Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Byna 1 miljoen mense in Wes-Kaap reeds ingeënt

Meer as 150 000 mense is die afgelope week in die Wes-Kaap teen die koronavirus ingeënt, die tweede week in ’n ry dat dié teiken gehaal is.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het in ’n verklaring gesê die teiken is dat daar vroeg volgende week reeds 1 miljoen inentings toegedien sal wees in dié provinsie.

Verlede week is daar tussen Maandag en Vrydag 158 539 inentings toegedien: Maandag 30 753, Dinsdag 27 124, Woensdag 32 597, Donderdag 34 482 en Vrydag 33 583.

Die probleme met geweld in die taxibedryf in die Kaapstadse metropool het daartoe gelei dat daar nie Dinsdag soveel inentings gedoen is as wat gehoop is nie.

Dit het die totaal van mense wat reeds een van die twee dosisse Pfizer-entstof gekry het, asook die gesondheidswerkers en onderwysers wat die enkele dosis entstof van Johnson & Johnson-entstof ontvang het, in die provinsie tot 960 594 laat styg.

Saterdag het die gesondheidsdepartement tien sentrums oopgestel vir mense wat nie in die week tyd gehad het vir inentings nie, onder meer die Goodwood-saal, die Valsbaai-hospitaal, die Saxon Sea-saal in Atlantis, die Beaconvale-sorgsentrum in Mitchells Plain en die Gugulethu-kliniek in die metropool asook die Montagu-kliniek, die Van der Stell-saal in Stellenbosch, die Vredendal-sportsaal, die Citrusdal-hospitaal en die T.C. Newman-hospitaal in die Paarl. Indien nodig, sal nog plekke oor naweke oopgestel word, maar dit hang af van die beskikbaarheid van entstof.

Die departement het Vrydag nog 93 600 dosisse entstof gekry en saam met die oorblywende inentings van die afgelope week, sal daar by 200 plekke oor die provinsie heen inentings in die komende week toegedien kan word.

Intussen het Mireille Wenger, DA-hoofsweep in die Wes-Kaapse wetgewer en voorsitter van die Covid-19-ad hoc-komitee, in ’n verklaring gesê met die jongste inligting oor nuwe gevalle wat aangemeld word, blyk dit dat die Wes-Kaap die piek van die derde vlaag teen omtrent 17 Julie bereik het, en daar is ’n moontlikheid dat die kurwe van nuwe gevalle begin afplat.

Sy sê openbare gesondheidsdienste se vermoë om pasiënte met Covid-19 tye versorg, is op groot skaal verbeter sedert die eerste vlaag van die virus. Daar is nou 420 ton suurstof beskikbaar teenoor 266 ton met die eerste vlaag. Verder is daar 2 300 beddens in hospitale beskikbaar spesifiek vir Covid-19-pasiënte, teenoor 1 681 met die eerste vlaag.

Behalwe vir die 216 sentrums waar die departement entstof toedien regoor die provinsie, is daar in die private sektor bykomend 85 plekke in die metropool en 33 plekke in landelike gebiede van die provinsie waar inentings toegedien word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.