Pres. Cyril Ramaphosa het opdrag gegee dat Suid-Afrikaanse burgers wat in Wuhan, China, vasgekeer is weens die Covid-19-virus, na Suid-Afrika gebring moet word.
Luidens ’n verklaring wat Donderdagaand deur die presidensie uitgereik is, het die kabinet op dié stap besluit “nadat alle omstandighede oorweeg is en weens verskeie versoeke van die families van Suid-Afrikaners in die stad”.
Daar is volgens die verklaring sowat 199 Suid-Afrikaners in Wuhan, gegrond op ’n lys wat van die departement van internasionale verhoudings en samewerking verkry is.
Van diegene op die lys, het 132 uitdruklik gevra om na Suid-Afrika terug te keer en dat die regering in die verband moet help.
Die Suid-Afrikaners word – soos ander inwoners van Wuhan waar die virus uitbreek het – beperk in hul beweeglikheid weens die streng voorsorgmaatreëls wat Chinese owerhede ingestel het om die verspreiding van die virus te voorkom.
Volgens die presidensie is nie een van die individue wat na Suid-Afrika gebring gaan word positief getoets vir die virus nie. Hulle sal met hul aankoms in Suid-Afrika vir 21 dae in kwarantyn geplaas word as ’n voorkomende maatreël.
“Die regering is in voortdurende kommunikasie met die families van diegene wat geraak word,” sê die presidensie.
Die regering is in voortdurende kommunikasie met die families van diegene wat geraak word.
Verskeie regeringsdepartement gaan saamwerk aan die repatriasie.
Die departement van gesondheid sal personeel beskikbaar stel wat tydens die repatriasie en die kwarantyn ondersteuning sal bied.
Traumaberading sal verskaf word deur die departement van maatskaplike ontwikkeling. Meer inligting sal later beskikbaar gestel word.
Ramaphosa het in die verklaring opnuut solidariteit teenoor China se regering en inwoners uitgespreek, asook Suid-Afrika se dankbaarheid vir die bystand en hulp wat aan die Suid-Afrikaners in die land gebied word.