Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Gholf- en biddag skep episentrums in N-Kaap
koronavirus
'n Man met 'n gesigmasker reageer tydens 'n dag van rou in Wuhan, China, waar die virus Ears-CoV-2, wat die gevreesde Covid-19-siekte veroorsaak, die eerste keer uitgebreek het. Foto: Reuters

Die eerste persoon op Upington wat positief vir die koronavirus getoets is, toon geen simptome nie.

Die dokter wat die man getoets het, sê hy is by sy huis in selfisolasie.

Lebogang Majaha, woordvoerder van die departement gesondheid in die Noord-Kaap, het navrae in verband met positiewe gevalle na die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) verwys, nadat die geval op Upington Vrydagaand op WhatsApp-boodskappe rugbaar geword het.

Dr. Caren Louw van Hartswater het Vrydag op haar Facebookblad bekend gemaak dat nog ’n persoon positief getoets is vir die koronavirus in die Vaalharts-omgewing.

In haar plasing sê sy sy het vir ’n tyd lank opgehou om nuwe inligting op haar Facebookblad te deel nadat sy meegedeel is “dat die plaaslike owerhede baie ontsteld is oor my pogings om die publiek op hoogte te hou om so die verspreiding van gerugte en onwaarhede te beperk”.

Louw sê in haar plasing sy wil nie die wet oortree nie. Daarom het sy die Staatskoerant bestudeer en regsadvies ingewin en daarvolgens is dit net onwettig om vals of vertroulike inligting te versprei.

“Ek is nie daaraan skuldig nie. Daarom sal ek aanhou om met julle te kommunikeer totdat ek met ’n hofbevel bedien word (dié moontlikheid is groot), omdat ek glo dat geheimhouding niemand help nie.”

Louw sê in haar plasing die sewende persoon in die Vaalharts-streek is positief getoets.

Dié persoon het ’n gholfdag in Jan Kempdorp bygewoon. 

“Dit beteken dat die Covid-19-uitbreking in ons gemeenskap twee episentrums het: een in Hartswater van die persone wat die (kerk)konferensie in Bloemfontein bygewoon het, en ’n ander in Jan Kempdorp voortspruitend uit die gholf-geleentheid op 21 Maart. Ongelukkig is die tweede groep baie groter,” skryf sy.

Gaan so min moontlik uit

Louw maan inwoners: “Dit is nou meer as ooit tevore van kritieke belang vir ons gemeenskap om te hou by die regulasies van die inperking. Moet asseblief nie u huis verlaat tensy u dit regtig moet doen nie. As u voorrade moet kry, moet u een persoon in u gesin aanwys om dit te doen. Dié persoon moet ’n masker dra, regstreekse kontak met ander vermy terwyl hy buite is, en as u weer tuis kom, trek u klere onmiddellik uit. Hou aparte kledingstukke vir buite die huis en binne die huis.”

Louw raai mense aan om die klere wat hulle buite die huis in openbare plekke gedra het, in warm water te was, vir ’n paar uur in regstreekse sonlig te laat droog word en dan te stryk.

“Hitte is ons beste wapen teen die koronavirus. As u nie ’n masker het nie, maar een van materiaal wil maak, maak seker dat dit verskeie lae het,” sê Louw.

Sy het inwoners ook gevra om aan hul vriende en bure te dink wat blootgestel of verswak is, of alleen woon. Sy sê diegene wat kan, moet aanbied om vir sulke mense kruideniersware of medisyne te gaan koop.

“Laat ons ons harte uitsteek – want ons kan nie ons hande uitsteek nie – en laat ons saam hierdie virus bestry.”

Meer oor:  Upington  |  Hartswater  |  Covid-19  |  Coronavirus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.