
Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Argief
Foto: Argief
Bheki Cele, minister van polisie, het Sondag die landwye, oënskynlike afname in ernstige en geweldsmisdade gedurende die staat van inperking verwelkom.
Hy skryf dit toe aan die verbod op alkoholverkope sedert die inperking op 27 Maart om middernag begin het.
“Die misdaadstatistieke vir 2019-’20 is nog nie bekend gemaak nie. Die analise wat gedoen is, is dus voorlopig en moet nog bevestig word,” lui ’n verklaring van sy departement.
Die verslag vergelyk die eerste week van die inperking met die ooreenstemmende tydperk in 2019.
“Moordsake het van 326 gevalle tot 94 afgeneem, verkragtingsake van 699 tot 101 en sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer van 2 673 tot 456. Trio-misdaad, wat roof, huisbraak en kapings insluit, het van 8 853 klagte tot 2 098 afgeneem,” lui die verklaring.
Die afname in die getalle sedert die eerste paar dae dui daarop dat mense die inperking begin verstaan en die reëls begin gehoorsaam.
Ondanks die afname is daar steeds kommer oor gendergeweld.
“Die getal klagte wat met gendergeweld verband hou, is steeds hoog. Meer as 2 300 gevalle is sedert die begin van die inperking by die polisie aangemeld. 148 mense is in verband hiermee aangekla,” lui die verklaring.
Cele het sedert die begin van die inperking sy kommer uitgespreek oor ’n verwagte toename in gendergeweld gedurende die staat van inperking.
“Die minister het die polisiebestuur opdrag gegee om die relevante eenhede te aktiveer sodat die polisie gereed is om hierdie soort sake op te volg.”
Cele noem ook die afname in polisiegeweld in die verklaring.
“Die afname in die getalle sedert die eerste paar dae dui daarop dat mense die inperking begin verstaan en die reëls begin gehoorsaam,” lui die verklaring.