Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: ‘Ek kon nie regop in stort staan’
Jeanne Els
Jeanne Els (29), ’n Suid-Afrikaner wat al drie jaar in Luxemburg bly, is positief vir Covid-19 getoets. Fotos: Verskaf

’n Suid-Afrikaner in Luxemburg wat positief vir Covid-19 getoets is, sê mense wat mor oor die staat van inperking, onderskat die onvoorspelbaarheid van dié nuwe koronavirus. Jeanne Els het met Netwerk24 gesels oor hoe die simptome jou kan plattrek.

Sy het aanvanklik gedink die skielike krapperigheid in haar keel en die droë hoesie beteken sy het ’n lelike griep onder lede. Sy het geglo ’n paar dae in die bed sal haar regruk.

Toe Jeanne Els (29) hoofpyne begin ontwikkel, haar koors begin styg en ’n drukking op haar bors begin voel, het sy vermoed sy het dalk die gevreesde SARS-CoV-2 opgetel. Die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

As fikse jong mens het sy egter nie in die “kwesbare” groep geval nie. Sy het haar hande gewas, handreinigers gebruik, fisiese kontak en groot groepe vermy en nêrens heen gereis nie.

“Ek het geen probleme met my immuunsisteem nie en het ook nie ’n geskiedenis van asma of diabetes nie. Ek geniet die buitelug en wanneer die weer dit toelaat, kies ek om te stap eerder as om die bus te vat. Ek en ’n vriendin het verlede jaar ’n gedeelte van die Camino-roete gestap.”

En tog het die virus haar platgetrek.

Els is oorspronklik van Port Elizabeth, maar werk die afgelope drie jaar in Luxemburg as ’n senior lid van ’n eiendomsbeleggingsmaatskappy se finansiële span. Luxemburg het Donderdag meer as 1 000 gevalle van Covid-19 gehad. Agt mense is dood.

Om Suid-Afrikaners te waarsku en bewusmaking oor die siekte te skep, het Els besluit om haar ervaring te deel.

Simptome tot diagnose

Hoewel Els op 12 Maart simptome gehad en dit stelselmatig vererger het, is sy eers op 20 Maart positief getoets.

Sy erken dat sy gefrustreerd was om te probeer uitpluis wie haar kan help.

“Almal stel self-isolasie voor, maar niemand gee oplossings oor watter stap volgende gedoen moet word nie.”

Op 13 Maart het haar hoesbuie en hoofpyne vererger en sy het haar huisdokter gekontak. Die dokter het voorgestel sy moet eerder die regering se afdeling vir gesondheidsinspeksies kontak, omdat dit riskant sou wees om die praktyk te besoek.

Weens ’n toename in gevalle in Luxemburg kon die afdeling haar nie vir die virus toets sonder ’n doktersvoorskrif nie.

Els het ’n app gebruik om ’n dokter naby haar huis op te spoor wat bereid was om haar die middag te spreek. Teen dié tyd het haar simptome vererger, maar sy is met ’n doktersbrief huis toe gestuur.

“Dit het nog soos gewone griep gelyk en omdat ek nie bewus was dat enigiemand waarmee ek kontak gehad het, positief getoets het nie, was daar nie genoeg regverdiging om vir die koronavirus te toets nie,” sê sy.

Haar simptome het die volgende drie dae vererger.

Dit breek my hart, maar daar is ’n donker wolk op pad na Suid-Afrika.

“Ek het kloppende hoofpyne gehad en elke keer dat ek gehoes het, het dit gevoel of my brein deur my skedel bars.”

Op 17 Maart het sy weer die dokter besoek en hoewel sy praktyk net 200 m van haar woonstel af is, het sy uitasem, uitgeput en lighoofdig daar aangekom.

Weens haar hoë koors en swak longvermoë het sy ’n voorskrif gekry om vir Covid-19 getoets te word. Dieselfde aand is sy in ’n ambulans van haar woonstel na die hospitaal geneem toe haar koors verder gestyg het en sy met haar asemhaling gesukkel het.

“Die dokter het gesê die bloedtoetse dui op ’n longinfeksie. Toe my koors onder beheer was en my asemhaling verbeter het, is ek ontslaan, omdat daar niks anders was wat hulle kon doen nie.”

Sy is op 18 Maart vir die virus getoets en het twee dae later haar uitslae ontvang.

“My simptome het deurlopend dieselfde gebly: droë hoes, drukking op die bors, kortasem, koorsaanvalle, uitputting, ligte hoofpyne, lighoofdigheid en probleme met konsentrasie. Ek kan dit skaars deur ’n episode van Gilmore Girls maak.”

