Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Byt vas, kwarantyn is nie maklik’

Om in kwarantyn te wees is selfs onder die beste omstandighede nooit maklik nie.

Daarom is haar beroep op die groep Suid-Afrikaners wat verlede week met ’n spesiale vlug van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) uit Miami in Florida, Amerika, na Johannesburg gebring is, om net nog ’n paar dae vas te byt.

Só sê Charlotte Quenet-Meintjes, Suid-Afrikaanse bestuurder van die maatskappy Workaway International wat vir die huurvlug help betaal het.

Netwerk24 het die laaste paar dae klagtes ontvang van ouers van sommige van die jong Suid-Afrikaners oor die toestande in Eskom se opleidingsentrum in Midrand, Johannesburg, waar hulle sedert hul terugkeer verlede Woensdagaand in kwarantyn is.

Die jong Suid-Afrikaners werk by spog-gholfklubs in Florida. Dié klubs het ook help betaal aan die huurvlug.

Van die ouers kla die kamers waarin hul kinders tuisgaan, was met hul aankoms vuil. Hulle het ook glo byna drie uur rondgery voordat hul by die sentrum aangekom het.

Die ouers kla die kos wat hul kinders die eerste paar dae gekry het, was koud, daar was ’n tekort aan seep en hulle was beperk tot hul kamers, waarvan baie nie eens ’n televisiestel het nie.

“Ons kinders voel asof hulle soos misdadigers behandel word,” het ’n ouer gesê.

Ons besef dit is ’n netelige kwessie en dit is nie maklik om in die moeilike omstandighede te bly nie.

Die ouers sê daar is aanvanklik aan hulle gesê die jong Suid-Afrikaners wat in Johannesburg afgeklim het, sou in ’n hotel naby die O.R. Tambo-lughawe in kwarantyn wees.

Dié wat in Kaapstad, Port Elizabeth en Durban in kwarantyn is, gaan vir die kwarantyntydperk in hotels tuis.

“Dit is so dat daar aanvanklik aan ons gesê is die Johannesburg-groep sou ook in hotels tuisgaan. Daar is egter aan ons verduidelik dat daar soveel Suid-Afrikaners in dieselfde tyd van oorsee af teruggekeer het, dat daar nie meer oral in hotels plek beskikbaar was nie,” het Meintjes Sondag by navraag gesê.

“Ons besef dit is ’n netelige kwessie en dit is nie maklik om in die moeilike omstandighede te bly nie. Ons as maatskappy kan ongelukkig nie veel doen nie, maar het die probleme onder die aandag van Eskom en die owerhede gebring.

“Ek moet sê hulle was baie behulpsaam en het uit hul pad gegaan om dinge te probeer verbeter,” sê Meintjes.

Sy sê Workaway International se hoofkantoor het selfs ’n brief aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington, die Amerikaanse hoofstad, gestuur.

“Dit is ook nie almal wat kla nie. Die meeste het hul lot aanvaar.

“My raad aan hulle is om net nog ’n paar dae vas te byt. Hulle word binnekort weer getoets vir Covid-19 en die kans is glo goed dat as hulle steeds negatief toets hulle huis toe gestuur sal word om daar in selfkwarantyn te gaan,” sê Meintjes.

Eskom en die Gautengse departement van gesondheid het nog nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

* Die VF Plus in Noordwes sê hy het talle klagtes oor toestande in die Klerksdorp-Tshepong-hospitaalkompleks, wat amptelik as Noordwes se isolasie-gerief aangewys is, ontvang.

Meer oor:  Koronavirus  |  Repatriasie  |  Inperking  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.