Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19-adviesraad word bloot versterk

Die regering se Covid-19-adviesraad word nie ontbind nie, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Maandagaand in ’n verklaring gesê.

Die raad word bloot versterk en verskeie nuwe kenners en raadgewers gaan in die raad dien, veral om te help en advies te gee om ’n tweede vlaag van Covid-19-infeksies te beperk, sê Mkhize.

Daar is verlede week berig dat die advieskomitee oor Covid-19 prakties ontbind word nadat News24 ’n brief, gedateer 21 September, gesien het wat Vrydag aan lede van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 gestuur is.

Prof. Salim Abdool Karim by die Amerikaanse kenner
Prof. Salim Abdool Karim, (medevoorsitter) en die Amerikaanse kenner Dr. Anthony Fauci. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daarin het Mkhize sy “dankbaarheid en waardering” uitgespreek vir die betrokkenheid en toewyding van lede.

Volgens die minister het die adviesraad uitstekende werk gelewer en hy glo dat die nuut aangestelde lede ook waarde tot hierdie groot werk sal toevoeg.

Mkhize het gesê die idee dat die advieskomitee ontbind is omdat hy nie na hul advies wil luister nie, is absoluut onwaar.

Hy het bygevoeg dit is kommerwekkend dat daar die verwagting is dat hy eers ander moet raadpleeg wanneer hy hul deelname beëindig.

“Die Nasionale Gesondheidswet van 2003 bied ’n wetgewende mandaat aan my om advies- en tegniese komitees saam te stel. Ek is by magte om die samestelling, funksies en werksprosedure van die advies- en tegniese komitee te bepaal.”

Mkhize het ook gesê hy mag sy diskresie uitoefen om ’n adviesraad se lede te verminder, te vermeerder, te herkonfigureer, aan te vul of selfs te ontbind. Hy moet ook toesien dat die strukture wat hy vorm, relevant en responsief bly.

Prof. Marian Jacobs
Prof. Marian Jacobs, medevoorsitter van die adviesraad Foto: Sarrah

Mkhize benadruk diegene wat volhard dat die regering nie ag geslaan het op die advies van die komitee nie, is oneerlik en wil die publiek mislei.

“Meer as 95% van die advies deur die adviesraad is aanvaar en geïmplementeer en in die belang van deursigtigheid is die advies digitaal gepubliseer – hoewel daar geen wetlike verpligting daartoe was nie. Waar daar afwyking van die advies was, was dit te wyte aan die feit dat die department en die regering faktore en/of insette van ander belanghebbendes moes oorweeg,” sê hy.

Die versterkte Covid-19-adviesraad bestaan uit biomediese praktisyns, kliniese kundiges, spesialiste in etiek, verpleegsters, sosiale wetenskaplikes, navorsers, en gemeenskapsleiers om advies te gee oor intervensies wat oorweeg moet word tydens die reaksie op die epidemie en om die gedragsverandering wat nodig is om die verspreiding van Covid-19 te verminder, te beïnvloed.

Mkhize sê versterkte adviesraad sal steeds ’n mate van kontinuïteit handhaaf en baie van die kundiges van die oorspronklike adviesraad behou, insluitend die sittende voorsitter proff. Salim Abdool-Karim, Marc Mendelson, Sthembiso Mkhize, Rudo Mathivha en Nombulelo Magula, onder andere.

Volgens Mkhize sien hy die versterkte adviesraad as ’n geleentheid om die vaardighede te diversifiseer om te verseker dat die regering nou geadviseer word oor kwessies wat nie net verband hou met die mediese wetenskap nie, maar ook die sosiale wetenskappe, gedrag en psige van die land.

“Dit is belangrik dat ons relevant bly, aangesien ons probeer om gemeenskappe aan boord te kry en op te voed om die risiko van ’n tweede vlaag te verlaag. Dit vereis kundiges wat goed vertroud is met menslike gedrag. “Bestaande beheermaatreëls en sosiale ruimtes het nou die belangrikste fokuspunt in die nuwe normaal geword. Ons benodig dus kundiges wat op daardie gebiede spesialiseer om die regering oor die voortgesette reaksie te adviseer.”

Die Covid-19-adviesraad

Prof. Salim Abdool-Karim (medevoorsitter) – Epidemioloog: aansteeklike siektes

Prof. Marian Jacobs (medevoorsitter) – Openbare gesondheid

Prof. Nhlanhla Mkhize (adjunkvoorsitter) – Viroloog

Prof. Portia Jordan (adjunkvoorsitter) – Waakeenheidverpleging

Proff. Marc Mendelson, Nombulelo Magula en Jeremy Nel – Spesialiste: aansteeklike siektes

Prof. Rudo Mathivha en dr. Dean Gopolan – Waakeenheidspesialis

Prof. Sithembiso Velaphi – Pediater

Prof. Shaheen Methar – Infeksiebeheerspesialis

Prof. Ian Sanne – Gesondheidsistemespesialis

Prof. Mathilda Mokgatle – Gesondheidsbevordering

Dr. Juliet Pulliam – Wiskundige modelleerder

Prof. Jacqui Miot – Gesondheidsfinansieringspesialis

Prof. Helen Rees – Diagnostiese, terapeutiese en entstof-regulering

Dr. Heidi van Rooyen – Sielkundige (gedragsielkunde)

Dikeledi Tsukudu – Verpleging (aansteeklike siektes)

Prof. Doug Wasserman – Etikus

Dr. Thuthula Balfour – Beroepsgesondheidspesialis


Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Adviesraad  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.