Die koronavirusvariant wat vir die eerste keer in Desember in Brittanje geïdentifiseer is, is nou ook in Suid-Afrika gevind.
Prof. Tulio de Oliveira, direkteur van die genomika-observasielaboratorium Krisp (KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform) het Donderdag op Twitter bevestig dat die variant B.1.1.7 (501Y.V1) plaaslik geïdentifiseer is.
The New York Times berig dat hierdie variant reeds in meer as 50 lande opgespoor is.
Volgens die sentrums vir die siektebeheer-en-voorkoming (CDC) word dié variant doeltreffender as ander EarsCoV-2-variante oorgedra.
Die 501Y.V2-variant, wat in Oktober verlede jaar vir die eerste keer in Suid-Afrika geïdentifiseer is, het een van dieselfde mutasies as die B.1.1.7-variant en is in minstens 20 ander lande, waaronder Brittanje, aangetref.
Kundiges, onder wie prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 en De Oliveira, het onlangs gesê die 501Y.V2-variant is 50% meer oordraagbaar as ander variante, maar daar is nog geen bewyse wat daarop dui dat dit mense ernstiger siek maak nie.
Terwyl wetenskaplikes nie bekommerd is oor die effek van die B.1.1.7-variant op die doeltreffendheid van entstowwe nie, dui navorsing daarop dat die 501Y.V2-variant die potensiaal het om immuniteit te omseil.
Dit kan gevolglik ’n effek hê op die doeltreffendheid van teenliggaampies wat deur ’n entstof gegeneer word.
De Oliveira, wat by een van die studies betrokke was, meen egter nie mense moet bekommerd wees nie. Hy is hoopvol dat die entstowwe positiewe resultate sal toon, aangesien proewe daarop dui dat dit baie sterker teenliggaampies tot gevolg het as dié wat deur primêre infeksie gegenereer word.