Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
China sê lekkasie is ‘strydig met gesonde verstand, wetenskap’

China kan nie die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se plan vir die tweede fase van sy ondersoek na die oorsprong van die Covid-19-pandemie aanvaar nie.

Zeng Yixin
Zeng Yixin, adjunkminister van die nasionale gesondheid-kommissie, Donderdag op ’n nuuskonferensie in Beijing, waar die oorsprong van Covid-19 bespreek is. Foto: AP

Die Associated Press berig Zeng Yixin, die adjunkminister van die nasionale gesondheidskommissie, is “nogal verbaas” oor die WGO se voorneme om verdere ondersoek in te stel na die teorie dat die virus moontlik uit ’n Chinese laboratorium gelek het.

Yixin het Donderdag op ’n nuuskonferensie in Beijing die idee van ’n lekkasie afgemaak “as ’n gerug wat strydig is met gesonde verstand en wetenskap”.

Die soeke na die oorsprong van die virus het ’n diplomatieke tameletjie geword wat China se betrekkinge met ander lande, soos die Verenigde State, vertroebel.

Die VSA kritiseer China dat hy nie deursigtig is oor wat werklik in die vroeë dae van die pandemie gebeur het nie. China beskuldig op sy beurt kritici daarvan dat hulle die land die skuld vir die pandemie wil gee en ’n saak verpolitiseer wat eerder aan wetenskaplikes oorgelaat moet word.

’n Ondersoek na die oorsprong van die virus is vroeër vanjaar uitgevoer deur ’n internasionale span wetenskaplikes wat na Wuhan gestuur is om saam met hul Chinese eweknieë te werk. Die span word daarvan beskuldig dat hulle geswig het voor die eise van die Chinese dat verdere ondersoek daaroor nie nodig sou wees nie.

Volgens CNN het die WGO in Maart ’n aanvanklike verslag van sy ondersoek na die ontstaan van Covid-19 bekend gemaak waarin hy vasgestel het dat die virus waarskynlik sy oorsprong in ’n dier gehad het voordat dit rondom Desember 2019 na die mens versprei het.

’n Toenemende getal Westerse lande, waaronder die leiers van die G7, bevraagteken egter die deeglikheid van die oorspronklike verslag.

Pres. Joe Biden het Amerikaanse intelligensie-agentskappe beveel om ondersoek in te stel na die ontstaan van die pandemie en daarop gewys dat Westerse waarnemers nog nie volle toegang tot laboratoriums in China gekry het nie om te bepaal of dit ’n eksperiment was wat verkeerd geloop het.

Die BBC berig dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die WGO, het ook ’n oproep op China gedoen om sy samewerking te gee oor die vroeë stadiums van die uitbreking.

Die WGO-hoof het vroeër vandeesmaand voorwaardes uiteengesit van ’n voorgestelde tweede fase van ’n ondersoek, insluitende oudits van wetenskaplike navorsingsinstellings in die gebied waar die virus die eerste keer geïdentifiseer is.

Hy het Beijing gevra om “deursigtig en oop te wees”, met ondersoekers saam te werk en inligting te verskaf wat nie tydens die eerste ondersoek gedeel is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.