Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19 eis vrou voordat man kan groet

Madelein van Wyk, Suid-Afrika se eerste Covid-19-sterfgeval – se man, Tonie, kon nie sy vrou voor haar dood in die hospitaal gaan groet nie omdat hy self onder kwarantyn is.

Madelein van Wyk is die eerste Suid-Afrikaner wat aan die Covid-19-virussiekte dood is.

Die 48-jarige Van Wyk het Vrydag omstreeks 02:20 in die Durbanville Mediclinic in die Kaapse noordelike voorstede gesterf. Sy is dood skaars vier dae nadat sy vir toetse in die hospitaal opgeneem is en slegs ’n week nadat sy begin siek voel het.

Sinenhlanhla Jimoh, woordvoerder van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, het Vrydag in ’n verklaring gesê Van Wyk het ’n pulmonale embolisme (’n blokkering van ’n slagaar in die longe) gehad. Hierdie onderliggende toestand het waarskynlik haar dood verhaas.

Jimoh sê hulle het aanvanklik vermoed dat ’n tweede vrou, van 28, wat Vrydag 03:00 gesterf het, ook Covid-19 onder lede gehad het, gegrond op haar simptome. Laboratoriumtoetsuitslae wat Vrydagmiddag om 17:20 ontvang is, het egter gewys sy het nie die gevreesde siekte onder lede gehad nie.

‘Alles het so vinnig gebeur.’

Van Wyk en Tonie het ’n 24-jarige seun, Ruan.

Van Wyk se enigste suster, Laurinda Ehlers (50), wat in Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek woon, het Vrydagaand gesê haar suster was verlede naweek in die bed met verkoue- en griepsimptome nadat sy die Donderdag begin sleg voel het.

Sy het medisyne gekry, maar dit het nie gehelp nie. Teen Maandag was sy so siek en deurmekaar dat haar familie haar hospitaal toe geneem het.

Ehlers sê haar suster is eers huis toe gestuur sodat ’n isolasiekamer vir haar by die hospitaal voorberei kon word.

Donderdag het dokters haar in ’n geïnduseerde koma geplaas nadat sy begin sukkel het om asem te haal en nie genoeg suurstof kon kry nie.

Later het haar toestand verder versleg en om middernag het Tonie ’n oproep ontvang dat sy sterwend is en hy haar moet kom groet. Hy kon egter nie hospitaal toe gaan nie omdat hy self onder kwarantyn was.

“ ’n Mens dink dit gebeur met ander mense,” sê Ehlers.

Sy sê haar swaer glo dat sy vrou die siekte by een van die wynplase in Tulbagh opgedoen het wat hulle onlangs besoek het.

Ehlers was Vrydagaand by haar ma, Lize Lombaard, in Rustenburg in Noordwes.

“Dit gaan maar sleg. Alles het so vinnig gebeur,” sê sy.

Van Wyk was ’n bestuurder vir ontwikkelende markte by Sanlam.

Ehlers het haar suster beskryf as iemand wat ander se geheime kon hou, altyd ’n oor gehad het om te luister en baie geliefd was.

Jimoh sê daar is teen Vrydag reeds 28 537 mense vir die koronavirus in Suid-Afrika getoets waarvan 1 170 positief is.

Meer oor:  Sterfgeval  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.