Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19 eis spesialis van Rosestad
Dr. Willem van Tonder (agter) saam met sy vrou, Chrissela, kinders en kleinkinders. Van links is, voor: Christian Meyer, kleinkind, Lelanie Meyer, dogter, Monet Meyer, kleinkind, en dr. Chris van Tonder, seun. Foto: Verskaf

’n Geliefde en gerespekteerde narkotiseur van Bloemfontein het Dinsdagoggend die derde sterfgeval in die Vrystaat aan die gevreesde Covid-19-virussiekte geword.

Dr. Willem van Tonder Foto: Verskaf

Dr. Willem van Tonder (76) se dogter, Lelanie Meyer, het aan Netwerk24 bevestig dat haar pa Dinsdag om 11:45 in die Mediclinic Bloemfontein aan Covid-19 dood is. Hy is een van die eerste geneeshere in die land wat daaraan dood is.

Meyer, ’n apteker van die Universitas- Akademiese Hospitaal, sê haar pa was vir 14 dae in die waakeenheid van dié hospitaal, nadat hy vroeër siek geword het.

Die vermoede is dat ook hy op ’n onlangse kerkbyeenkoms die siekte opgedoen het, sê sy.

“Hy was ook op die kerk-ete op Woensdag 11 Maart waar buitelanders was wat later al vyf positief vir die siekte getoets is.” Die prediker Angus Buchan en sy vrou, Jill, was op die ete en is albei later positief vir die siekte getoets. Buchan was ’n geleentheidspreker.

Die Vrystaatse regering het reeds sowat 1 600 mense getoets wat op 9, 10 en 11 Maart die byeenkomste en gesellighede in die Divine Restoration Church in Bloemfontein bygewoon het.

Meyer sê haar pa was van 1977 af ’n vennoot by Haumann en Vennote, ’n narkotiseurpraktyk in Bloemfontein.

Dr. Willem van Tonder soos mense hom as narkotiseur sal onthou.Foto: Verskaf

Hy het ná sy aftrede ’n praktyk in bewuste sedasie vir verskeie tandartse in Bloemfontein bedryf.

Van Tonder is in Waterval Boven in Mpumalanga gebore en getoë en het aan die Hoër Volkskool in Heidelberg gematrikuleer.

Hy het medies aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en die graad MMed in anestesiologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf.

Hy was nou betrokke by die Narkosevereniging van Suid-Afrika en was ook vir drie dekades die tesourier van die Vrystaattak van dié vereniging.

Hy was baie gelief sê Meyer. ’n Gedenkdiens sal ná die opheffing van die staat van inperking gehou word.

Van Tonder word oorleef deur sy vrou, Chrissela, Meyer en ’n seun, dr. Chris van Tonder, ’n uroloog van Welkom, ’n skoonseun en vier kleinkinders.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het vroeër in ’n verklaring gesê die vyf buitelanders het hul isolasietydperk voltooi en is ten volle genees.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.