‘Niemand verstaan die virus’

“Jy hoop maar dis nie die virus nie en ek was emosioneel toe ek die uitslae ontvang. Maar ek het ook ’n bietjie verlig gevoel, want ek was bitter siek en as dit nié Covid-19 was nie, sou ek my verder bekommer oor wat die simptome veroorsaak,” sê Els.

Hoewel sy nog moeg en seer is, is haar koors gebreek en is sy op die herstelpad. Sy moet in selfisolasie bly tot sy minstens 48 uur lank geen simptome het nie.

Die enigste ander voorgeskrewe behandeling was om parasetamol vir die koors te neem en antibiotika vir bakteriële infeksies.

Sy waarsku dat die virus baie onvoorspelbaar is en dat niemand kan sê hoe erg dit jou sal tref nie.

“Daar is mense wat dit as ’n ligte griep ervaar terwyl daar ander is wat dit nie oorleef nie. Ek het dit vir seker baie erger as griep ervaar en daar is geen verduideliking daarvoor nie.

“Niemand verstaan regtig die virus nie en ek dink nie enigiemand moet dit afskryf as gewone griep nie. As jy ligte simptome ervaar, is jy ongelooflik gelukkig,” sê sy.

Al mag niemand naby haar kom nie, sê Els haar vriende en familie dra haar.

“My vriende gaan koop vir my kos en blomme en laai dit voor die deur af, gaan haal my voorskrifte en medisyne, maak snaakse video’s om my op te beur en hulle maak op vasgestelde tye seker ek is oukei.”

Al is Jeanne Els (29) jonk, fiks en gesond en het sy al die reëls gevolg, het die simptome van Covid-19 haar steeds platgetrek.

Sy verduidelik dat dié vasgestelde tye nodig is, sodat hulle haar noodsleutel kan gebruik as hulle haar nie in die hande kry nie.

“Dis baie sleg om alleen te wees as jy siek is, want as iets sou gebeur, weet jy nie of hulp betyds sal kom nie. Ek was so swak dat ek nie kon regop staan in die stort nie en die duiseligheid kan veroorsaak dat jy omval en seerkry.”

Haar vriende het veral vars vrugte en gekookte etes afgelewer, omdat sy nie krag gehad het om kos te maak nie.

“Persoonlike video’s en video-oproepe help ook baie, want jy voel minder alleen. My ouers, Christo en Elizabeth, het baie tyd aan WhatsApp-oproepe bestee. Soms het ek te siek gevoel om te praat, maar dan vertel hulle ure aaneen vir my stories. Al wat ek moes doen, was luister en ek het berusting daarby gevind om te weet hulle is al die pad saam met my, al is hulle duisende kilometers weg,” sê sy.

Dit was Donderdag 15 dae sedert daai eerste droë hoesie.

“Die dae gaan vir my baie vinnig verby en ek fokus nie goed nie. Ek slaap baie, so dit help eintlik, want ek besef nie hoe alleen ek is nie.

“Ek dink soos wat ek aansterk, sal ek meer alleen begin voel. Ek het gelukkig ook twee katjies wat ek aangeneem het om my geselskap te hou.”

‘Donker wolk op pad na Suid-Afrika’

Daar heers sedert 17 Maart ’n noodtoestand in Luxemburg en Els meen die land was twee weke gelede waar Suid-Afrika nou is.

“Ek dink mense is blind oor wat gaan kom. Daar is mense wat bang is en baie vrae vir my gestuur het oor die virus, maar dit lyk steeds of die meeste nie besef hoe ernstig die situasie is nie.

“Op ’n gewone dag is die hospitale in Suid-Afrika tjok-en-blok vol, nou is daar ’n monstervirus op pad en niemand is voorbereid nie. Die virus versprei soos ’n veldbrand en mense in die informele nedersettings lewe naby aan mekaar en deel ’n toilet met almal in die straat,” sê sy.

Hoewel sy glo die staat van inperking, wat Donderdagaand in Suid-Afrika in werking tree, sal keer dat die virus vinnig versprei, gaan die gevolge daarvan veral klein besighede hard tref.

“Dit breek my hart, maar daar is ’n donker wolk op pad na Suid-Afrika. Ons het ook deur die tydperk van ontkenning gegaan en moes baie vinnig wakker skrik.”

Sy glo die inperking is ’n moeilike, maar nodige besluit en moedig Suid-Afrikaners aan om te verseker dit is nie verniet ingestel nie.

“Die ironie is deur weg te bly van mekaar af, is ons besig om saam teen die virus te veg. Almal moet alles in hul vermoë doen om die virus stadiger te laat versprei.

“As daar minder mense op een slag siek is, kan die medici ’n kans kry om almal te behandel, maar as almal gelyk siek raak, gaan die stelsel knak en sal dokters deur die onmoontlike taak gekonfronteer word om te besluit wie eerste gehelp word.”

Meer oor:  Luxemburg  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.