Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
6 van toergroep sterf aan Covid-19

’n Groep bejaardes wat na Namibië getoer het, is kort voordat hulle sou terugkeer na Kaapstad glo byna almal positief vir die koronavirus getoets.

Uit die toergroep van 40, wat Savanna Toere se reis van Kaapstad na Namibië meegemaak het, is 37 na verneem word positief getoets, van wie ses aan Covid-19 dood is.

Op Savanna Toere se webtuiste word die reisplan na Namibia uitgestippel. Foto: Skermgreep

Verskeie bronne met wie Netwerk24 gepraat het, het gesê 37 toergroeplede is positief getoets, van wie vier in Windhoek dood is en twee in Suid-Afrika.

Onder hulle is Danie Blom, die groepleier en ’n eienaar van die toeronderneming. Hy is per lugambulans uit Windhoek na Johannesburg gebring en is Sondag aan die virussiekte dood.

Die toergroep het Kaapstad op 10 Mei verlaat en die toer sou tot 21 Mei duur. Met die aanvang van die toer het al die toerlede sertifikate ingedien dat hulle negatief vir die virus getoets is. Dit was verpligtend.

Chris Zondacht sê sy ouers, Chris (65) en Martie (63), was op die toer. Hulle het hom ’n dag voordat hulle sou terugvlieg Kaapstad toe ingelig hulle is positief getoets.

Martie het vir haar seun vertel hoe een van die vroue vroeër tydens ’n bootrit by Walvisbaai glo inmekaargesak het. Sy is eerste in Namibië aan die virussiekte dood, sê Zondacht.

Op dag 9 was die toergroep by Etosha en die meerderheid van die groep glo ernstig siek. Chris was te siek om op ’n wildrit te gaan.

“Hierna het ons gehoor byna almal is positief. Ons was rasend van bekommernis, veral omdat hulle so ver van ons af was.”

Volgens hom is sy ouers in Namibië in isolasie geplaas en was hul suurstofvlak by tye baie laag.

“Ons het gelukkig familievriende in Windhoek wat kon seker maak die nodige medisyne word by die Safari Hotel (waar lede van die toergroep in isolasie was) afgelewer.”

Zondacht sê dit help nie om te tob oor wat verkeerd geloop het nie.

“Ek is net dankbaar my ouers leef. Ons wil ons medelye betuig met diegene wat gesinslede verloor het. Dit was ’n vakansie wat in ’n nagmerrie ontaard het.”

’n Man van Worcester, wat anoniem wil bly en saam met sy vrou op die toer was, sê dit is moeilik om te bepaal wanneer die virus onder die toergroep posgevat het.

Hy en sy vrou het eers simptome begin wys nadat hulle in isolasie geplaas is.

Die man sê al die nodige regulasies ís toegepas. “Dit baat nie om die skuld op enigeen te probeer pak nie.”

Dawid Kellerman, eienaar van Paarl Rock Tours, het bevestig sy maatskappy het op 28 Mei 33 mense in twee busse uit Windhoek na Suid-Afrika teruggebring. Een bus was reeds in Windhoek en die ander het uit Kaapstad gery om die groeplede by die grenspos op te laai.

Savanna Toere is vir kommentaar gebel en ’n vrou wat die telefoon geantwoord het, maar haarself nie wou identifiseer nie, het bevestig sy het Netwerk24 se navraag gekry, maar dat die toergroep nie kommentaar gaan lewer nie.

Sy het wel gesê “haar pa (met verwysing na Blom) is ook dood”.

Meer oor:  Namibië  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.