges oor hongerte. Bayanda Paqwa (21) sê hulle het nie werk of geld nie. “Ons word van die straat gejaag, maar ons het soms mense se karre gewas om kosgeld te kry.” Van hulle het ook gehelp waar daar bouwerk was. “As dit nog 20 dae aanhou, weet ons nie wat gaan gebeur nie. Dié week is alreeds moeilik.”

Terug in Khayelitsha in Steve Biko-rylaan in Kaapstad sê George Mnonose (64) die inwoners “luister na die president. Hulle sukkel ook maar en is bang hulle verloor hul werk. Baie het nie UIF (werkloosheidsversekering) nie en is ook nou deur hul werkgewers gedwing om onbetaalde verlof te neem.”

In Bongo-rylaan sê Thembakazi Sonkqayi (32) sy gaan vroegoggend inkopies doen, “want as jy later kom, is die rye chaoties. Die sjebiens is toegemaak en baie mense smag na drank, maar as jy die wet verontagsaam, dan . . . Die lewe is gespanne in Khayelitsha. Ons is so paranoïes, breekbaar.”

Meer oor:  Khayelitsha  |  Alexandra  |  Coronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.