Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19 die slot aan gewilde restaurant se deure
Die Klaushofer-familie saam met die personeel van Adler Cuisine op Kersdag verlede jaar.Foto: Verskaf

Die eienaars van Adler Cuisine het Sondag die deure van dié gewilde Duitse familierestaurant in Pretoria vir altyd agter hulle toegemaak.

Die impak van die wêreldwye Covid-19-pandemie het die Klaushofer-familie voor die besluit gebring om die restaurant ná bykans 30 jaar permanent te sluit.

Sowat 15 heeltydse personeellede is nou werkloos.

Dit is hoe die binnekant van Adler Cuisine gelyk het waar onder meer buffet-etes en teaterproduksies aangebied is.Foto: Verskaf

“Dit is baie hartseer wat die pandemie aan ons gedoen het. Ons het met hierdie laaste restaurant baie moeite ingesit om dit ’n gemaklike en veilige familierestaurant te maak,” sê Vendi Klaushofer.

“Dit was ’n bymekaarkomplek vir die families en vriende wat in die Moot woon. Mense het die herinneringe en foto’s vir ons gestuur oor hoe lekker dit vir hulle daar was.”

Adler Cuisine is ’n familieonderneming wat besit en bestuur word deur Klaushofer, sy vrou, Juanita, en hul seun, Vendi jr.

Klaushofer het in 1980 sy studie aan ’n hotelskool in Salzburg, Oostenryk, voltooi en in 1981 na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het in tophotelle en -restaurante gewerk en Adler Cuisine uiteindelik in 1994 gestig.

Vendi Klaushofer (regs) en sy seun, Vendi jr., was mede-eienaars van Adler Cuisine. Die restaurant is in 1994 oopgemaak.Foto: Verskaf
Adler Cuisine, ’n gewilde Duitse familierestaurant wat in die Rietfontein Pavilion Centre in Pretoria geleë is, het Sondag sy deure permanent gesluit.Foto: Deaan Vivier
Die Covid-19-pandemie het die eienaars van Adler Cuisine gedwing om hul deure finaal toe te maak.Foto: Deaan Vivier

Hierdie Duitse eetplek het oor die jare verskeie tuistes gehad, maar was die laaste drie jaar in die Rietfontein Pavillion Centre geleë.

Weens die nasionale staat van inperking het die restaurant nie die omset gehad wat nodig is om sy deure oop te hou nie. In dié tydperk het hulle ’n omset van R1,5 miljoen verloor.

Adler Cuisine het tot sy laaste dag nog wegneemetes aangebied, maar dit was egter nie volhoubaar vir die restaurant se voortbestaan nie.

Die regulasies waaraan restaurante in die vlak 3-inperking moet voldoen, is ook nie voldoende om die restaurant te red nie.

“Alles werk basies teen ons met die regulasies,” sê Klaushofer.

Suid-Afrikaners kon van Maandag af weer vir maaltye in restaurante aansit.

Van die riglyne vir die heropening van restaurante sluit in dat drank nie daar aan kliënte verkoop mag word nie en geen selfdiens-buffet-etes word toegelaat nie.

Adler Cuisine is ná 26 jaar gesluit.Foto: Deaan Vivier

Adler Cuisine was veral bekend vir sy Duitse kos soos eisbein en schnitzel, buffet-etes met onder meer tuisgemaakte kouevleis, worsies en salami, ingevoerde Duitse bier, asook sy intieme teaterproduksies deur bekende kunstenaars.

“Ons is ’n buffetrestaurant wat groepe bedien en ook aandetes met konserte aanbied. Dit is ’n groot deel van ons onderneming en dit sou ’n duur uitdaging wees om ons hele sakemodel te verander. Daarom het ons geen ander keuse nie as om ons deure permanent te sluit,” sê Klaushofer.

“Die regulasies het gemaak dat ons dít verander waarvoor ons bekend is. Die takeaways het ook nie vir ons gewerk nie, want ons is nie daardie soort restaurant nie.”

Hy verduidelik dit het reeds van middel Maart “baie sleg” gegaan toe restaurante verbied is om alkohol ná 18:00 op weeksdae en Saterdae te verkoop. Op Sondae en vakansiedae was die verkoop van alkohol van 13:00 nie toegelaat nie. Daar mag ook nie meer as 50 mense – kliënte en personeel – op die perseel gewees het nie.

Alles werk basies teen ons met die regulasies.

Nie lank daarna nie het die inperking ingetree en restaurante moes tydelik sluit.

Volgens Klaushofer kon hulle ook geen bystand verkry of ’n ooreenkoms met die eiendomseienaar bereik oor die betaling van die maandelikse huur tydens die inperking nie. Dit het sake vir die familie nog moeiliker gemaak.

Ondanks verskeie aansoeke het hulle ook geen finansiële ondersteuning van die regering of enige departement gekry nie.

“Daar is reeds die agterstand van die huurgeld – dit is net te veel om in te haal en dan moet ons nog ’n wins maak. Ons het besef ons gaan net dieper in die skuld beland as ons oopmaak. As ons toe bly, is ons eintlik in ’n beter posisie,” sê Klaushofer.

In dié stadium lyk die toekoms vir die familie nog vaag. Maar sodra feeste weer toegelaat word, sal hulle hul tuisgemaakte Duitse kouevleis, worsies en salami daar verkoop.

Meer oor:  Adler Cuisine  |  Pretoria  |  Covid-19  |  Sluiting  |  Pandemie  |  Buffetrestaurant  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.