Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Gauteng wil 100 000 per dag inent

Die Gautengse regering wil van Augustus af 100 000 mense per dag teen Covid-19 inent.

Die provinsie sal dan ’n derde van pres. Cyril Ramaphosa se doelwit van 300 000 inentings per dag behaal.

David Makhura, Gautengse premier. Foto: Verskaf

David Makhura, Gautengse premier, het Vrydag op die provinsie se weeklikse nuuskonferensie gesê dié mikpunt is byna twee keer soveel inentings as wat die provinsie nou toedien. Die getal inentings in die provinsie staan nou op tussen 53 000 en 58 000 per dag.

“Dit is veel meer as wat ons gewoonlik doen, maar ons is toegewyd daartoe om dit te bereik. Ons gaan met die hulp van die godsdiens- en private sektor aansienlik meer sentrums open,” sê Makhura.

Net in Julie tot dusver het die provinsie ’n miljoen inentings teenoor die net meer as 400 000 in Junie toegedien.

Nomsa Mmope, ’n verteenwoordiger van die provinsiale departement van gesondheid, het op die konferensie gesê hulle hoop om binnekort die 2 miljoen-kerf van inentings in die provinsie verby te steek.

Volgens Mmope sal talle inentingsentrums nou ook oor naweke oop wees.

“Jy hoef nie ’n afspraak te hê om oor ’n naweek ingeënt te word nie. Almal kan kom – ons sal julle help,” sê Mmope.

Derde vlaag duur voort

Dr. Mary Kawonga, voorsitter van die Gautengse Covid-19-bevelsraad. Foto: Verskaf

Dr. Mary Kawonga, voorsitter van die provinsie se Covid-19-bevelsraad, het benadruk dat die derde vlaag in die provinsie voortduur, hoewel die piek reeds bereik is.

Die belangrikste aanduider van die vlaag is die positiwiteitskoers. In Gauteng staan dit tans op 26% en die provinsie sal eers uit die gevaarsone beweeg wanneer dit onder 10% daal.

“Ons moet by die maatreëls hou om die afwaartse koers vol te hou,” sê Kawonga.

Prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder van die provinsie se Covid-19-bevelsraad, het gesê hoewel die getal gevalle vinnig afneem, is dit nog nie die geval wat sterftes betref nie.

Kawonga en Mellado het albei benadruk dat die oordrag in gemeenskappe steeds hoog is.

In hierdie stadium is 34 696 aktiewe gevalle en 16 761 kumulatiewe sterftes in die provinsie aangeteken.

Prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder van die Gautengse Covid-19-bevelsraad. Foto: Verskaf

Effek van onluste op die pandemie

Makhura sê hoewel daar in die onluste blootstelling was, wys dit nog nie in die getalle nie.

Daar was kommer toe die daaglikse getal nuwe gevalle tussen Woensdag en Donderdag meer as verdubbel het, maar volgens Makhura en sy span was dit bloot ’n fluktuasie.

Mellado sê egter die effek van die onluste is wel aan die stygings in sommige sub-distrikte gesien, maar dit het reeds gestabiliseer.

Meer oor:  Gauteng  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.